Wednesday, April 9, 2008

‘n Nuwe Begin


Van: Jesus Christus
Aan: My

Watter vreugde is dit nie vir My om by jou te wees nie!
Dit is goed dat ons bymekaar is.
Ek ken daardie afgetrokke uitdrukking, wat beteken dat jy ver van My is.
En as jy dan in My oë kyk en Ek sien weer die warm vuur wat in jou brand vir My en elkeen wat Ek liefhet, dan juig Ek omdat jy weet dat niks ons kan skei nie.
Ek sing as jou oë oor die landskap heengly. En Ek glimlag as Ek sien hoe jy die taak wat Ek vir jou gegee het, afhandel.
Dit maak My bly as jy eerbied het vir die mense wat jy ken en as jy die leiding van My Gees volg in jou verhouding met elke ander mens.
Jou nederigheid voor My skepping, die respek waarmee jy opkyk na die hemel wat Ek en die Vader geskape het, die feit dat jy oral vashou aan My waarheid, jou soeke na suiwerheid en jou gehoorsaamheid aan My Woord maak jou vir My oneindig kosbaar.
As jy jouself vergeet en jouself vir My gee daar tussen die armes, die verdruktes, die wat misbruik word, die blindes en onverskilliges, die wat verlore en bitter is, dan stort Ek trane van dankbaarheid.
Dit is goed dat ons bymekaar is en Ek vind soveel vreugde in jou.

Vra jy My oor jou sondes?
Hoor Ek jou pleit oor tye van ontrouheid?
Fluister jy vir My van jou dislojaliteit en die konflikte in jou lewe?
Moenie van My af wegvlug nie.
As jy jouself in die steek laat, moenie vir My ook in die steek laat nie.
Jou bedrog en gemeentheid, jou kleinlikheid is alles vir My geleenthede.
Ek gryp elkeen gretig aan elke keer as jy die waarheid erken.
Dan weet Ek dat jy weer na My sal keer, dat ‘n nuwe begin moontlik geword het. Dan word die vertroue in My liefde vernuwe en opnuut bevestig.
En as dit dan nie gebeur nie, wag Ek met vaste hoop op die volgende geleentheid.

Besef jy nie dat daar niks is wat jy kan doen om My liefde vir jou te verander nie?
Ek sien die skaduwees en die lig.
Ek het gesien dat jy in’n wildernis van selfvernietiging beland, dat jy meer en meer in jouself gekeer geraak het,
Ek het gesien hoe jy jou skuld altyd deur ophoop – jou skuld en ook jou opstand.
Jy het gedink dat jy almal – selfs vir My – uit jou lewe verdryf het.
Weet jy dan nie dat jy My nie kan laat ophou om jou lief te hê nie?
My hart is so seer vir jou!

Sal jy nou na My luister?
Ek het saam met jou in jou wêreld van selfvernietiging ingegaan en Ek het jou nog meer lief as ooit tevore.
My liefde is standhoudend en verander nie.
Jy is altyd meer vir My as dit wat jy sê of doen of hoe jy voorkom.
Vir My is jy altyd jy.
Die self wat Ek liefhet en altyd sal liefhê behoort nie aan jou nie, daarom kan jy nie daarvan maak wat jy wil nie.
n Liefde wat ophou is beslis nie My liefde nie.
Jy behoort aan My en aan niemand anders nie en Ek sal jou nooit laat gaan nie.
Ek is in jou sodat jou vreugde volkome kan wees”.

Maak tyd vir ‘n Nuwe Begin!.

Dankie Jesus dat U vir my omgee.

Geskryf deur Dr. Joseph P. Bishop, ‘n Nuwe begin.

No comments: