Tuesday, June 22, 2010

Die 99 Klub


Eendag lank, lank gelede was daar ’n koning wat ten spyte van sy luukse lewenswyse nooit gelukkig of tevrede was nie.

Een dag kom die koning een van sy onderdane tee wat vrolik gesing het terwyl hy/sy werk verrig. Dit het die koning vreeslik gefassineer. Hoekom was hy, die opper heerser van die koninkryk so ongelukkig en mismoedig, terwyl die eenvoudige dienskneg soveel vreugde en geluk ervaar?

Die koning vra toe vir die dienskneg, “Hoekom is jy so vrolik?”

Die man antwoord, “U majesteit, ek is maar ‘’n eenvoudige dienskneg maar ek en my gesin het nie veel nodig nie – net ’n dak oor ons koppe, ’n lekker bed om in te slaap en lekker warm kos om ons magies mee te vul.”

Die koning was glad nie tevrede met die antwoord nie, want dit was te eenvoudig. Later die dag gaan soek hy die advies van sy betroubaarste adviseur.

Nadat hy die koning se klagte en betoog asook die dienskneg se antwoord op die koning se vraag aangehoor het, antwoord die adviseur hom, U majesteit, ek glo nie die dienskneg is al deel gemaak van die 99 Klub nie.”

“Die 99 Klub? en wat presies is dit?” vra die koning.

Die raadgewer antwoord, “U majesteit, om regtig die beginsel van die 99Klub te verstaan, plaas 99 goue munte in ’n sak en los dit op die drumpel van die dienskneg se huisie.”

Toe die dienskneg die sakkie sien, tel hy dit op en neem dit in die huis in. Toe hy die sakkie oopmaak, gil hy van opgewondenheid ..... so baie goue munte!

Hy begin toe die goue munte te tel. Nadat hy dit ’n hele paar keer oorgetel het, was hy oortuig dat daar net 99 goue munte in die sakkie is. Hy wonder toe by homself, “Wat kon gebeur het met daardie laaste goue munt? Sekerlik sal niemand 99 munte in ’n sak los nie, dit behoort afgerond te wees tot 100 munte.”

Hy het oral gesoek of die 1 munt nie dalk iewers uitgeval het nie, maar die 1 munt het hom bly ontwyk. Moeg en uitgeput van die soektog besluit hy dat hy net harder sal moet werk as ooit tevore om die 1 goue munt te kry sodat sy versameling volledig sal wees.

Van daardie dag af het die dienskneg se lewe verander. Hy was oorwerk, gedurig moeg, knorrig en het voortdurend met sy familie baklei omdat hulle hom nie help werk om die 100 ste goue munt te verdien nie.. Hy het heeltemal opgehou om te sing terwyl hy werk.

Die koning was totaal verbaas oor die transformasie wat die dienskneg ondergaan het, waarvan hy ’n getuie was. Hy nader toe weer sy getroue adviseur om aan hom te verklaar wat hier gebeur met die dienskneg. “U majesteit, die dienskneg het nou amptelik by die 99 Klub aangesluit.”

Hy gaan voort, “Die 99 Klub is ’n naam wat aan mense gegee word wat genoeg het om mee gelukkig te wees maar nooit tevrede is nie, want hulle soek en streef altyd na daardie 1 ekstra een terwyl hul hulself wysmaak: “Laat ek nog net daardie laaste ding in die hande kry, dan sal ek vir die res van my lewe gelukkig wees, maar na die laaste is daar nog ’n volgende en nog ’n volgende laaste.”

Ons kan baie gelukkig wees met bitter min in ons lewens, maar die oomblik wat aan ons iets groters en beters gegee word dan wil ons nog meer hê! Ons verloor slaap daaroor, ons geluk, ons maak mense rondom ons seer, alles ter wille van ons eie behoeftes en begeertes.

Is dit regtig die moeite werd om lid te word van Die 99 Klub ? ? ?

Is die prys wat ons betaal, die moeite werd ? ? ?

No comments: