Monday, February 18, 2013

Wanneer ons die Waarheid Weet




Die trein begin stadig in beweging kom. Die trein is gepak met mense van alle ouderdomme maar hoofsaaklik werkende mans en vrouens en jong universiteit studente. By die venster sit ‘n ou man met sy dertig jarige seun.

Soos wat die trein beweeg is die seun oorstelp van vreugde deur die pragtige landskap wat hy deur die trein venster waarneem.

“Sien pa, die prentjie van die rye bome wat in die vêrte wegraak soos wat ons al vinniger beweeg, dit is te mooi.”

Die optrede van die dertig jarige seun laat die ander passasiers op die trein effens kriewelrig voel. Al die passasiers is druk besig om saggies die optrede van die seun met mekaar te bespreek en spekuleer wat fout is met hom.

“Die mannetjie lyk of hy ‘n paar varkies kwyt is,” fluister die jong man aan sy vrou.

Skielik begin dit te reën. Reën druppels val op die passasiers deur die oop venster. Die dertig jarige seun is vreeslik opgewonde en sê, “Kyk pa hoe wonderlik is die reën ...”

Die vrou, van die jong man wat beweer het dat hy ‘n paar varkies kwyt is, begin baie geïrriteer te word deur die paar druppels wat op haar val. Sy het ‘n nuwe snyers pakkie aan en die reën druppels is besig om dit te ruïneer.

Sy snou die ou man toe, “Kan julle nie sien dit reën nie, maar die venster toe en as jou seun nie wel voel nie vat hom dokter toe dat hy kan kyk wat fout is met hom want hy het beslis ‘n skroef of twee los.”

Die ou man aarsel eers ‘n oomblik en toe in ‘n lae stemtoon antwoord hy, “ Ons kom nou net van die dokter af. My seun is vanoggend ontslaan uit die hospitaal. Hy was blind van geboorte af en het sy sig eers ‘n paar dae gelede teruggekry na die operasie. Reën en die natuur is nuut in sy oë. Vergewe ons asseblief indien ons u enige ongerief aangedoen het.”

Sekere dinge wat ons sien mag vir ons reg lyk, volgens ons perspektief, totdat ons die waarheid te wete kom. Wanneer ons die waarheid leer ken, kan ons reaksie op “ons waarheid” selfs ons seermaak.
Probeer eers die probleem te verstaan voordat jy oorhaastig optree.

No comments: