Wednesday, January 30, 2013

As U sou sê…




As U sê dat ek moet gaan,
al is dit ook so vêr soos tot daar by die maan,
dan sal ek gaan
al wis ek soms dat ek U nie so mooi kan verstaan.

Al sê U soms- neem op jóú, vir jou naaste, nou die blaam,
ja, vir 'n fout deur hom begaan,
dan neem ek sonder meer die blaam
al wis ek soms dat ek U nie altyd so mooi verstaan.

Al sê U soms dat ek sonder rede eenkant toe moet staan
sodat my naaste in voordeel voor my kan staan,
dan staan ek eenkant toe al stort ek daaroor `n verborge traan
en dit alleen omdat ek U aldag nie so mooi verstaan.

As ek val en ek voel daaroor so verniel en platgeslaan
en U sê streng- dit is nou tyd om weer op te staan,
dan staan ek op om blymoedig op `n nuwe weg voort te gaan.

As U sou sê dit raak nou tyd vir die Waarheid om op te staan,
al weet ek dat my vyand my daaroor pap gaan slaan,
dan sal ek vir die Waarheid staan,
want ek weet daar kom `n tyd wat ek U Wel baie mooi sal verstaan.

As U sou sê dit raak nou tyd, verheerlik nou My grote Naam,
dan hef ek my nederige loflied in vreugde vir U aan,
want U is my El wat my in my swakheid nooit versaak
of eensaam daar eenkant laat bly staan.

As U nou sê dit raak tyd om my te onttrek van die wêreld-waan
en in afsondering nou eenkant toe te staan, dan weet ek; dit
raak nou tyd om in volle geloof in U oor te gaan.

As U sou sê dit raak nou tyd vir die liefde om in oorwinning in my
op te staan,
dan weet ek; dit raak tyd om die selfsug in my teen te staan
sodat my naaste se behoefte eerste voor my kan staan.

As U nou sê: Dit raak tyd vir jou siel om in Wysheid oor te gaan
dan weet ek, dit raak tyd vir my wêreldse verstand om te vergaan
sodat U Grote Wysheid alleen in my gees oor kan gaan.

Al is U ewigheid ook so vêr weg hiervandaan
in soveel dimensies wat selfs die grootste geeste nie aldag mooi verstaan
en U sê ek moet daarheen gaan, dan sal ek gaan,
want skielik wis ek hoe kort is die pad van hier tot by die maan.

Judith de Beer
Vrydag 25 Januarie 2013

No comments: