Wednesday, July 7, 2010

Getuig en Oortuig


Twee kort woordjies wat baie na aan mekaar klink maar tog met so hemelsbreë verskil.

Getuig is om gewoonlik van iemand anders te getuig, jy lewer ’n getuienis omtrent ’n ander persoon wat jy ken se karakter of oor dit wat hy gedoen het of waarvoor hy staan. Jy kan sleg getuienis lewer oor dit wat jy weet en self ervaar het van die persoon oor wie jy getuig. Jy kan nie iets daaraan toevoeg of weglaat anders is dit nie getuienis nie maar ’n leuen. Getuienis kan baie entoesiasties wees veral as jy moet getuig oor iemand wat ’n baie groot weldaad aan jou gedoen het of baie negatief as die persoon jou baie skade berokken het.

Oortuig is ’n getuienis van jou eie opinie. Om iemand anders oor te haal om jou standpunt of siening te verstaan en te aanvaar. Dit kan gebeur dat so ’n oortuiging op ’n baie vriendelike manier begin maar kan ook gou ontaard in ’n hewige struweling veral wanneer die ander party weier om oortuig te word. Die weiering om oortuig te word kom neer op ’n aanval op jou integriteit en is ’n aanval op jou persoonlike mening en opinie. (en ons weet moes hoe fyngevoelig ons kan wees)

Vir ons as gelowiges is die ontdekking van ons Koning Yahweh se waarhede so fantasties dat ons dit vanaf die dakke wil verkondig. Dit is om soos op ’n kosbare skat af te kom en jy wil vriende bymekaar roep en aan hulle jou geluk meedeel sodat hulle saam met jou kan feesvier en deel in die blydskap.
Veral in hierdie tyd wat die volk besig is om te ontwaak en wat lang verborge Waarhede, wat die slang geslag vir so lank verberg het, weer aan Sy kinders openbaar word.

Dan maak ons so baie kere die fout dat ons begin om te getuig en binne ’n ommesientjie dan begin ons te oortuig. Dis gewoonlik ook net hier waar die probleme begin.

Ai, hoeveel keer het ek nie al self in die slagyster getrap nie en die vreugde wat jy wou deel het op die einde ’n baie bitter smaak in die mond.

Wanneer ons wil oortuig dan spreek ons nie meer van ons Koning nie maar van onsself en dan wil ons ook die eer vir onsself neem wanneer ons iemand anders kon oortuig van ons standpunt. Terwyl die eer na ons Dierbare Heiland toe moes gaan. (die inherente karakter van die mens is selfsugtig en ons hou daarvan as ons iets deur ons eie krag kon bereik want dit laat ons goed voel. Dit is die eenkant daarvan, die ander is omdat ons soms sien dat die persoon nie wil ‘wakker’ word uit die dwaalleer wat al soveel jare aan die volk verkondig word nie. Daar is ’n hartseer omdat hul nie deel in die vreugde wat ons smaak en dat ons weet wat die uiteinde gaan wees van die weg wat hul bewandel.)

Nou hoe gemaak met hierdie groot vreugde wat ons het wat ons graag wil deel met ander om ons?

Getuig, getuig en nogmaals getuig – getuig net van die heerlikheid en genade van ons Meester Yahshua. Getuig van die waarheid wat Vader aan jou openbaar het.
MAAR

Die Heilige Gees sal die oortuig werk doen want dan getuig ons Vader van Homself.

Slegs dan sal die aanvaarding van die getuienis lei tot die deel in die vreugde wat jy ervaar het.

Getuig is nie baseer op die beginsel dat die ander party jou getuienis moet ervaar nie, indien jy hulle dwing om dit te ervaar dan is dit oortuig.

Die belangrikste – ander moet ons Meester Yahshua in jou wandel sien en Hom nie net in jou spraak hoor nie.

No comments: