Monday, June 4, 2012

Einde Mei

O’ My Abba Vader- U, die Goeie Pottebakker en ek, U nederige klei- U vorm
en maak my uit die vrugbare modder van hierdie aardse vlei- om aan die
einde van nog ʼn maand, die maand van Mei- in nog ʼn tydgleuf waar ek my
oor U Waarheid kan verbly, ja, daar op U smalle weg met U lieflike Wysheid
uitplavei, O’ laat my daarom, Goeie Vader, my ewig in U Alwetendheid verbly-
sodat ek die duister donker aanbiedinge van die bose kan bestry.

O’ My Abba Vader, U, die goeie Pottebakker, ek, U buigbare swakke klei- met
die lewe wat my met stampe en stote vir U Koninkryk voorberei- terwyl U my
so besorgd na U ewige groen weivelde lei en aan die einde van nog ʼn maand,
die maand van Mei, waar U kinders nou so hoopvol vra: wanneer is die eindtyd
met al sy swaar verby- sodat hulle jubelend kan bely; kyk, satan is gebind en
U volk staan vry.

O’ Abba Vader, U, die Alwetende Pottebakker, daar waar U as Beeldhouer
gebukkend staan oor my- U vormingsklei en aan die einde van nog ʼn
maand, ja, die maand van Mei- daar roep ek so hoopvol en vra: is ons
volmaakte weergeboorte al naby- want op die vlerke van U Goddelike
Wysheid wil ons deur ons bevryde sfere gly en van U Grote Liefde-
daarvan wil ons in  onbeperkte oormaat kry.

O’ Abba Vader, U, die ewige Goeie Pottebakker en ons, U nederige klei-
hoeveel maal is ons nie deur ons vrye wil en eie foute in U loutering nie
kasty- want U vorm en maak ons om as U volmaakte kinders te kan bly-
daar dig teenaan U Goddelike sy en daarom vra ons aan die einde van
hierdie maand, ja, die maand van hierdie Mei aan U, O’ Goeie Abba Vader,
om vir ewig in ons harte te kom bly want U het eens self as swakke klei,
ja, as mens vir ons op Golgota kom ly.



Judith de Beer

No comments: