Tuesday, June 29, 2010

Nuut Versus Oud


Teen die tyd weet almal seker al hoe ek voel oor die Sabbat en die Heilige Feesdae van Vader. Die Sabbat is vir my ’n dag van heerlike rus en ek is so bevoorreg dat Hy die dag spesiaal vir ons gemaak het.
Die Heilige feesdae is soos ’n oase in die woestyn van die lewe. Met elke feesdag is daar opnuut ’n boodskap van redding en belofte.

Maar saam met die vreugde en heerlikheid van die dae is daar ook die hartseer van die verwerping omdat mens graag wil doen wat Vader vir ons voorskryf in Sy Woord.

Gaan kyk so bietjie self hoeveel weerstand is daar wanneer jy die Sabbat vier op die Saterdag soos dit veronderstel is om te wees. Of verwerp Kersfees en Paasfees omdat dit afgods verering is, dan moet jy sien hoe word jy uitgewerp in die ‘buitenste duisternis’ deur vriende en familie.
Maar daar is ’n klein geheimpie wat elkeen moet weet – die verwerping is nie in die ‘buitenste duisternis’ nie maar binne die arms van my Geliefde Koning Yahshua wat my vasdruk teen Sy bors en my vertroos.

Mense dink baie keer dis iets heel nuuts om te leer oor die Sabbat, die feesdae, kersfees en paasfees maar die week terwyl ek so bietjie loer op een van die forums kom ek af op wat een persoon gesê het en dit was absoluut treffend.

“Terloops ... die leerskool van God gaan nie oor nuwe dinge aanleer nie, maar gaan meer oor dinge AFLEER ... die dag toe ek DIT gesnap het, het oorweldigende dinge skielik verstaanbaar geword!”

Hoeveel waarheid is daar nie opgesluit in die stelling nie. Die Israeliete het rondgeswerf in die woestyn nie om nuwe dinge aan te leer nie maar die afgods gewoontes af te leer en terug te keer na die ou weë van die vaders, om die wil van Vader weer te leer ken.

Die Sondag aanbidding was nie van die begin af daar nie, daar is die Sabbat onderhouding wat vir ons in die tiende gebooie reeds beskryf word. Kersfees was ’n instelling wat glad nie in die vroeë gemeentes onderhou is nie. Paasfees is ingestel om die Pasga van Vader te vervang en Astarte te vereer.

Dit het tyd geword dat ons die heidense gewoontes moet AFLEER en terugkeer na wat Vader vir ons in Sy Woord beskryf.

Moet nie jou laat mislei deur die vals leringe van predikante en leuenaars nie, gaan terug na die Woord van Vader dat Hy self jou kan onderrig deur die Heilige Gees.
Dit is nie ‘rocket science’ nie dis net ’n kwessie van glo.
Opregte kinderlike geloof.

No comments: