Tuesday, October 25, 2011

DIE BOEK EKKLESIASTIKUS (5)


Hoofstuk 26 Verskillende spreuke.

1 DRIE dinge het My Siel begeer, en hulle is die beste voor Elohim en adamiet: die broederskap van broers en die vriendskap van vriende en ‘n man en ‘n vrou wat volkome [bymekaar pas].
2 Drie soorte [mense] haat My Siel, en Ek het ‘n groot afsku in hulle lewe: die arme wat hoogmoedig is, en die ryke wat bedrieg, en die oue wat vermeng en gebrek aan Kennis het.
3 As jy hulle in jou jeug nie begeer het nie, hoe sal jy hulle in jou ouderdom vind?
4 Hoe gepas is die Reg vir die gryses, en vir die oues die Kennis van die Wysheid.
5 Hoe gepas is die Wysheid van die gryses, en nadenke en Raad vir dié wat geëer word.
6 Die kroon van die oues is die grootheid van ondervinding, en hulle glorie is die Vrees van JaHWeH.
7 Nege voorstellings [van mense] het Ek in My Hart oorweeg en van ‘n tiende sal Ek spreek met My Tong: geseënd is hy wat bly is oor sy nageslag, en hy wat lewe om die val van sy vyand te sien. Geseënd is hy wat met sy tong nie gestruikel het nie en iemand wat geringer as hyself is, nie gedien het nie.
8 Geseënd is die eggenoot van ‘n verstandige vrou, en iemand wat nie met ‘n os en ‘n esel tegelyk ploeg nie.
9 Geseënd is hy wat Kennis gevind het, en hy wat spreek in ‘n oor wat luister.
10 Hoe groot is hy wat Wysheid vind, maar hy is nie voortrefliker as die een wat JaHWeH vrees nie.
11 Die Vrees van JaHWeH oortref alle dinge, en hy wat aan Haar vashou, met wie sal hy vergelyk word?
13 Elke wond, maar nie ‘n hartewond nie! Elke kwaad, maar nie die kwaad van ‘n vrou nie!
14 Elke verdrukking, maar nie die verdrukking van een wat haat nie! Elke wraak, maar nie die wraak van die vyand nie!
15 Daar is geen gif soos die gif van ‘n slang/nagash nie, en daar is geen grimmigheid soos die grimmigheid van ‘n vrou nie.
16 Dit is beter om by ‘n leeu en ‘n draak te woon as om te woon by ‘n slegte vrou.
17 Die besoedeling van ‘n vrou maak die voorkoms van ‘n man swart en verdonker sy gesig soos die van ‘n beer.
18 Tussen vriende sit haar eggenoot en onwillekeurig sug hy.
19 Min kwaad is soos die kwaad van ‘n vrou, mag die lot van die wettelose haar oorval!
20 Soos ‘n sanderige heuwel vir die voete van die oues, so is ‘n praatsieke vrou vir ‘n beskeie man.
21 Moenie val weens die skoonheid van ‘n vrou nie en moenie die dinge wat sy besit, begeer nie;
22 want daardeur kom skande en smaad as ‘n vrou haar man onderhou.
23 ‘n Bedroefde hart en ‘n ver-donkerde gesig en ‘n verwonde hart is ‘n slegte vrou. Slap hande en struikelende knieë is ‘n vrou wat haar man nie bly maak nie.
24 Deur ‘n vrou het die wetsoortreding begin, en omrede van haar moet elkeen van Ons sterwe.
25 Moenie aan water ‘n uitloop[plek] gee nie, ook nie aan ‘n slegte vrou heerskappy nie.
26 As sy nie handel soos jy wil nie, sny haar van jou vlees af weg, gee en stuur weg!

Hoofstuk 27 Oor suiwer en slegte vroue.

1 ‘N SUIWER vrou - geseënd is haar man, en die getal van sy dae word verdubbel.
2 ‘n Waardige vrou versorg haar man, en sy jare maak hy in Vrede vol.
3 ‘n Suiwer vrou is ‘n kosbare gawe en in die boesem van hom wat Elohim vrees, sal sy gegee word.
4 Of hy ryk of arm is, sy hart is opgewek, en te alle tye straal sy gesig.
5 Oor drie dinge is My Hart bevrees en ten opsigte van ‘n vierde vrees Ek: laster in die Stad en ‘n toeloop van die gespuis en ‘n valse vermaning - hulle almal is erger as die Dood.
6 Droefheid van hart en smart is ‘n vrou wat jaloers is op ‘n ander, en ‘n teistering is haar tong vir almal.
7 Soos ‘n harde juk is ‘n slegte vrou, hy wat haar opneem, is soos een wat ‘n skerpioen aangryp.
8 Groot toorn [word deur] ‘n dronk vrou [veroorsaak], en haar naaktheid bedek sy nie.
9 Egbreuk van ‘n vrou is geleë in die opheffing van haar oë, en sy word geken deur haar ooglede.
10 Oor een wat koppig is, moet jy streng wag hou, dat sy die geleentheid nie vind, om dit vir haarself te gebruik nie.
11 Pas ‘n koppige goed op en moenie verbaas wees as sy ontrou teen jou is nie.
12 Soos ‘n dorstige reisiger die mond oopmaak en van alle waters wat in die nabyheid is, drink, so sit sy by elke tentpen en vir [elke] pyl open sy haar pylkoker,
13 Die aanvalligheid van ‘n vrou verheug haar eggenoot, en haar insig maak sy gebeente vet.
14 ‘n Geskenk van JaHWeH is ‘n stil vrou, en daar is geen koopprys vir ‘n siel wat [goed] onderrig is nie.
15 Uitermate aanvallig is ‘n vrou wat skaam is, en daar is geen gewig [aan silwer] vir ‘n beskeie siel nie.
16 Soos die son wat uitstraal vanuit die hoogtes, so is die skoonheid van ‘n suiwer vrou in die versiering van sy huis.
17 Soos die lamp wat skyn op die suiwer kandelaar, so is die skoonheid van die gesig van iemand wat haar hoog oprig.
18 Soos goue pilare op silwer voetstukke, so is mooi voete op vaste hakke.
19 My seun, in die krag van jou jeug, hou jouself volkome en moenie jou krag aan verbasterdes gee nie.
20 As jy ‘n suiwer deel uit die hele veld gesoek het, saai jou eie saad en vertrou op jou eie ras.
21 So sal jou vrugte rondom jou wees en in die vertroue op jou saadlyn sal hulle groot word.
22 ‘n Gehuurde vrou word soos spuug gereken, maar ‘n getroude vrou soos ‘n toring van die Dood vir haar minnaars.
23 ‘n Besoedelde vrou sal gegee word as deel van die onregverdige, maar ‘n regverdige [vrou] sal gegee word aan hom wat JaHWeH vrees.
24 ‘n Skaamtelose vrou verlustig haar in growwe oortredinge, maar ‘n skaam dogter sal selfs voor haar man skaamte betoon.
25 ‘n Koppige vrou sal gereken word soos ‘n hond, maar ‘n skaam dogter is een wat JaHWeH vrees.
26 ‘n Vrou wat haar man eer, kom vir almal wys voor, maar sy wat [haar man] tot skande is, sal deur almal geken word as iemand wat wetteloos in [haar] trotsheid is. ‘n Suiwer vrou - geseënd is haar eggenoot, want die getal van sy jare verdubbel. Die twis van ‘n vrou in [haar] sagmoedigheid, soos brandende koors, so sal sy voorkom.
27 ‘n Luidrugtige en spraaksame vrou word gereken soos ‘n trompet wat [in] die oorlog verskrik, en die siel van elke sodanige man sal in die beroeringe van ‘n oorlog die lewe deurbring.

Verskillende spreuke.
28 OOR twee dinge is My Hart bedroef, en oor ‘n derde ontvlam My toorn: ‘n soldaat wat gebrek ly weens armoede, en manne van verstand as hulle hulself verneder, en een wat hom van Geregtigheid tot ongeregtigheid keer - mag JaHWeH hom vir die Swaard voorberei!
29 Nouliks sal ‘n handelaar homself weerhou van verkeerdheid, en ‘n smous sal nie vrygespreek word van oortreding nie.

Hoofstuk 28

1 TER wille van gewin het baie oortree, en hy wat soek om [sy besittings] te vermeerder, draai die oog weg.
2 Tussen die voeg van klippe sit ‘n tentpen vas, so dring oortreding homself in tussen koper en verkoper.
3 As iemand nie vashou aan die Vrees van JaHWeH nie, dan word sy huis baie gou afgebreek.
4 Wanneer ‘n sif geskud word, bly die vuil [agter], so is dit met die vuil van ‘n adamiet in sy spraak.
5 Die vaatwerk van die pottebakker [dien] om [in] die smeltoond te brand, en soos hy word ‘n man op Aarde van sy planne [getoets].
6 Ooreenkomstig die bearbeiding van die Boom is die vrugte, so is die gedagte ooreenkomstig ‘n adamiet se persoonlikheid.
7 Moenie iemand prys voor jy hom hoor praat nie, want so word ‘n adamiet getoets.
8 As jy Geregtigheid navolg, sal jy Haar vind en jy sal Haar aantrek soos ‘n sierlike kleed.
9 Elke voël woon by sy soort, so kom die Waarheid na hom wat Haar beoefen.
10 Die leeu lê en wag vir die prooi, so ongeregtigheid vir hulle wat onreg doen.
11 Die gesprek van die regverdige is voortdurende Wysheid, maar die dwaas verander soos die maan.
12 Tussen dwase moet jy die tyd in ag neem, maar tussen verstandiges kan jy [blywend] gesels.
13 Die gesprek van die dwase is afskuwelik, en hulle gelag is gekke oortreding.
14 Die gesprek van hom wat die eed vermeerder, laat die hare regop staan, en hulle getwis laat iemand die ore toestop.
15 Die getwis van die veragters [dien] om bloed te vergiet, en hulle twisgeding is sleg vir die gehoor.
16 Hy wat ‘n geheim openbaar, vernietig die vertroue en sal geen vriend vir homself vind nie.
17 Wees lief vir ‘n vriend en wees getrou aan hom, maar as jy sy geheim openbaar, moet jy nie agter hom aangaan nie,
18 want soos ‘n man sy vyand vernietig, so het jy die vriendskap van die vriend vernietig.
19 En soos ‘n voël wat jy uit jou hand weggestuur het, so het jy die vriend laat gaan en jy sal hom nie weer vind nie.
20 Moenie agter hom aangaan nie, want hy het homself verwyder en het ontkom soos ‘n bokkie uit die strik.
21 Want ‘n wond kan verbind word en [vir] ‘n twisgeding is daar versoening, maar hy wat geheime openbaar, het die hoop vernietig.
22 Hy wat die oog knip, is iemand wat kwaad berei, en hy wat hom ken, bly ver van hom af weg.
23 Voor jou oë praat hy mooi, en oor jou woorde verwonder hy hom; later [egter] verander hy sy mond, en op jou woorde plaas hy ‘n smet.
24 Baie dinge haat Ek, maar niks [so erg] soos hy nie, en JaHWeH sal hom [ook] haat en hom vervloek.
25 Hy wat ‘n klip hoog opgooi, op sy hoof sal sy val, en ‘n bedrieglike hou deel ‘n wond uit.
26 Hy wat ‘n kuil grawe, sal in haar val, hy wat ‘n strik stel, sal in hom gevang word.
27 Hy wat in Dwaasheid verval, na hom toe sal sy terugkeer, en hy sal nie weet vanwaar sy oor hom gekom het nie.
28 Spotlag en smaad is vir die trotse, en wraak, soos ‘n leeu, lê vir hom en wag.
29 In die strik word die gevang wat hulle verheug oor die val van die regverdige, en angs sal hulle verteer voor hulle dood.
30 Gramskap en toorn - ook hierdie dinge is ‘n gruwel, en ‘n besoedelde is iemand wat dit aangryp.

Hoofstuk 29

1 HY wat wraak neem, sal van JaHWeH wraak ondervind, en sy wetsoortreding sal Hy sekerlik [in gedagte] hou. [MattithJaHûW 5:44]
2 Vergewe jou vriend die oortreding, en so, as jy bid, sal jou oortredinge vergewe word.
3 As ‘n adamiet ‘n ergernis teenoor ‘n medemens bewaar, sal hy van JaHWeH genesing soek?
4 Oor ‘n adamiet soos hy self, het hy geen Vrede nie, en sal hy oor sy eie oortredinge bid?
5 Hy, as iemand van vlees, behou die gramskap, wie sal sy wetsverbreking vergewe?
6 Dink aan die einde en weerhou jou van vyandskap, [dink aan] die vernietiging en die Dood en hou op om die Wet te oortree.
7 Dink aan die Gebod en moenie vir jou naaste kwaad wees nie en [dink aan] die Verbond van die Hoogste El en verhef [haar] tot die graf toe.
8 Bly ver weg van getwis en jy sal sonder oortreding wees, want ‘n toornige man blaas die twis aan.
9 En ‘n besoedelde stook onrus onder vriende en tussen die vreedsames werp hy laster.
10 Soos die hout is, so brand die vuur, en volgens die krag van die getwis sal dit vermeerder; volgens die mag van ‘n mens is sy toorn, en ooreenkomstig sy rykdom verhef hy sy grimmigheid.
11 Mastikgom en pik blaas ‘n vuur aan, so veroorsaak ‘n heftige getwis bloedvergieting.
12 As jy die vonk aanblaas, sal hy brand, en as jy daarop spoeg, sal dit geblus word; en albei kom uit jou mond voort.

Die lasterlike tong.
13 DIE huigelagtige is vervloek, want hy het baie wat in Vrede geleef het, vernietig.
14 Die tong van die lasteraar het baie geskud en hulle onder baie nasies verstrooi, sy het selfs ontoeganklike stede vernietig en die huise van die edeles het sy verwoes.
15 Die tong van die lasteraar het dapper vroue uitgedryf en hulle van hulle posisie beroof.
16 Hy wat na haar luister, sal nie rus vind nie en sal nie in veiligheid woon nie.
17 Die slag van die roede veroorsaak ‘n kneusplek, maar die slag van die tong verbreek die gebeente.
18 Baie het geval deur die skerpte van die swaard, maar [hulle is nie soveel] soos die wat verwond is deur die tong nie.
19 Geseënd is die man wat teen haar beskut is, wat nie deur haar grimmigheid gaan nie. Geseënd is hy wat haar juk nie dra nie en wat deur haar bande nie gebind is nie.
20 Want haar juk is ‘n juk van yster, en haar bande is bande van koper.
21 ‘n Slegte dood is sy dood, en die Doderyk/Sheol is beter as hy.
22 Sy kan die regverdiges [egter] nie aangryp nie, en in haar vlam sal hulle nie brand nie.
23 Hulle wat JaHWeH verlaat, sal in haar val, en sy sal onder hulle brand en nie geblus word nie; sy sal onder hulle gestuur word soos ‘n leeu, en soos ‘n luiperd sal sy hulle vernietig.
24 Kyk, soos jy jou Wingerd met dorings omhein, en jou silwer en jou goud in ‘n beurs verseël is,
25 maak so vir jou woorde ‘n weegskaal en ‘n gewig en maak vir jou mond deure en ‘n grendel.
26 Neem jouself in ag dat jy nie deur haar (die tong) struikel en voor hom val wat ‘n hinderlaag stel nie.

Hoofstuk 30 Oor leen en borgstaan.

1 HÝ handel vroom wat aan sy naaste leen, en hy wat hom ‘n hand gee, bewaar die Gebod.
2 Leen aan jou naaste in die tyd van sy nood en betaal jou naaste sekerlik op die vasgestelde tyd.
3 Bevestig die Woord en hou aan Hom vas en by elke geleentheid sal jy vind wat jy nodig het.
4 Baie wat leen, het geleen sonder om terug te gee en belas die wat aan hulle geleen het.
5 Die tyd wanneer hy ontvang, soen hy sy hand, en oor die vermoë van sy naaste spreek hy ootmoedig; maar wanneer hy moet teruggee, verleng hy die vasgestelde tyd en voeg hy woorde wat verdriet veroorsaak toe en het hy tyd vir beskuldiging.
6 As hy by magte is [om terug te betaal] sal hy nouliks die helfte byeenbring, en [die ander] sal hy reken as buit; en as hy nie [in staat is nie] sal hy hom van sy besittings beroof, en hom onnodig vir homself tot ‘n vyand maak. Met vloeke en twiste betaal hy hom, en in die plek van eer kom skande.
7 Baie het hulle weerhou [om uit te leen] weens die kwelling, [want] hulle was bevrees om onnodig beroof te word.
8 Maar wees lankmoedig teenoor die arme en verleng in regverdigheid [die tyd van terugbetaling] vir hom.
9 Help die behoeftige ter wille van die Gebod en volgens sy nood, moenie hom leeg laat teruggaan nie.
10 Verloor [liewer] silwer ter wille van ‘n broer of vriend en laat dit nie roes onder ‘n klip tot vernietiging nie.
11 Stel jou vermoë volgens die Gebooie van JaHWeH, en sy sal jou bevoordeel meer as goud.
12 Sluit aalmoese op in jou skatkamers, en sy sal jou verlos van alle kwaad.
13 Beter as ‘n kragtige skild en ‘n sterk spies sal sy vir jou teen ‘n vyand veg.
14 ‘n Suiwer man verseker ‘n vriend, maar een wat skaamte vernietig, sal hom verlaat.
15 Die Suiwerheid van die Een wat borgstaan moet jy nie vergeet nie, want Hy het Sy lewe vir jou gegee.
16 Die wettelose stoot die betekenis van borgstaan weg,
17 en die slegte man verlaat sy Verlosser deur sy houding.
18 Borgstaan het baie vernietig wat ryk geag is en het hulle rondgeslinger soos golwe van die see. Magtige manne is weggevoer, en is daardeur weggedryf onder verbasterde nasies.
19 Die wettelose sal val as hy borgstaan, en sy gejaag na wins sal hom in ‘n regsgeding laat beland.
20 Help jou naaste volgens jou vermoë en bewaar jouself dat jy nie val nie.

Oor die lewe in die vreemde.
21 DIE belangrikste vir die lewe van ‘n adamiet is brood en water en ‘n kleed en ‘n huis wat die privaatheid bedek.
22 Liewer die lewe van ‘n arme onder die skaduwee van sy eie dak, as geurige voedsel in ‘n ander se huis.
23 Met weinig of met baie, wees tevrede en die smaad van jou huis sal jy nie hoor nie.
24 Dit is ‘n slegte lewe om van huis tot huis [te gaan], en wanneer jy as vreemde vertoef, moet jy die mond nie oopmaak nie.
25 Jy sal onthaal en feesvier sonder dank, en behalwe hierdie sal jy bittere woorde hoor.
26 Kom hierheen, reisiger, berei [My] tafel, en as daar iets in jou hand is, voed My [daarmee].
27 Vertrek, reisiger, van die aangesig van eer, want My broer het gekom as gas, en Ek het die huis nodig.
28 Die dinge is moeilik vir ‘n verstandige man: berisping oor die huis en die smaad van iemand wat leen.

No comments: