Tuesday, March 5, 2013

Die Blinde Seuntjie




‘n Blinde seuntjie sit op die trappie van die groot gebou met sy hoed by sy voete. Hy het ‘n karton baniertjie waarop geskryf staan: “Ek is blind, help asseblief.”
Daar was slegs ‘n paar muntstukkies in sy hoed

‘n Man het by die seun verby gestap. Hy het so oomblik stil gestaan en ‘n paar munte uit sy sak gehaal en in die hoed gegooi.
Hy neem toe die karton baniertjie by die seuntjie en skryf ‘n paar woorde agterop die karton. Hy plaas die baniertjie terug in die seuntjie se hande met die kant wat die nuwe woorde wat hy geskryf het toon aan die verbygangers.

Kort voor lank begin sy hoed sommer vinnig vol raak. Baie meer mense het nou geld vir die seuntjie gegee.

Daardie middag kom die man wat sy teken herskryf het terug om te sien hoe dit nou gaan met die seuntjie. Die seuntjie herken die man se voetstappe en vra aan hom,

“Was jy die man wat vanoggend my banier herskryf het?”

“”wat het jy op my banier geskryf?”

Die man antwoord, “Ek het slegs die waarheid geskryf. Ek het presies gesê wat jy gesê het, maar slegs op ‘n ander manier.”

Wat hy geskryf het, was: “Vandag is ‘n pragtige dag en ek kan dit nie sien nie.”

Dink jy die eerste en die tweede banier het dieselfde gesê?

Natuurlike het beide tekens gesê die seuntjie is blind. Maar die eerste teken het eenvoudig gesê die seun is blind. Die tweede teken het mense vertel dat hulle gelukkig kan wees hulle is nie blind nie.

Soms is dit slegs ‘n kwessie van hoe ons na ‘n saak kyk, van weerskante af.

Die mooiste is om iemand te sien glimlag!

en nog mooier, is om te weet jy is die rede daarvoor !

Monday, February 18, 2013

Wanneer ons die Waarheid Weet




Die trein begin stadig in beweging kom. Die trein is gepak met mense van alle ouderdomme maar hoofsaaklik werkende mans en vrouens en jong universiteit studente. By die venster sit ‘n ou man met sy dertig jarige seun.

Soos wat die trein beweeg is die seun oorstelp van vreugde deur die pragtige landskap wat hy deur die trein venster waarneem.

“Sien pa, die prentjie van die rye bome wat in die vêrte wegraak soos wat ons al vinniger beweeg, dit is te mooi.”

Die optrede van die dertig jarige seun laat die ander passasiers op die trein effens kriewelrig voel. Al die passasiers is druk besig om saggies die optrede van die seun met mekaar te bespreek en spekuleer wat fout is met hom.

“Die mannetjie lyk of hy ‘n paar varkies kwyt is,” fluister die jong man aan sy vrou.

Skielik begin dit te reën. Reën druppels val op die passasiers deur die oop venster. Die dertig jarige seun is vreeslik opgewonde en sê, “Kyk pa hoe wonderlik is die reën ...”

Die vrou, van die jong man wat beweer het dat hy ‘n paar varkies kwyt is, begin baie geïrriteer te word deur die paar druppels wat op haar val. Sy het ‘n nuwe snyers pakkie aan en die reën druppels is besig om dit te ruïneer.

Sy snou die ou man toe, “Kan julle nie sien dit reën nie, maar die venster toe en as jou seun nie wel voel nie vat hom dokter toe dat hy kan kyk wat fout is met hom want hy het beslis ‘n skroef of twee los.”

Die ou man aarsel eers ‘n oomblik en toe in ‘n lae stemtoon antwoord hy, “ Ons kom nou net van die dokter af. My seun is vanoggend ontslaan uit die hospitaal. Hy was blind van geboorte af en het sy sig eers ‘n paar dae gelede teruggekry na die operasie. Reën en die natuur is nuut in sy oë. Vergewe ons asseblief indien ons u enige ongerief aangedoen het.”

Sekere dinge wat ons sien mag vir ons reg lyk, volgens ons perspektief, totdat ons die waarheid te wete kom. Wanneer ons die waarheid leer ken, kan ons reaksie op “ons waarheid” selfs ons seermaak.
Probeer eers die probleem te verstaan voordat jy oorhaastig optree.

Wednesday, February 13, 2013

Trots op Prestasies




Om trots te wees op mens se prestasies verteenwoordig nie hoogmoed nie. Dit verteenwoordig blydskap in nederigheid.
“Die kwaliteit van die werk en die kwaliteit van die werker is onlosmaaklik deel van mekaar.”
“Half-hartige pogings produseer nie halwe resultate nie; dit produseer geen resultate nie.”

Drie mense was besig om steen messelwerk te doen. ‘n Verbyganger vra aan hulle wat is hulle besig om te doen.

Die eerste een antwoord:
“Kan jy nie sien ek is besig om geld te verdien om aan die lewe te bly nie?”

Die tweede een antwoord:
“Kan jy nie sien ek is besig om steen messelwerk te doen nie?”

Die derde een antwoord:
“Ek is besig om ‘n pragtige monument te bou.”

Hier is drie mense wat presies dieselfde werk doen maar totaal verskillende perspektiewe handhaaf oor dit wat hulle doen. Hulle al drie het drie verskillende benaderings ten opsigte van die werk wat hulle doen.
En sal hul benadering tot hul werk hul prestasie beïnvloed?
Die antwoord is ‘n baie besliste – Ja.

Uitnemendheid word eers bereik wanneer die ondernemer trots is om slegs sy beste te lewer. Elke taak is ‘n self-beeld van die persoon wat die werk doen, ongeag wat die taak is, hetsy dit motor was is, om die vloer te vee of om die huis te verf.

Doen dit reg die eerste keer, elke keer. Die beste versekering vir môre is ‘n werk goed gedoen vandag.

Michelangelo het ‘n lang tyd aan ‘n standbeeld gewerk. Hy het geweldig baie tyd spandeer om elke klein detailtjie weer oor te gaan en te verseker dat dit is soos hy dit wil hê. ‘n Omstander het gedink die klein veranderinkies is onbenullig en het vir Michelangelo gevra hoekom hy sy tyd daarmee mors.
Michelangelo het geantwoord:
“Kleinigheid maak dit perfek en perfek is nie ‘n kleinigheid nie.”

Die meeste mense vergeet hoe vinnig jy ‘n taak verrig het, maar hulle onthou hoe goed jy die taak verrig het.

Friday, February 8, 2013

Ander se Wasgoed





‘n Jong getroude paartjie het in ‘n nuwe woonbuurt ingetrek. Die eerste oggend terwyl hulle ontbyt eet sien die jong vroutjie die buurvrou terwyl sy haar wasgoed buite ophang.

“Daardie wasgoed is nie baie skoon nie,” sê sy aan haar man. “Die buurvrou weet nie hoe om wasgoed behoorlik te was nie. Miskien moet sy oorskakel na ‘n ander waspoeier toe.”

Haar man het opgekyk na die buurvrou se wasgoed, maar het nie ‘n woord gesê nie.

Elke keer wanneer die buurvrou haar wasgoed op die draad hang het die jong vroutjie dieselfde opmerkings oor die toestand van die wasgoed.

Ongeveer ‘n maand later was die jong vroutjie die een oggend uiters verbaas om silwer skoon wasgoed op die buurvrou se wasgoeddraad te sien, “Kyk! Sy het geleer hoe om haar wasgoed behoorlik te was. Ek wonder wie het haar bietjie touwys kom maak?”

Haar man antwoord toe, “Ek het vanoggend bietjie vroeër opgestaan en ons vensters skoongemaak!”

Dit is soms ‘n goeie idee om eers te kyk of jou vensters skoon is want wat ons sien terwyl ons na ander kyk hang grootliks af van die vlekkeloosheid van ons eie vensters waardeur ons kyk.

Voordat ons kritiek lewer is dit ‘n goeie idee om onsself eers af te vra of ons in staat is om eerder die goeie te sien eerder as die slegte in mense met wie ons verkeer.

Monday, February 4, 2013

Trooskombersie





Vriendskap is soos die natuur.  
Soms waai ons by mekaar verby sonder om te stop en te vra hoekom die ander so verkreukeld lyk.
Die lewe se wind dra ons weg met ‘n oppervlakkige -  “Goed dankie” en
 “Sien jou later”.

Soms sien ons eers baie later die rypskade aan die ander se brose binneste en wonder ons hoekom het ons nie lankal gevra nie.

Soms sien ons net die lentekleur raak  op ‘n gesig en is ons nie eers bewus
van die wurm wat aan sy/haar binneste vreet nie.

Soms wonder ons of dit net die wind is wat hom/haar wegbuig van ons af en of dit dalk die stingeltjie self is wat sy stokstywe ruggie op jou draai.
Pluk iemand ons vir ‘n ruiker uit YaHWeH se tuin, wriemel ons weg van mekaar.

Roos se dorings steek te seer en papawer wil MOS langs niemand wees nie!
Koringblommetjie kruip weg van skaamte oor haar kartelhoede en Hibuskus
wonder of almal weet van haar verlede.

Intussen vergeet ons dat YaHWeH afkyk op Sy tuin en net pragtige blomme sien.
Almal is ewe mooi, ewe kosbaar, ewe goed in Sy oë.

Vergewe my daarom as ek by jou verbygewaai het op ‘n herfsoggend en
nie jou hand gevat het in die sonlig nie.

Vergewe my as ek op ‘n wintersoggend nie vir jou ‘n trooskombersie van
woorde wou oorgooi teen die rypskade nie.

Vergewe my as ek op ‘n lente-oggend selfsugtig met my eie nuwe blare loop en spog het en nie die kneusplekkies aan jou stingeltjie gesien het nie.

Vergewe my as ek op ‘n warm somersdag nie vir jou ‘n tydjie gemaak het nie,
omdat ek te besig was, selfs te veel gekla het, te haastig was om aan jou die koelte van my vriendskap te bied.

Ek vra verskoning…

weet asseblief dat ek daar is en wil wees vir jou!

Wednesday, January 30, 2013

As U sou sê…




As U sê dat ek moet gaan,
al is dit ook so vêr soos tot daar by die maan,
dan sal ek gaan
al wis ek soms dat ek U nie so mooi kan verstaan.

Al sê U soms- neem op jóú, vir jou naaste, nou die blaam,
ja, vir 'n fout deur hom begaan,
dan neem ek sonder meer die blaam
al wis ek soms dat ek U nie altyd so mooi verstaan.

Al sê U soms dat ek sonder rede eenkant toe moet staan
sodat my naaste in voordeel voor my kan staan,
dan staan ek eenkant toe al stort ek daaroor `n verborge traan
en dit alleen omdat ek U aldag nie so mooi verstaan.

As ek val en ek voel daaroor so verniel en platgeslaan
en U sê streng- dit is nou tyd om weer op te staan,
dan staan ek op om blymoedig op `n nuwe weg voort te gaan.

As U sou sê dit raak nou tyd vir die Waarheid om op te staan,
al weet ek dat my vyand my daaroor pap gaan slaan,
dan sal ek vir die Waarheid staan,
want ek weet daar kom `n tyd wat ek U Wel baie mooi sal verstaan.

As U sou sê dit raak nou tyd, verheerlik nou My grote Naam,
dan hef ek my nederige loflied in vreugde vir U aan,
want U is my El wat my in my swakheid nooit versaak
of eensaam daar eenkant laat bly staan.

As U nou sê dit raak tyd om my te onttrek van die wêreld-waan
en in afsondering nou eenkant toe te staan, dan weet ek; dit
raak nou tyd om in volle geloof in U oor te gaan.

As U sou sê dit raak nou tyd vir die liefde om in oorwinning in my
op te staan,
dan weet ek; dit raak tyd om die selfsug in my teen te staan
sodat my naaste se behoefte eerste voor my kan staan.

As U nou sê: Dit raak tyd vir jou siel om in Wysheid oor te gaan
dan weet ek, dit raak tyd vir my wêreldse verstand om te vergaan
sodat U Grote Wysheid alleen in my gees oor kan gaan.

Al is U ewigheid ook so vêr weg hiervandaan
in soveel dimensies wat selfs die grootste geeste nie aldag mooi verstaan
en U sê ek moet daarheen gaan, dan sal ek gaan,
want skielik wis ek hoe kort is die pad van hier tot by die maan.

Judith de Beer
Vrydag 25 Januarie 2013

Friday, January 25, 2013

Is my naam nog Boer?




Ek hoor 'n stem wat skaam daar fluister: kyk, my naam is Boer
en ek staan gestroop van trots en roer want te lank het ek gesloer
om my liefde vir God, volk en vaderland uit te voer. Maar my ore,
die kon ek uitleen aan die groot hoer en kyk, my kerk het my ‘n
leuen gevoer en so is my siel van die Waarheid na die hel ontvoer.

Ek hoor ‘n stem wat verlate fluister: kyk, my naam is Boer en
eens staan my voorsate so trots en stoer en die grense van hul
Godgegewe land staan vas in elke kontoer en die Gees van God
het saggies soos ‘n Tortelduif in hulle midde gekoer en die aparte
engele was oor hierdie Boervolk so diep ontroer.

Ek hoor ‘n stem wat so oorwonne fluister: kyk, my naam was
eens Boer maar na die wêreld se aanbiedinge het ek alte graag
geloer en die Waarskuwingstem van die Heilige Gees het ek met
geweld toegesnoer en na die mallemeule van ‘n wêreldhel,
daarheen het ek my vrolik laat wegvoer en daarom sal my vyand
wat ek op my heel beste sou vet voer, nou op my erfland as die
nuwe eienaar daarop boer.

Ja, ek hoor ‘n stem wat saggies fluister: kyk, my naam was eens
Boer maar ek staan nou gestroop van my trots en roer want te
lank het ek gesloer om my liefde en lojaliteit jeens my God, volk
en vaderland uit te voer.


Judith de Beer    
Maandag 22 Januarie 2013