Thursday, June 24, 2010

Die Getroue Waghond


Daar is ’n legende van die vrou wat ’n baie getroue hond gehad het. Die hond was so betroubaar dat die vrou haar jonge baba by die hond kon los terwyl sy uitgegaan het om aandag te skenk aan ander sake. Sy het elke keer teruggekeer na ’n baba wat vas aan die slaap is en die getroue hond wat die baba oppas soos ’n kosbare kleinood.

Maar eendag, het iets baie tragies gebeur.

Die vrou het soos gewoonlik die baba in die ‘versorging’ gelaat van die betroubare hond terwyl sy gou uitgegaan het om ’n paar noodsaaklike goedjies te gaan koop by die mark. Met haar terugkeer tref sy ’n ontstellende toneel aan. Die klein huisie was in totale chaos.

Die baba se wiegie was aan stukke gebreek. Sy kleurtjies en beddegoedjies aan flarde geskeur met bloedvlekke oral op die vloer en teen die muur van die vertrek waar sy die baba en die hond gelos het. Geskok, het die hartverskeurende vrou begin om na haar baba te soek.

Op daardie oomblik kom die getroue waghond uitgekruip onder die bed. Die hond was vol bloed gewees en het sy bek afgelek asof hy sopas ’n heerlike maaltyd geniet het. Die vrou, buite haarself van waansin, het aangeneem dat die hond haar baba verslind het. Sonder om veel daaraan te dink gryp sy ’n yster van die vuurherd en slaan die hond daarmee dood.

Maar terwyl sy besig is om te soek na enige ‘oorblyfsels’ van haar baba, ontdek sy ’n ander toneel.

Naby aan die bed, in die hoek van die vertrek, lê haar op die kaal vloer baba ongeskonde. Terwyl daar onder die bed die karkas van ’n wolf lê wat aan stukke geskeur is. Dit moes ’n verwoede geveg gewees het tussen die wolf en die hond, wat nou dood is.

Die realiteit van die situasie tref die vrou, wat nou eers begin te besef wat werklik plaasgevind het in haar afwesigheid. Die hond het geveg om die baba se lewe te beskerm teen die aanval van die verwoede wolf. Maar dit was nou te laat om spyt te wees oor haar ongeduld, woede en wantroue, haar getroue waghond was klaar dood.

Vraag: Hoe baie kere het ons nie al mense verkeerd geoordeel en hulle aan stukke geskeur met harde en ongenaakbare woorde voordat ons die situasie behoorlik geëvalueer het nie? Ons is so vinnig om afleidings te maak voordat ons oor al die feite beskik.
’n Klein bietjie geduld en seker maak kan drastiese lewenslange foute verminder.

No comments: