Wednesday, August 1, 2012

Wie is Ek ?


Jou beste vriend of  grootste vyand, ek is jou grootste metgesel. Ek is jou grootste helper of jou swaarste las. Ek sal jou op die pad vorentoe deurdra of jou aftrek tot op die bodem van mislukking. Ek is geheel en al onder jou bevel.

Helfte van die dinge wat jy doen, kan jy net sowel aan my oordra en ek sal dit vinnig en effektief afhandel. Ek word baie maklik bestuur, maar jy moet streng wees met my. Wys my presies hoe jy ’n ding gedoen wil hê en na ’n paar lesse sal ek dit outomaties verrig. Ek is die dienskneg van alle vername manne, maar helaas, van die grootste mislukkings ook.

Die wat vernaam is, ek het hulle vernaam gemaak. Die wat mislukkings is, ek het hulle mislukkings gemaak. Ek werk met die presisie van ’n wetenskaplike en met die passie van ’n patriot. Jy kan my gebruik vir profyt of vir mislukking, dit maak glad nie aan my saak nie.
Neem my, leer my, wees streng met my en ek sal die wêreld aan jou voete plaas. Maar wees ongeërg met my en ek sal jou vernietig.

Wie is ek?

Ek is gewoonte !

Wednesday, July 18, 2012

Hoe Hanteer JY Teenspoed?


’n Jong dogter kla teenoor haar pa oor haar lewe en hoe moeilik dit vir haar was. Sy het nie geweet hoe sy dit gaan maak nie en wil net moed opgee oor al die teenspoed wat sy ervaar. Sy was moeg om te sukkel en te veg vir alles. Net sodra die een probleem opgelos is dan duik die volgende op.

Haar pa, ’n kok, neem haar na sy kombuis en plaas drie kastrolle met water in op die stoof.
Spoedig kook die water in die kastrolle.

In die een kastrol plaas haar pa wortels, in die ander eiers en in die laaste gemaalde koffiebone. Hy laat die kastrolle met bestanddele verder kook sonder om ’n woord te sê.

Die dogter byt haar onderlip en wonder ongeduldig wat haar pa besig was om te maak. Sy het probleme en hy is besig om een of ander vreemde konkoksie aan mekaar te slaan. Na ongeveer ’n halfuur stap hy na die stoof en haal die drie kastrolle van die stoof af. Hy haal die wortels uit die kastrol en plaas dit in ’n opskep bak. Hy haal die eiers uit die kastrol en plaas hulle in ’n ander opskep bak. Hy neem ’n opskep lepel en versigtig skep hy van die koffie af in ’n kommetjie.

Hy draai na sy dogter en vra. “Skattebol, wat sien jy?”

Selfvoldaan antwoord sy. “Wortels, eiers en koffie.”

Hy neem haar hand nader aan die opskep bak en vra haar om aan die wortel te vat en te voel hoe hulle voel. Jy maak so en merk op dat hulle sag is. Hy vra haar toe om een van die eiers te neem en dit te dop. Nadat al die doppe af, bevoel sy die hard gekookte eier. Laastens vra hy haar om ’n slukkie van die koffie te neem. Sy trek haar gesig op ’n plooi nadat sy die vreeslike sterk koffie proe.

Verwonderd vra sy. “Wat beteken dit nou alles, Pa?”

 Hy begin verduidelik. “Elkeen van die drie het dieselfde teenspoed ervaar, 98 grade Celsius kokende water. Maar ten spyte daarvan het elkeen van hulle anders reageer.”

“Die wortel in ingegaan sterk, hard en onbuigsaam. Maar nadat dit deur die kookwater is, het dit sag en swak geword.”

“Die eiers was breekbaar en broos. ’n Dun buite laag bedek die vloeibare inhoud. Maar na die kokende water het die inhoud hard geword.”

“Maar die koffiebone daarenteen is uitsonderlik. Na die kookwater behandeling het dit sterker en ryker geword.”

“Watter een is jy?” vra hy sy dogter.

Wanneer teenspoed klop aan jou deur, hoe reageer jy?
 
Is jy ’n wortel, ’n eier of ’n koffieboon?

Is jy die wortel wat sterk lyk, maar met die geringste teken van pyn en teenspoed verwelk jy en word sag sonder krag?

Of is jy die eier, wat begin het met ’n sagte hart en vervulde gees? Maar na ’n dood, ’n egskeiding, ’n verbrokkelde verhouding, ’n aflegging by die werk word jy hard. Jou buitekant lyk dieselfde maar binne is jy so verbitterd en hard met ’n ongevoelige gees.
 
Of is jy soos die koffieboon? Die koffieboon bereik nie sy optimale smaak en aroma totdat dit aan 98 grade Celsius blootgestel is nie. Wanneer die water warmer word, verbeter die smaak. Wanneer dinge op erger word, word jy beter. Wanneer mense jou die meeste benadeel, verhoog jou lofprysing. Wanneer jou uur die donkerste is verhoog jou aanbidding van ons Almagtige Koning YaHWeH tot ’n nuwe heerlike vlak.

Hoe hanteer jy vandag teenspoed?

Is jy die wortel, eiers of koffieboon?

Tuesday, July 10, 2012

’n Voorsmakie van Wysheid


Die bejaarde leermeester het begin moeg word vir sy jong leerling se alewige gekla en een oggend vroeg stuur hy hom uit om sout te gaan haal.

Toe die leerling terugkom met die sout gee die bejaarde leermeester die omgekrapte leerling opdrag om ’n hand vol sout in ’n glas water te gooi en dit dan te drink.

“Hoe smaak dit?” vra die ou leermeester.

“Bitter,” antwoord die jong leerling terwyl hy die mond vol soutwater uitspuug.

Die ou leermeester glimlag en vra vir die jong leerling om weer ’n hand vol sout te neem en dit in die meer te gooi. Nadat hy die sout in die meer gegooi het sê die ou leermeester, “Drink nou van die meer se water.”

Terwyl die water van die jong leerling se ken afdrup vra die ou leermeester hom, “Hoe smaak dit?”

“Vars en verfrissend,” antwoord die leerling.

“Kon jy die sout proe in die water?” vra die ou leermeester.

“Nee,” antwoord die jong leerling.

Die ou leermeester gaan sit langs die jong leerling en neem die jongman se hande in syne en sê, “Kom dat ek jou vandag leer oor die sout:”

“Die pyn in die lewe is suiwer sout; niks meer en niks minder nie. Die hoeveelheid pyn in die lewe bly presies dieselfde. Maar, die hoeveelheid bitterheid wat ons proe hang af van die houer waarin ons dit plaas. Dus, wanneer jy in pyn verkeer, is die enigste uitweg om verder heen om jou te kyk, vergroot jou gevoel van alles om jou....
Hou op om ’n glas te wees. Word ’n meer.”

Soms raak ons so vasgevang in ons eie pyn dat ons dink dit is al wat bestaan, maar wanneer ons die pyn rondom ons sien dan besef ons dat die soutwater wat ons nou drink glad nie so bitter is nie.

Thursday, June 21, 2012

Lewens Waarhede


Indien jy vêr verwyder van YaHWeH voel, raai wie het getrek?

Vrees het geklop. Geloof het geantwoord – “Die een na wie jy soek is nie hier nie.”

Wat jy is, is YaHWeH se geskenk aan jou. Wat jy word, is jou geskenk aan YaHWeH.

Ek is YaHWeH se Melodie van die Lewe en Hy sing Sy lied deur my.

Ons kan nêrens heen gaan waar YaHWeH nie is nie, en waar Hy is, daar is alles volgens Sy orde.

Maak nie saak wat ookal in jou lewe gebeur nie, weet dat YaHWeH altyd vir jou Wag met ope Arms.

YaHWeH beloof ’n veilige landing, nie ’n kalm vlug nie.

Doen jou beste en slaap in vrede. YaHWeH is Wakker.

YaHWeH het ’n doel en ’n plan met my, wat niemand anders kan vervul nie.

Die Wil van YaHWeH sal jou nooit neem na waar die Genade van YaHWeH jou nie sal beskerm nie.

Ons is verantwoordelik vir die inspanning, nie die uitslag nie.

Ons hys die seile, YaHWeH maak die wind.

Begin om te brei en YaHWeH sal jou die wol gee.

Wanneer YaHWeH “Nee,” sê, is dit omdat Hy iets heelwat beter ingedagte het vir jou.

Die Taak voor ons, is nooit so groot soos die Krag agter ons nie.

Gebed: Moenie vir YaHWeH instruksies gee nie, meld net aan vir diens.

Dit is my besigheid om YaHWeH se Besigheid te doen en dis Sy Besigheid om na my besigheid om te sien.

Gemoedsrus is nie om van die storm te ontsnap nie, maar kalmte te midde van die storm.

Hoekom is almal altyd besig om rond te hardloop opsoek na YaHWeH, Hy is nie weg nie.

YaHWeH het my op aarde geplaas om ’n paar goed te doen, tans is ek so vêr agter dat ek vir ewig sal lewe.

Hy wat nie wil doen terwyl hy kan, kan nie, wanneer hy wil.

Saturday, June 16, 2012

Gereedskap vir die Lewe


Jou deursettings vermoë en geloof in jouself sal gedurende jou leeftyd male sonder tal getoets word. Hoe jy hierop gaan reageer is vir jou om te besluit. Glo jy in jouself ? Was jy al voorheen in staat om die aanslae die hoof te bied ? Het jy die regte gereedskap om jou deur hierdie moeilike tyd te help ?

Indien jou antwoord ja is, dan het jy dit in jouself om dit keer op keer te doen – wanneer jy platgeslaan word. Die meeste van ons was al platgeslaan, meer as een keer, meer as twee keer. Met die regte gereedskap, het ons nie toegelaat dat dit ons lewens ruïneer of ons selfbeeld nie. Ons het by onsself gedink, “OK, daar is nog ’n paar lesse wat ek nodig het om te leer in die lewe.” en ons gaan aan met ons lewens.

Ons was die gelukkiges gewees. Ons het daardie geloof in onsself dat ons tot enigiets in staat is; ons kan enigiets doen; ons kan enigiets wees; ons kan enige plek gaan waar ons wil wees en ons het die gereedskap beskikbaar wanneer ons dit nodig het. Ons was nie bevrees vir die onbekende nie – ons weet dat ons soms sal struikel maar weet dat dit is hoe ons geleer het.

Vir die wat nie in staat is of was om hulself weer op te tel nie – daar is hoop. Jy kan dit ook doen – dit sal tyd verg, toegewydheid, deursettings vermoë en daadwerklike optrede. Jy sal jouself moet toerus met gereedskap wat jou in staat sal stel om deur die grense te breek. Net soos ’n werktuigkundige, het ons gereedskap nodig om ons te help om ons vermoëns te verfyn om teleurstellings, seer, woede en hartseer te hanteer.

Gereedskap kom in verskeie vorme – geskrewe materiaal, video’s, ’n gesprek met ’n vriend of vriendin, gebed en ander mense wat reeds beskik oor die gereedskap. Jy sal gewoonlik verskeie gereedskap stukke moet probeer voordat jy die regte kombinasie vind. Maar wanneer jy doen, BOOOOF! dis soos ’n lig wat aangaan en jy dink, “Ek het dit, ek verstaan nou wat ek moet doen om vorentoe te beweeg.”

Die geheim lê daarin om te besef dat YaHWeH inspirasie, krag en die nodige gereedskap op verskeie maniere oor mens se pad stuur om ons te help.

Doen vandag iets lekkers vir jouself – neem ’n tydjie en dink waarheen jy op pad is en waarheen wil jy regtig gaan en begin dan te soek vir die regte gereedskap wat jou kan help om hierdie plan te verwesentlik.

Thursday, June 7, 2012

DIE GROEN GEDOENTE


Die jong kassiere agter die kasregister stel aan die ouer dame voordat sy haar eie inkopie sakke moet saambring want die plastiek sakke is nie goed vir die omgewing nie.
Die dame vra verskoning en verduidelik, “Ons het nie hierdie groen gedoente gehad in my jonger dae nie.”
Die jong kassiere antwoord, “Dit is ons generasie se probleem vandag. U generasie het nie genoegsaam omgegee vir die bewaring van die omgewing vir toekomstige generasies nie.”

Sy was reg – ons generasie het nie die groen gedoente gehad in ons jonger dae nie.

In daardie dae, het ons die melk bottels, koeldrank bottels en bier bottels teruggeneem na die handelaar. Die handelaar het dit terug gestuur aan die fabriek om gewas, gesteriliseer en weer hervul te word sodat ons dieselfde bottel weer en weer kon gebruik.
Hul was werklik herwin en hergebruik.
Maar ons het nie die groen gedoente gehad in ons dae nie.

Die kruidenier winkel het ons kruideniersware in bruin papier sakke verpak wat ons vir verskeie take hergebruik het. Behalwe die gebruik as vullissak was die belangrikste gebruik die as boekoortreksel vir ons skoolboeke. Dit was om te verseker dat publieke eiendom (die boeke was voorsien deur die skool vir ons gebruik) beskerm is deur ons onnodige gekrap. Dit het ons in staat gestel om ons boeke te versier deur allerhande prentjies en sierskrif sonder om die boek te beskadig.
Maar dit is jammer ons het nie daardie tyd die groen gedoente gedoen nie.

Ons het trappe geklim omdat ons nie hysbakke gehad het in elke winkel en kantoor nie. Ons het na die kruidenierswinkel gestap en het nie in ’n 300 perdekrag masjien gespring elke keer wat ons twee straatblokke vêr moes gaan nie.
Maar sy was reg. Ons het nie die groen gedoente gehad in ons dae nie.

In daardie dae het ons die babadoeke gewas want daar was nie iets soos weggooi doeke nie. Ons het ons klere op die wasgoeddraad gedroog en nie in ’n energie honger 220 volt monster nie. Son en windkrag het die enigste rol gespeel om ons klere droog te kry in daardie dae. Kinders het “aangee” klere van hul broers, susters, nefies en niggies gedra, nie altyd splinter nuwe klere nie.
Maar die jong kassiere was reg. Ons het nie die groen gedoente gehad in ons jonger dae nie.

In daardie dae het ons net een TV of radio in die huis gehad – nie een in elke vertrek van die huis nie en die TV het ’n klein skermpie gehad, skaars groeter as ’n mans sakdoek, nie ’n skerm so groot soos Gauteng nie.
In die kombuis het ons geklits en gemeng met die hand want daar was nie elektriese masjiene wat die werk vir ons kon doen nie.
Wanneer ons breekbare items verpak het om dit per pos te versend het ons gefrommelde ou koerant papier gebruik om dit te beskerm nie polystyrene of bubble plastiek rolle nie.
In daardie dae het ons nie ’n masjien gestart en petrol gemors net om gras te sny nie. Ons het ’n stoot grassnyer gebruik wat net aangewese was op mens-krag. Ons het geoefen deur te werk, dus het ons nie nodig gehad om na gymnasiums te gaan en op ’n draf masjien te hardloop wat steeds elektrisiteit verbruik nie.

Ons het uit ’n waterfontein gedrink wanneer ons dors was in plaas van ’n  plastiek glasie of plastiek waterbottel elke keer wat ons water drink nie. Ons het ons penne hervul met ink in plaas van om elke keer ’n nuwe pen te koop en ons het die lemmetjies in ons skeermesse vervang in plaas daarvan om die hele skeermes weg te gooi net omdat die lemmetjie stomp is.

In daardie dae het mense met die bus en kinders het met hul fietse skool toe gery of geloop in plaas daarvan om hul ma’s te verander in 24-uur taxi dienste.
Ons het een elektriese sok per vertrek gehad, nie ’n elektries bank van sokke om dosyne toebehore aan te dryf nie. Ons het nie ’n gerekenariseerde speelding nodig gehad wat ’n sein van ’n satelliet, 30 000km in die buitenste ruimte, opvang om vir ons te vertel waar is die naaste hamburger plek is nie.

Maar is dit nie jammerlik hoe die huidige generasie ons so verwyt oor die vermorsing van ons ouer generasie net omdat ons nie die groen gedoente gehad het in ons dae nie?

Monday, June 4, 2012

Einde Mei

O’ My Abba Vader- U, die Goeie Pottebakker en ek, U nederige klei- U vorm
en maak my uit die vrugbare modder van hierdie aardse vlei- om aan die
einde van nog ʼn maand, die maand van Mei- in nog ʼn tydgleuf waar ek my
oor U Waarheid kan verbly, ja, daar op U smalle weg met U lieflike Wysheid
uitplavei, O’ laat my daarom, Goeie Vader, my ewig in U Alwetendheid verbly-
sodat ek die duister donker aanbiedinge van die bose kan bestry.

O’ My Abba Vader, U, die goeie Pottebakker, ek, U buigbare swakke klei- met
die lewe wat my met stampe en stote vir U Koninkryk voorberei- terwyl U my
so besorgd na U ewige groen weivelde lei en aan die einde van nog ʼn maand,
die maand van Mei, waar U kinders nou so hoopvol vra: wanneer is die eindtyd
met al sy swaar verby- sodat hulle jubelend kan bely; kyk, satan is gebind en
U volk staan vry.

O’ Abba Vader, U, die Alwetende Pottebakker, daar waar U as Beeldhouer
gebukkend staan oor my- U vormingsklei en aan die einde van nog ʼn
maand, ja, die maand van Mei- daar roep ek so hoopvol en vra: is ons
volmaakte weergeboorte al naby- want op die vlerke van U Goddelike
Wysheid wil ons deur ons bevryde sfere gly en van U Grote Liefde-
daarvan wil ons in  onbeperkte oormaat kry.

O’ Abba Vader, U, die ewige Goeie Pottebakker en ons, U nederige klei-
hoeveel maal is ons nie deur ons vrye wil en eie foute in U loutering nie
kasty- want U vorm en maak ons om as U volmaakte kinders te kan bly-
daar dig teenaan U Goddelike sy en daarom vra ons aan die einde van
hierdie maand, ja, die maand van hierdie Mei aan U, O’ Goeie Abba Vader,
om vir ewig in ons harte te kom bly want U het eens self as swakke klei,
ja, as mens vir ons op Golgota kom ly.



Judith de Beer