Monday, February 4, 2013

Trooskombersie





Vriendskap is soos die natuur.  
Soms waai ons by mekaar verby sonder om te stop en te vra hoekom die ander so verkreukeld lyk.
Die lewe se wind dra ons weg met ‘n oppervlakkige -  “Goed dankie” en
 “Sien jou later”.

Soms sien ons eers baie later die rypskade aan die ander se brose binneste en wonder ons hoekom het ons nie lankal gevra nie.

Soms sien ons net die lentekleur raak  op ‘n gesig en is ons nie eers bewus
van die wurm wat aan sy/haar binneste vreet nie.

Soms wonder ons of dit net die wind is wat hom/haar wegbuig van ons af en of dit dalk die stingeltjie self is wat sy stokstywe ruggie op jou draai.
Pluk iemand ons vir ‘n ruiker uit YaHWeH se tuin, wriemel ons weg van mekaar.

Roos se dorings steek te seer en papawer wil MOS langs niemand wees nie!
Koringblommetjie kruip weg van skaamte oor haar kartelhoede en Hibuskus
wonder of almal weet van haar verlede.

Intussen vergeet ons dat YaHWeH afkyk op Sy tuin en net pragtige blomme sien.
Almal is ewe mooi, ewe kosbaar, ewe goed in Sy oë.

Vergewe my daarom as ek by jou verbygewaai het op ‘n herfsoggend en
nie jou hand gevat het in die sonlig nie.

Vergewe my as ek op ‘n wintersoggend nie vir jou ‘n trooskombersie van
woorde wou oorgooi teen die rypskade nie.

Vergewe my as ek op ‘n lente-oggend selfsugtig met my eie nuwe blare loop en spog het en nie die kneusplekkies aan jou stingeltjie gesien het nie.

Vergewe my as ek op ‘n warm somersdag nie vir jou ‘n tydjie gemaak het nie,
omdat ek te besig was, selfs te veel gekla het, te haastig was om aan jou die koelte van my vriendskap te bied.

Ek vra verskoning…

weet asseblief dat ek daar is en wil wees vir jou!

No comments: