Wednesday, July 21, 2010

Om Vader Yahweh se Naam te Verydel


Of anders gestel: om Sy naam ydellik te gebruik.

Die eerste gedagte wat by mens opkom is mense wat omtrent nie ‘n sin kan voltooi sonder om die naam van Yahweh of Yahshua ydellik te gebruik nie.
Ons ken die gebruike van die woorde Here, J*sus en G*d – dis die skrille gebruike van die woorde wat voel of iemand ‘n dolk in jou hart steek. Dit sny deur die siel van die ware gelowige kind van Yahweh.

Maar die mens het al baie ‘slimmer’ geraak want hy sien dat mede gelowiges hom skuin aankyk wanneer hy die name van Vader ydellik gebruik en derhalwe het hy die woorde ‘versag’ of hulle verbloem in ander woorde sodat dit nie so kras klink nie. Van die letter in die woorde word vervang sodat dit soos iets anders klink maar die betekenis is dieselfde. Woorde soos j*sum is maar slegs ‘n vervanging van die ‘s’ op die einde met ‘n ‘m’ maar die wese en bedoeling van die woord is presies dieselfde, netso met die woord Jissie.
Daar is ‘n paar ander Engelse woorde wat ook gereeld gebruik word soos ‘blimey’ wat beteken ‘God blind me’ of ‘crikey’ wat beteken ‘Christ kill me’. Pasop waarvoor jy vra, dit mag dalk net aan jou toegestaan word.

As ons kyk na die gebod:
EXO 20:7 : Jy mag die Naam van JaHWeH jou Elohey nie verydel nie, want JaHWeH sal die een wat Sy Naam verydel, nie ongestraf laat bly nie.

Dan sal ons sien die gebod bestaan uit twee gedeeltes naamlik die ydellike gebruik van Sy naam wat verbied word en die tweede gedeelte, die versekering dat die gebruik nie ongestraf sal bly nie.

Wanneer ons die gebod fyn ontleed sal ons opmerk dit behels nie net die ydellike uitspreek van Sy naam nie maar dit beteken ook om Yahweh self nie te verydel nie, met ander woorde ook die misbruik van enige iets waardeur Vader Hom bekend maak aan Sy kinders of openbaar maak aan die wêreld.

MAL 1:6 : 'n Seun eer sy vader, en 'n slaaf sy eienaar. As Ek dan 'n Vader is, waar is My Eer? En as Ek die Meester is, waar is die Vrees vir My? sê JaHWeH van die skeppings-leërmag aan julle, o priesters, wat My Naam verag! Maar julle sê: Waardeur het ons U Naam verag?

MAL 1:7 : Julle bring besoedelde Brood na My altaar, en dan vra julle: Waardeur het ons U besoedel? Deurdat julle sê: Die tafel van JaHWeH is veragtelik.

MAL 1:8 : En as julle 'n blinde [dier] nader bring om te slag, is dit nie besoedel nie! En as julle 'n lam of 'n siek dier bring, is dit nie besoedel nie! Bring haar tog nader vir jou goewerneur! Sal hy 'n welgevalle aan jou hê of jou goedgesind wees? sê JaHWeH van die skeppings-leërmag.

Lev 20:3 En Ek sal my aangesig teen dié man rig en sal hom uitroei onder sy volk uit; want hy het van sy kinders aan Molog gegee om my heiligdom te verontreinig en my heilige Naam te ontheilig.
LEV 19:12 : En julle mag nie vals sweer by My Naam en so die Naam van jou Elohey besoedel nie. Ek - JaHWeH.

Dit is nie net ‘n kwessie van vloek en Vader se Naam ydellik te gebruik in alledaagse gesprekke nie. Ons mag ook nie vir iemand sê, “God bless you’ of ‘Bless you’ wanneer iemand nies nie. Daardeur gebruik ons ook Sy Naam ydellik. Maar die ydellike gebruik van Sy Naam is nie net beperk tot spraak nie. Maar ook tot ons optrede, ons doen en late.

Die eerste vier gebooie handel oor hoe ons Yahweh moet dien en die derde gebod verbied nie net die verydeling van Sy Naam nie maar impliseer ook dat ons Vader moet eer en verheerlik.
Die derde gebod is gemik op die hart en die tong. Die hart is waaruit al die gedagtes en handelinge van die mens ontstaan en dit vloei oor in woorde of optrede. Indien ons hart nie op ons Meester gerig is nie dan sal ons woorde daarvan spreek en sal ons Sy Naam ydellik gebruik. Ons moet onthou van die spreukwoord wat sê “Waarvan die hart van vol is, loop die mond van oor.”

Mat 12:34 Addergeslag, hoe kan julle goeie dinge praat terwyl julle sleg is? Want uit die oorvloed van die hart praat die mond.

Mat 12:35 Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart goeie dinge te voorskyn, en die slegte mens bring uit die slegte skat slegte dinge te voorskyn.

Mat 12:36 Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag.

Mat 12:37 Want uit jou woorde sal jy geregverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word.

Wanneer die gebod streng toegepas word in die hart dan sal die mond ook nie oortree om Sy Naam ydellik te gebruik nie. Ons word ook daardeur gewaarsku dat ons Yahweh se Naam op geen ander manier mag gebruik as op die regte manier nie.

Dit is nie net ‘n kwessie van om Vader se Naam ydellik te gebruik in gesprek nie, daar is ‘n paar maniere waarop ons Yahweh se Naam kan verydel en gereeld verydel.

Kom ons kyk na slegs ‘n paar van die maniere hoe mens Sy naam kan verydel.

Die eerste manier is wanneer ons Vader Yahweh se Naam belei voor die mense maar ons lewe nie ooreenkomstig ons getuienis nie. Dan is ons ‘n geveinsde. Thomas Watson het ‘n baie waar woord gespreek toe hy gesê het “Pretended holiness is merely double wickedness.” – “ ‘n Skyn van heiligheid is slegs dubbele onheiligheid.” Wanneer ons nie lewe volgens die geloof nie dan verydel ons die naam van Vader. Ons is ‘n spieël waarvan die spieëlbeeld bedrog en valsheid is en die lig van heilgheid is nie te vinde in ons nie.

Tweedens, wanneer ons Yahweh se Naam ligtelik in gesprek gebruik soos om ‘n grappie te vertel met J*sus of G*d daarin. Yahweh moet deur ons geeër word en kan nie mee ligtelik en grappender wys mee omgegaan word in alledaagse gesprekke nie.
Derdens, wanneer ons Vader dien slegs met ons lippe en nie met ons hele hart nie. Ons lees die Woord en belei ons sondes om slegs daarvan op te staan en weer te gaan sondig. Ons het nie ons hart bekeer tot Yahweh nie. Ons sit net in die gemeente vir die skyn, om maar slegs deur die mense gesien te word. Maar ons hart is steeds van klip en daar is geen berou van ons sondes nie. Daardeur bespot ons die reddende genade van die Almagtige en verydel ons Sy Naam.

Vierdens, wanneer ons bid en nie glo dat Vader ons gebede sal verhoor nie. Ons twyfel nog voordat ons gevra het. Vader sê tog vir ons uitdruklik dat Hy vir ons sal voorsien wanneer ons enige iets vra in die Naam van ons Verlosser, Yahshua. Maar wat doen die mens, hy glo nie, daarom ontvang hy nie. Ons is soos iemand wat in ‘n spieël kyk na homself en omdraai en onmiddelik sy eie gesig vergeet. Daar is nie ‘n besef dat die mens bid tot die Almagtige wat sit op die Troon van ewige geregtigheid nie. Indien ons twyfel wanneer ons bid dan verydel ons Sy Naam.

Vyfdens, wanneer ons Sy Woord oneerbiedig gebruik of misbruik dan verydel ons Sy Naam. Vader Yahweh se Naam is ineen verweef in Sy Woord en wanneer ons verse aanhaal uit konteks of verse kwoteer wat nie presies korrek is nie dan verydel ons wat Hy gesê het in Sy Woord (die Bybel).
Dink maar vir uself hoeveel keer het ons verse aangehaal uit die Skrif wat nie heeltemal korrek is nie, dan besef ons weereens hoe ons die derde gebod oortree.

Sesdens, wanneer ons ‘n belofte gemaak het en die belofte verbreek dan verydel ons ook Sy Naam. Ons ja moet ons ja wees en ons nee ons nee. Ons mag nie vals sweer nie, inteendeel mag ons glad nie sweer nie, nie by die hemele nie want dit is die troon van Elohim ook nie by die aarde nie want dit is die voetbank van Sy voete, nie op ons eie lewe nie want selfs dit behoort aan die Almagtige. Die Fariseers het probeer sweer by enige iets anders behalwe by Yahweh sodat hulle steeds ‘n agterdeur het om los te kom uit die eed. So wanneer ons ‘n belofte maak aan mekaar of aan Yahweh laat ons ons beloftes betaal ander verydel ons Sy Heilige Naam.

Sewende, wanneer ons Vader se Naam koppel aan enige onheilige aksie dan verydel ons Sy Naam. Om byvoorbeeld ‘n ongelowige te doop of op die verkeerde manier te doop. Die sondaar het geen reg om gedoop te word nie, die doop is ‘n bevestiging van die bekering. Ons mag slegs iemand doop in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees, enige iets anders dan verydel ons Sy Naam.

Agste, wanneer ons rebelleer teen die weg waarop Hy ons lei. Hoeveel keer kla en murmureer ons nie teenoor Yahweh dat die pad waarop Hy ons lei swaar en moeilik is nie. Die omstandighede en probleme wat oor ons pad gekom het is te swaar vir ons om te dra. Ons vergeet so maklik die beloftes van Vader, dat Hy nie sal toelaat dat ons bo ons kragte versoek sal word nie. Ons sien nie kans vir die suiwering wat op ons pad gestuur is nie. Daardeur verydel ons die Naam van Vader omdat ons geloof in Hom te min is.

Negende, wanneer ons Yahweh wil afpers. Ons wil met Vader in ‘n ‘ruilhandel’ betrokke raak. Wanneer Vader ons verlos van hierdie en daardie probleem of die een en ander vir my ons gee dan belowe ons dat ek dit en dat vir Hom sal doen. Elohim is Almagtig en Hy weet wat jy nodig het, miskien ‘n ietsie ekstra om jou te help om die las te dra of ‘n bietjie swaarkry om die hoogmoed in jou te breek. Vertrou op Hom, Hy weet wat goed en heilig is vir jou.

Laastens, om Vader se tydlyne te probeer verskuif. In die dae waarin ons is sien ons uit na die koms van ons Verlosser Yahshua op die wolke. Mense haal aan uit die Skrif van hierdie en daardie moet nou gebeur. Hul probeer die profesieë ryp druk. Vader het Sy tyd vir alles bepaal en indien Hy Sy genade tyd nog so bietjie uitstel om steeds vir die verlore siele kans te gee om hul te bekeer tot Hom, moet ons nie saam met die engele juig oor elke verlore siel wat gewen word vir die Koninkryk nie. Nee, ons is moeg vir alles, ons wil hê Hy moet nou kom. Ons gaan nie akkoord met Sy groot genade wat Hy verleen nie, dan verydel ons ook Sy Naam want ons wil nie toelaat dat Sy wil geskied nie maar ons wil hê dat ons wil geskied.

Hierdie is maar slegs ‘n paar voorbeelde van hoe ons almal die gebod oortree sonder dat ons dit elke dag besef. Ons gaan te ligtelik om met die gebooie en besef nie elke dag die totale omvang en die betekenis daarvan nie en maak onsself onbewustelik skuldige aan die oorteding van die Wet.

Almagtige Vader laat vandag U lig in ons skyn, laat U Gees van Heerlikheid ons deursoek, al moet ons lei. Ons is skuldig voor U en staan aangeklaag deur U wet. Dankie vir U wonderlike genade en vergifnis. Spreek ons vandag vry van dit wat verborge is, die sonde wat verkleef is in ons siel. Openbaar ons oortredinge aan die Lig dat ons dit mag belei en laat staan. Oordek ons deur die heelikheid van U genade en vergiffenis.
Amein

My Gebed:
PS 86:11 : Leer My, JaHWeH, U Weg: Ek sal in U Waarheid wandel; verenig My Hart tot die Vrees van U Naam.

Sy Belofte:
Sef 3:13 Die oorblyfsel van Israel sal geen onreg doen en geen leuentaal spreek nie, en in hulle mond sal geen bedrieglike tong gevind word nie; maar hulle sal wei en neerlê, en niemand sal hulle verskrik nie.

No comments: