Tuesday, November 1, 2011

DIE BOEK EKKLESIASTIKUS (6)


Hoofstuk 31 Oor die opvoeding van kinders.

1 HY wat sy seun liefhet, sal voortgaan met sy slae dat hy hom mag verheug oor sy einde.
2 Hy wat sy seun tugtig, sal ‘n plesier in hom hê, en tussen die bekendes sal hy ‘n welgevalle in hom hê.
3 Hy wat sy seun leer, maak die vyand jaloers en voor die oë van ‘n vriend sal hy oor hom juig.
4 As sy vader sterwe, sterf hy nie geheel en al nie, want hy het iemand soos hyself agtergelaat.
5 In sy lewe het hy gesien en hom verbly, en in sy dood is daar vir hom geen verlange nie.
6 Vir die vyande het hy ‘n wreker nagelaat en vir die vriende iemand wat guns vergoed.
7 Hy wat sy seun vertroetel, sal sy wonde verbind, en by elke geskreeu sal sy binneste bewe.
8 ‘n Perd wat nie geleer is nie, word koppig, en ‘n seun wat aan homself oorgelaat is, word opstandig.
9 Bederf jou seun, en hy sal jou verskrik, gee toe aan hom, en hy sal jou smart aandoen.
10 Wees nie ligsinnig met hom dat hy jou nie verkleineer en maak dat jy aan die einde op jou tande kners nie.
11 Laat hom nie heerskappy hê in sy jeug en moenie sy stoutighede oorsien nie.
12 Verpletter sy lendene terwyl hy nog jonk is; buig sy hoof in sy jeug en slaan sy lendene terwyl hy nog klein is, anders sal hy koppig en ongehoorsaam word en jou hart verbitter.
13 Tugtig jou seun en maak sy juk swaar dat hy hom nie in sy dwaasheid teen jou verhef nie.

Oor gesondheid.
14 Beter is iemand wat arm maar gesond in sy gebeente is, as iemand wat ryk is, maar in sy vlees aangetas.
15 Gesondheid en sterkte het Ek begeer meer as fyn goud, en ‘n opgewekte gees meer as pêrels.
16 Daar is geen rykdom bo die rykdom van ‘n gesonde liggaam nie, en daar is geen goed wat beter is as ‘n suiwer gesindheid nie.
17 Dit is beter om te sterwe as om ‘n ydele lewe te hê, en ewige rus as ‘n voortdurende pyn. Dit is beter om te sterwe as om ‘n slegte lewe te lei, en om na die Doderyk/Sheol af te daal as ‘n blywende pyn.
18 Lekkernye wat uitgegiet word op ‘n toe mond, is soos stukke vleis wat op ‘n graf neergelê word.
19 Hoe kan die vleis die idole van die nasies baat, terwyl hulle nie kan eet en kan ruik nie? So is hy vir wie daar rykdom is, en hy is nie in staat om van sy vermoë te geniet nie.
20 Soos ‘n ontmande ‘n maagd omhels en sug, so is hy wat noodgedwonge die Reg doen.
21 Moenie jouself aan besorgdheid oorgee nie en moenie struikel in jou wetsoortreding nie.
22 Vreugde van die hart is die lewe van ‘n man, en die blydskap van ‘n adamiet verleng sy dae.
23 Oorreed jouself en streel jou hart en laat toorn ver van jou af wees; want besorgdheid het baie verslaan, en daar is geen wins in toorn nie.
24 Naywer en besorgdheid verkort die dae, en onrus maak ontydig oud.
25 Die slaap van die geruste hart is soos lekkernye, en sy voedsel akkordeer met hom.

Hoofstuk 32 Oor armoede en rykdom.

1 WAAKSAME sorg oor rykdom laat jou gewig verloor, en besorgd-heid oor die lewensonderhoud verdryf die slaap.
2 Besorgdheid oor die lewensonderhoud verhoed die slaap, net soos wat ernstige siekte die slaap verdryf. [Belediging jaag ‘n getroue vriend op die vlug, maar hy wat ‘n geheim verberg, is een wat hom soos sy siel liefhet.]
3 Die moeite van ‘n ryke is om besittings te versamel, en as hy rus, is dit om deel te neem aan plesier.
4 Die arme swoeg ter wille van die behoefte van sy huis, en as hy rus, word hy behoeftig.
5 Hy wat goud najaag, sal nie ongestraf bly nie, en hy wat omkopery liefhet, sal genoeg daarvan kry.
6 Baie is daar wat hulle aan goud verbind het en hulle vertroue op korale gestel het. En hulle het nie gevind hoe om van die kwaad verlos te word en ook om in die dag van Grimmigheid gered te word nie.
7 Want ‘n struikelblok is hy vir die dwaas, en elkeen wat dwaas handel, word in hom verstrik.
8 Geseënd is die man wat volkome gevind word, en hy wat nie agter Mammon aan verdwaal raak nie.
9 Wie is hy? dat Ons hom geseënd mag ag, want hy het wonderbaarlik gehandel onder sy volk.
10 Wie is hy wat verkleef is daaraan en wat tog volkome gebly het - dit sal vir hom ‘n sieraad wees. Want as die Vrede van sy lewe vermeerder, sal Ek vir jou ‘n versiering wees. Wie het dit geseën en sy lewe volkome gemaak? Dit is vir jou tot sieraad. Wie is in staat om te verdwyn en verdwyn nie; en om kwaad te doen en doen dit nie?
11 Daarom sal sy voorspoed bestendig wees, en die vergadering sal sy lof verkondig.

Onderrig aangaande brood en wyn tesame.
12 MY seun, as jy aan die tafel van ‘n groot man sit, moenie jou keel daaroor heen oopmaak nie, moenie sê nie: Daarop is oorvloed!
13 Onthou dat ‘n besoedelde oog ‘n slegte ding is; Elohim haat die man met ‘n besoedelde oog en het niks slegter as dit geskape nie. Want oor elke ding traan die oog, en van die gesig maak dit trane. Daar is niks meer besoedel as die oog toebedeel nie, daarom neem sy lewenskrag weens al die dinge af.
14 Moenie die hand uitsteek na die plek waarheen hy [die gasheer] kyk nie en moenie teen hom stamp in die mandjie nie.
15 Wees bedagsaam teenoor jou naaste soos teenoor jouself, en wees verstandig ten opsigte van alles waarvan jy nie hou nie.
16 Sit aan soos ‘n man wat uitgekies is en moenie [gulsig op die ete] afpyl, dat jy nie verwerplik word nie. Weet dat jou naaste soos jyself is en eet soos ‘n man dit wat voor jou geplaas is; en moenie gulsig wees dat jy nie verwerp word nie.
17 Hou die eerste op ter wille van goeie maniere en moenie gulsig sluk dat jy nie verwerp word nie.
18 En ook as jy tussen baie sit, moenie jou hand voor ‘n naaste [verby]steek nie.
19 Is ‘n weinig nie genoeg vir ‘n verstandige man nie, en op sy bed hoef hy nie te kreun nie. Pyn en slapeloosheid en kwelling en innerlike ongesteldheid en afskeiding van die liggaam is die deel van ‘n dwase man.
20 Gesonde slaap is die gevolg van beskeie eetgewoontes, en wanneer jy in die môre opstaan, is jou gees opgewek.
21 En selfs as jy beswaard voel weens die lekkernye, hou aan met hoop en jy sal rus hê. Wees in alles wat jy doen versigtig, en geen rampe sal jou tref nie.
22 Luister, My seun, en moenie My verag nie, want aan die einde sal jy My woord verstaan. Luister, My seun, en neem My Tug aan en moet My nie bespot nie, want aan die einde sal jy My woorde vind.
23 Hy wat goedhartig is oor brood sal die lip seën, die getuienis van sy goedheid is blywend.
24 Hy wat sleg is oor brood, sal gesteur word in die poort, die kennis aangaande sy slegtigheid is [ook] blywend.
25 En ook in verband met wyn, moenie jouself onverskrokke betoon nie, want wyn het baie laat struikel.
26 Soos die oond die werk van die smid beproef, so is die wyn vir die getwis van die spotters. Die verstandige toets werk deur werk, so is sterk drank vir die twisgeding van die spotters.
27 Wyn is lewe vir ‘n adamiet as hy dit volgens sy maat drink. Watter lewe het iemand wat gebrek het aan wyn, terwyl die van die begin af ter wille van die Vreugde gemaak is?
28 Blydskap van hart en vreugde en genot is wyn as dit gedrink word op sy tyd en binne sy maat.
29 Hoofpyn, bespotting en skande is wyn wat gedrink word in rusie en kwelling.
30 Dronkenskap is vir die dwaas ‘n strik, dit verminder die krag en vermeerder die wonde.
31 Op ‘n wynfees, moenie ‘n vriend bestraf nie en moenie hom beskaamd maak in sy vreugde nie: ‘n beledigende woord moet jy hom nie toevoeg en hom voor [ander] manne seermaak nie.

Hoofstuk 33 Oor die gedrag by ‘n eetmaal.

1 AS jy aangestel is as seremonie-meester, moenie jouself verhef nie en moenie aan die hoof van die rykes sit nie. Wees vir hulle soos een van hulle; sorg vir hulle en neem daarna jou plek in.
2 Voorsien in hulle behoefte en vly jou dan neer; dat jy jouself mag verheug in hulle eer en dat jy oor die hulpvaardigheid waardering mag ontvang.
3 Vertel, o grysaard, want dit is jou voorreg, maar wees taktvol met verstandigheid en moenie [deur jou gepraat] sang verhinder nie.
4 In die plek van wyn moet jy nie geselskap uitgiet nie, en moenie geselskap uitgiet in die plek van ‘n psalm nie, en moenie ontydig jouself wys betoon nie.
5 Soos ‘n robyn-borsplaat op ‘n goue versiersel, is ‘n sangkonsert op ‘n wynfees. Soos ‘n goue halsketting met ‘n turkoois en saffier daarin, so is aangename en uitstekende woorde op ‘n wynfees.
6 Vullings van fyn goud en ‘n Seël van karbonkel is die melodie van ‘n psalm by genotvolle wyn.
7 Spreek, jongman, as dit vir jou nodig is, as hulle jou twee of drie keer gevra het.
8 Voltooi wat jy wil sê en sê baie in enkele woorde en wees soos een wat weet en wat terselfdertyd hom stil hou.
9 Moenie jouself tussen die oues verhef nie, en jy moet jou nie daarop toelê om vorste weg te stoot nie.
10 Voor die hael flits die weerlig, en voor die berou lig die barmhartigheid.
11 Moenie op die aangewese tyd te laat wees nie, vertrek na jou huis en maak die welgevalle volkome. Moenie aan die tafel woorde vermenigvuldig nie, maar as iets in jou hart opkom, spreek [dan].
12 Vertrek na jou huis en volbring [jou] wil in die Vrees van JaHWeH en nie in dwaasheid nie.
13 En oor al hierdie dinge loof jou Maker wat jou versadig met Sy Suiwerheid.

Die wyse en die spotter.
14 HY wat JaHWeH soek, neem Tug aan, en hy wat Hom naarstig soek, sal ‘n antwoord verkry. Hy wat die dinge soek wat aan JaHWeH welgevallig is, neem Onderrig aan, en Hy sal hom antwoord op sy gebed.
15 Hy wat die Wet soek, sal haar bekom, maar die tweegesig word in haar verstrik.
16 Hy wat JaHWeH vrees, onderskei die Reg en bring die Reg in die Lig. [Hulle wat JaHWeH vrees, onderskei sy Reg en laat baie wyshede uit hulle hart uit voortkom.]
17 ‘n Dwase man wys Tugtiging af, en verdraai die Wet volgens sy behoefte.
18 ‘n Wyse man sal nie teregwysing negeer nie, maar ‘n trotse en parmantige man laat hom deur niemand lei nie. ‘n Wyse man neem nie ‘n omkoopgeskenk aan nie, die vermetele en die spotter [egter] hou nie die Wet nie.
19 Sonder advies moet jy niks onderneem nie, en ná jou werke moet jy nie berou hê nie.
20 Op ‘n pad van strikke moet jy nie gaan nie en moenie oor ‘n struikelblok struikel nie.
21 Moenie vertrou op ‘n weg van rowery nie,
22 en in jou einde, bewaar jouself. Moenie vertrou op die weg van die besoedeldes nie, en op jou paaie, wees op jou hoede. Bewaar jouself in al jou weë, want elkeen wat hierdie dinge doen, hou die Gebod.
23 Bewaar jouself in al jou werke, want hy wat dit doen, hou die Gebod.
24 Hy wat in JaHWeH glo, sal die Gebooie onderhou, en hy wat op HOM vertrou, sal nie beskaamd staan nie.

Hoofstuk 34

1 HY wat JaHWeH vrees, besoedeling sal hom nie tref nie, selfs in versoeking, sal hy weer verlos word.
2 Hy wat die Wet haat, is nie wys nie en word rondgeslinger soos [‘n skip in die storm].
3 ‘n Verstandige man onderskei die Woord, en Sy Wet is betroubaar vir hom soos die Urim.
4 Oordink jou woorde en daarna kan jy praat, bind Onderrig saam en antwoord dan.
5 Soos ‘n wiel van ‘n kar is die hart van ‘n dwaas, en sy gedagtes soos ‘n wielvelling.
6 Soos ‘n bronstige hings is iemand wat ‘n vyand liefhet, onder elke ruiter sal hy runnik.

Regverdiging van die bestiering van Elohim.
7 WAAROM is die een dag onderskeie van die ander, wanneer die hele lig van die jaar van die son is?
8 Deur die Wysheid van JaHWeH is hulle so verorden, en daar is uit hulle seisoene en feestye.
9 Sommige het HY geseën en dit apart gestel, en ander het HY gestel tot gewone dae.
10 En ook die adamiet is ‘n vaatwerk van klei, en uit stof is Adam geformeer.
11 Deur Kennis onderskei JaHWeH hulle, en HY verdeel hulle en HY wend hulle weë.
12 Sommige seën en verhoog HY, en ander stel HY apart en laat HY tot HOM nader kom; sommige vervloek HY en bring hulle tot ‘n val en HY dryf hulle weg van hul arbeid.
13 Soos klei in die hand van die pottebakker om dit te vorm volgens [sy] welgevalle, so is die adamiet in die Hand van sy MAKER om hom te stel ooreenkomstig sy Verordening.
14 Teenoor die besoedeling staan die suiwere, en teenoor die lewe staan die dood, teenoor die regverdige man staan die onregverdige, [en teenoor die Lig staan Duisternis].
15 Aanskou al die werke van die Almagtige, hulle almal is verskillend, die een is die teenoorgestelde van die ander.
16 Ook Ek het agterna wakker geword, en soos een wat bymekaarmaak agter die druiweversamelaars aan. Deur die seën van JaHWeH het ook Ek vooruit gegaan, en soos die druiweversamelaar het Ek die wynpers volgemaak.
17 Bemerk dat Ek nie vir My alleen gearbei het nie, maar vir almal wat die onderrig soek.
18 Luister na My, vorste van ‘n groot volk, en owerstes van die vergadering, neig julle ore.

Wees meester in jou huis!
19 ‘N SEUN of vrou, ‘n geliefde of vriend moet jy nie laat heers tydens jou lewe nie.
20 Solank as wat jy lewe en asem in jou het, moet jy geen skepsel mag oor jou gee nie. Moenie wat aan jou behoort, aan ‘n ander gee nie, anders sal jy moet terugkeer om weer van hom te bedel.
21 Want dit is beter dat jou kinders van jou sal vra, as dat jy moet kyk na die hande van jou kinders.
22 In al jou werke, bly bobaas en moenie ‘n smet op jou eer laat kom nie.
23 Wanneer die getal van jou dae min geword het, op die dag van dood, verdeel die erfenis.
24 Voer en ‘n stok en ‘n vrag vir die esel, brood en arbeid vir die dienskneg?
25 Laat jou dienskneg werk en laat hom nie rus soek nie, want as hy sy hoof optel, sal hy jou bedrieg,
27 Laat jou dienskneg werk dat hy nie opstandig word nie, want werkloosheid vermeerder die kwaad.
26 Die juk en die stroppe hou hom in bedwang, vir ‘n slegte dienskneg [is daar] stokke en slae.
28 Wys hom ‘n taak aan wat geskik is vir hom, en as hy nie luister nie, vermeerder sy bande.
29 Maar moenie te hoë eise aan enige mens stel nie, en sonder Reg moet jy niks doen nie.
30 Het jy slegs een dienskneg, laat hom soos jouself wees, want jy is persoonlik van hom afhanklik.
31 Het jy een dienskneg, reken hom soos ‘n broer en moenie jaloers wees oor jou lewensbloed nie.
32 Want as jy hom verneder, en hy gaan weg en raak verlore, langs watter weg sal jy hom soek?

Hoofstuk 35 Oor die ydelheid van drome en voorgevoelens.

1 AS jy ydelheid soek, sal jou verwagting vals wees, en drome bring dwase voort.
2 Soos een wat na ‘n skaduwee gryp en wind najaag, so is hy wat op drome vertrou.
3 Die een is soos die ander, spieël en droom, voor ‘n gesig is die gelykenis van ‘n gesig.
4 Van die besoedelde, wat kan skoon wees, en van die valse, wat kan waar wees?
5 Voorgevoelens en voorseggings en drome, ydelheid is hulle, want soos jy hoop, so sien jou hart.
6 As dit nie deur die Hoogste El gestuur is nie, moet jy nie jou hart op die dinge stel nie.
7 Want drome het baie laat dwaal, en hulle wat hulle vertroue daarop gestel het, het gestruikel.
8 Sonder geveinsdheid moet jy die Wet volbring, en Wysheid is volkome vir die betroubare mond.
9 ‘n Gestudeerde man weet baie, en ‘n geletterde man bring verstandigheid voort.
10 Hy wat onervare is, weet min,
11 maar hy wat ondervinding opgedoen het, is baie skrander.
12 Ek het baie gesien op My reise, en baie dinge het Ek teëgekom.
13 Baie keer was Ek tot die dood toe aan gevaar blootgestel, maar Ek is gered deur hierdie dinge.
14 Die gees van hulle wat JaHWeH vrees, bly omsigtig,
15 want hulle hoop is op Hom wat hulle verlos.
16 Hy wat JaHWeH vrees, is nie bevrees nie en hy staan nie beskaam nie, want Hy is sy hoop.
17 Geseënd is die siel van hom wat JaHWeH vrees,
18 op wie sal hy vertrou en wie is sy steun?
19 Die Oë van JaHWeH is op hulle wat Hom liefhet, ‘n sterk Skild en ‘n kragtige steun, ‘n skuilplek teen die versengende oostewind en ‘n skuiling teen die middaghitte, ‘n wagpos teen struikeling en ‘n hulp vir hom wat val,
20 een wat die siel verhef en die oë verlig, wat gesondheid en lewe en seën gee!

Oor aanbiedinge.
21 DIE aanbieding van ‘n verdrukker is ‘n aanbieding van onreg,
22 so is die aanbieding van die wettelose nie welgevallig nie.
23 JaHWeH het geen behae in die aanbiedinge van die wetsverbrekers nie, en deur die menigte van die aanbiedinge word ongeregtigheid nie versoen nie.
24 Soos een wat die seun voor sy vader doodmaak, so is hy wat van die besittings van die arme as ‘n aanbieding bring.
25 Broodsgebrek is die lewe van die arme, hy wat hom verdruk, is iemand wat bloed vergiet.
26 Hy wat die lewensonderhoud neem, bring die naaste om die lewe,
27 en ‘n bloedvergieter is hy wat die huurling van sy loon beroof.
28 Een bou, en ‘n ander breek af, wat baat dit hulle behalwe moeite?
29 Een seën, en ‘n ander vloek, na watter stem sal JaHWeH luister?
30 Hy wat hom was [na aanraking] met ‘n dooie en dit weer aanraak, wat het sy bad hom gebaat?
31 So is ‘n man wat vas oor sy oortredinge en hy gaan weer en doen dieselfde dinge - wie sal na sy gebed luister? En wat het sy verootmoediging hom gebaat?

No comments: