Monday, October 3, 2011

DIE BOEK EKKLESIASTIKUS (2)


Hoofstuk 11.
1 DIE Wysheid lig die arme se hoof op en tussen edeles laat Sy hom sit.

Teen haastige beoordeling.
2 MOENIE ‘n adamiet om sy skoonheid prys nie en moenie ‘n adamiet verafsku wie se voorkoms onaansienlik is nie.
3 Nietig is die by onder die dinge wat vlieg, maar haar produk is die voortreflikste van die opbrengste.
4 Moenie hoogmoedig word wanneer mense jou prys nie, want wonderbaar is die werke van JaHWeH, en Sy daad is vir die adamiet verborge.
5 Baie wat vertrap was, het op ‘n troon gesit, en hulle aan wie nie gedink is nie, het ‘n kroon gedra.
6 Baie wat verhef was, is grootliks verneder en het tesame tot ‘n val gekom, en vooraanstaandes het in die mag van ander geval.
7 Moenie blameer voordat jy ondersoek ingestel het nie, ondersoek eers en bestraf daarna.
8 My seun, moenie antwoord voordat jy gehoor het nie en moenie spreek in die middel van ‘n gesprek nie.
9 Moenie in ‘n stryd gewikkel raak oor ‘n saak wat jou nie aangaan nie en moenie inmeng in die twiste van die wetsverbrekers nie.
10 My seun, waarom vermeerder jy jou besigheid, want as jy dit vermeerder, sal jy daaronder ly. My seun, hardloop, maar jy sal nooit jou doel bereik nie, hardloop weg, jy sal nooit ontsnap nie.
11 Daar is een wat hom afsloof en hom beywer en hardloop, maar hy raak des te meer agter.
12 Daar is een wat swak is en in swakheid wandel, wat aan alles gebrek en ‘n oorvloed ellende het, maar die Oog van JaHWeH bespied hom vir suiwerheid, en Hy skud hom uit die stinkende stof uit.
13 Hy het sy hoof opgelig en het hom verhoog, sodat baie hulle oor hom verwonder het.

Van JaHWeH is alle dinge.
14 GOED en kwaad, lewe en dood, armoede en rykdom, kom van JaHWeH.
15 Wysheid en Insig en ‘n verstaan van die Woord, kom van JaHWeH. Liefde en opregte Paaie, kom van JaHWeH.
16 Dwaasheid en die Duisternis is vir die oortreders verorden, en wat die besoedeldes betref, die Besoedelde Een is met hulle.
17 Die geskenk van JaHWeH bly by die regverdige en Sy Guns bring langdurige sukses.
18 Daar is een wat rykdom verkry deur selfonthouding en ywer en dit is sy toegewese loon:
19 en wanneer hy mettertyd sê: Ek het rus gevind en nou sal ek my voorspoed geniet - hy weet nie wat sy lot sal wees nie en hy sal dit aan ander laat en sterwe.
20 My seun, staan vas in jou roeping en oordink dit en word oud in jou arbeid.
21 Moenie jou verbaas oor die werkers van Ongeregtigheid nie, vertrou op JaHWeH en wag op SY Lig. Want dit is maklik in die Oë van JaHWeH om ‘n arme in ‘n oogwink, plotseling, ryk te maak.
22 Die seën van JaHWeH is die deel van die regverdige, en op die regte tyd sal sy seëninge blom.
23 Moenie sê: ... dat ek my welbehae gedoen het, en wat is nou vir my nagelaat?
24 Moenie sê: Ek het genoeg, en wat kan my nou oorkom nie?
25 In voorspoedige tye word die kwelling vergeet, en net so in kweltye word die goeie vergeet. En [so] sal die einde van die adamiet oor hom kom.
26 Want dit is maklik in die Oë van JaHWeH om aan iemand te vergeld volgens sy weë.
27 In ‘n tyd van beproewing word plesier vergeet, en aan ‘n adamiet se einde sal sy dade bekend word.
28 Voor die Dood moet jy ‘n man nie geseënd ag nie, want aan sy kinders sal ‘n man geken word.

Vermanings teen omgang met verbasterdes en besoedelde mense.
29 MOENIE elkeen na die huis bring nie, want hoe baie is die wonde van ‘n lasteraar. Soos ‘n voëlhok vol is van voëls, so is hulle huise vol bedrog.
30 Soos ‘n voël gevang word in ‘n hok [so] is die hart van die hoogmoedige, soos ‘n wolf wat loer om te verskeur. Hoe baie is die oortredinge van die rower, soos ‘n hond wat in [elke] huis eet. En hy wat geweld pleeg, is soos ‘n rower wat kom en oor al hulle goeie dinge ‘n twisgeding aangaan. Die lasteraar lê en loer soos ‘n beer by die huis van die spotter, en soos ‘n spioen sien hy die naaktheid.
31 Die kwaadsteker verander goed in kwaad en op jou beste eienskappe plaas hy ‘n smet,
32 uit ‘n vonk maak hulle baie kole, en ‘n besoedelde man loer op bloed.
33 Vlug weg van ‘n besoedelde man af, want hy bring besoedeling voort, waarom sal jy ‘n ewige klad dra? Moenie die besoedelde aankleef nie, want hy verdraai jou van die Weg en hy wend jou af van jou Verbondsbeloftes.
34 Pas op in jou weë vir iemand wat as vreemdeling by jou woon dat hy jou nie vervreem van wat vir jou kosbaar is nie.

Hoofstuk 12 Liefdadigheid wat met oorleg geskied.
1 AS jy aan die goeie kwaad doen aan wie sal jy goed doen? En sal daar verwagting vir jou suiwerheid wees?
2 Doen goed aan die regverdige en vind beloning, indien nie van hom nie, [dan tog] van JaHWeH.
3 Daar is geen Suiwerheid vir hom wat met besoedeling besig bly nie, en ook nie vir hom wat nie wetsgehoorsaam is nie.
4 Gee aan die goeie en hou terug van die kwade,
5 Verkwik die nederige en moenie aan die vermetele gee nie. Eetgerei moet jy nie aan hom gee nie, waarom sal hy hom daarmee teen jou rig?
6 Want ook die Hoogste El is een wat die kwaaddoeners haat, en teen die besoedeldes wend HY [SY] wraak.
7 ‘n Dubbele kwaad sal jy ontvang in die tyd van jou nood oor elke goeie daad wat jy hom aangedoen het.

‘n Waarskuwing teen onbetroubare mense.
8 ‘N VRIEND word nie geken in voorspoed nie, en ‘n vyand word nie verberg in teëspoed nie.
9 In iemand se voorspoed is selfs die vyand vriendelik, maar in sy teëspoed is ook ‘n vriend troueloos.
10 Moet nooit ‘n vyand vertrou nie, want sy besoedeling roes soos koper.
11 En ook as hy jou gehoorsaam is en in nederigheid wandel, laat jou hart hom vrees; wees teenoor hom soos iemand wat ‘n geheim openbaar, en hy sal nie vind om jou te vernietig nie, en wees bekend met die uiteinde van jaloesie.
12 Moenie hom langs jou laat staan nie, waarom sal hy jou wegstoot en in jou plek gaan staan? Moet hom nie aan jou regterhand laat sit nie, waarom sal hy jou sitplek soek? En as dit te laat is, sal jy My woorde ter harte neem en oor My gesug sal jy sug.
13 Wie sal meegevoel hê met die slangbesweerder wat gebyt is of met elkeen wat ‘n roofdier nader?
14 So is hy wat met ‘n wetsoortreder verkeer, en iemand wat hom besoedel met ongeregtigheid: hy sal nie ophou totdat ‘n vuur in hom brand nie. Wanneer hy by jou kom, openbaar hy hom nie aan jou nie, en as jy val, dan buk hy nie om jou te help nie.
15 Solank jy staan, openbaar hy hom nie, maar as jy struikel, sal hy hom nie bedwing nie.
16 Met sy lippe spreek ‘n teëstander vleitaal, maar in sy hart versin hy om jou in die Afgrond te werp. En ook as ‘n vyand met sy oë ween - as hy ‘n geleentheid vind, sal hy nie versadig word van bloed nie.
17 As smart jou tref, word hy daar gevind, asof hy gereed is om te help, gryp hy die vergoeding.
18 Hy skud die hoof en waai die hand en met baie gefluister verander hy die gesig.

Hoofstuk 13
1 HY wat pik aanraak - dit sal aan sy hand kleef, en hy wat met ‘n spotter verkeer, sal sy weg leer.

Waarskuwing teen mense wat jou gelyke nie is nie.
2 HOE kan jy optel wat te swaar is vir jou en hoe sal jy verkeer met iemand wat te ryk vir jou is? Watter gemeenskap het die erdepot met die ketel, want as die een die ander stamp, dan word hy gebreek, of watter gemeenskap het die ryke met die arme?
3 As die ryke ‘n onreg pleeg, beroem hy homself, terwyl as ‘n onreg aan ‘n arme gepleeg word, moet hy om barmhartigheid smeek.
4 As jy vir hom tot nut is, maak hy ‘n slaaf van jou, maar as jy verneder word, sal hy meegevoel met jou hê?
5 As jy iets het, maak hy sy woorde met jou mooi, maar hy sal jou arm maak sonder dat dit hom pyn aandoen.
6 As hy behoefte het, is hy met jou en sal hy jou help en sal hy met jou lag en jou vertroue gee;
7 solank hy voordeel behaal, sal hy jou vlei, twee [of] drie keer sal hy jou bedrieg en dan sal hy jou sien en by jou verbygaan en sy hoof oor jou skud.
8 Wees op jou hoede en moenie baie oormoedig wees nie en moenie soos hulle wees wat sonder Verstand is nie.
9 As ‘n edele aankom, bly op ‘n afstand, dan sal hy jou soveel te meer laat nader kom.
10 Moenie jouself opdring dat jy nie weggestoot word nie, en moenie jouself te ver verwyder dat jy nie gehaat word nie.
11 Moenie waag om vry met hom te wees nie en moenie op die veelheid van sy geselskap staatmaak nie, want deur die vermenigvuldiging van sy geselskap toets hy [jou] en wanneer hy vir jou lag, ondersoek hy jou.
12 Wreed is hy wat ‘n spreuk aanhef, maar hy ontferm hom nie oor ‘n siel nie; vele bind hy in die gevangenis.
13 Wees op jou hoede en wees versigtig en wandel nie saam met manne van geweld nie.
14 Alle vlees het sy eie soort lief, en elke adamiet hom wat soos hy is.
15 Wees lief vir JaHWeH al jou lewe, en roep Hom aan vir jou Verlossing.
16 Alle vlees bly by sy soort, en ‘n adamiet sal klou aan sy ras.
17 Hoe kan ‘n wolf by ‘n lam gevoeg word? So is die besoedelde vir die regverdige, en so die ryke vir die man wat beroof is.
18 Watter vrede is daar tussen die hiëna en die hond, so is daar ook geen vrede tussen die ryke en die arme nie.
19 Die voedsel van die leeu is die wilde esels van die wildernis, so is die armes die weiveld van die ryke.
20 ‘n Gruwel vir hoogmoed is nederigheid, en ‘n gruwel vir die ryke is die arme.
21 As ‘n ryke wankel, word hy deur ‘n vriend ondersteun, maar as ‘n arme wankel, word hy deur al sy vriende verstoot.
22 As ‘n ryke spreek, is sy helpers baie, en al is sy woorde onbetaamlik, word dit goedgepraat. As ‘n arme struikel word ka-ka” opgehef, en al spreek hy met wysheid, is daar vir hom geen plek nie.
23 As ‘n ryke spreek, hou almal hulle stil en hulle verhef sy insig tot aan die wolke. As ‘n arme praat, vra hulle: wie is hy? En as hy struikel, sal hulle hom ook wegstoot.
24 Rykdom is goed as dit sonder ongeregtigheid is, en armoede is sleg volgens die mond van vermetelheid.
25 Die hart van ‘n adamiet verander sy gesig, hetsy vir goed of kwaad.
26 Die resultaat van ‘n suiwer hart is ‘n stralende gesig, maar eensaamheid en oorpeinsing het moeitevolle gedagtes tot gevolg.

Hoofstuk 14
1 GESEËND is die adamiet wie se mond hom geen leed berokken nie, en wie se hart nie ‘n oordeel teen hom begeer nie.
2 Geseënd is die man wie se begeerte geen gebrek het nie, en wie se verwagting in JaHWeH, nie verval het nie.

Die regte gebruik van rykdom.
3 VIR die geringe van hart is rykdom onvanpas, en vir ‘n man met ‘n besoedelde oog is goud nie goed nie.
4 Hy wat vir homself terughou, vergader vir ‘n ander, en ‘n vreemde sal hom versadig met sy goed.
5 Hy wat homself kwaad doen, vir wie sal hy goed doen? Want hy sal nie in besit kom van sy eie goedere nie.
6 Daar is niemand slegter as hy wat aan homself kwaad doen nie, en met hom is die vergelding van sy besoedeling.
7 En selfs as hy goed doen, doen hy [dit] onbewus, en aan die end toon hy sy besoedeling.
8 Die afgunstige man met ‘n besoedelde oog, wat die gesig afwend en ‘n siel verag.
9 In die oog van die dwaas is sy aandeel gering, en hy wat die deel van sy naaste neem, vernietig sy eie deel.
10 Die oog van die afgunstige skiet af op brood, maar niks is op sy tafel nie. ‘n Suiwer oog vermeerder die brood, en ‘n droë fontein drup water op [sy] tafel.
11 My seun, volgens jou vermoë om goed te doen aan jouself, gee ook aan JaHWeH Sy deel.
12 Onthou dat jy in die Doderyk/Sheol nie Vreugde kan bedryf nie en dat Dood nie vertoef nie, en die reël van die Doderyk/Sheol is aan jou nie bekend gemaak nie.
13 Voor jy sterwe, doen goed aan hom wat [jou] liefhet en gee vir hom volgens wat jou hand verwerf het.
14 Moet jou nie weerhou van die vreugde van die teenswoordige nie en moenie oortree in die aandeel van ‘n broer nie en moenie ‘n besoedelde begeerte koester nie.
15 Is dit nie vir ‘n ander dat jy jou vermoë nalaat nie, en jou arbeid vir hulle wat die lot werp nie?
16 Gee en neem, ja, verwen jou siel, want in die Doderyk/Sheol word daar geen Vreugde gesoek nie, maar elke saak wat geskik is om te doen, doen dit voor die Aangesig van Elohim.
17 Alle vlees verwelk soos ‘n kleed, en die ewige Insetting is dat hulle sekerlik sal sterwe.
18 Soos ‘n blaar wat uitbot aan ‘n loofryke boom, die een verwelk en die ander spruit uit, so is die geslagte van vlees en bloed, die een sterwe en die ander floreer.
19 Al sy werke sal sekerlik tot niet gaan, en die arbeid van sy hande volg hom agterna.

Die seën van Wysheid.
20 GESEËND is die adamiet wat Wysheid bepeins, en wat respek het vir Haar Insig,
21 wat ag gee op Haar Weë en wat insig verkry in Haar geheimenisse;
22 om agter Haar uit te trek soos ‘n spioen, en op die loer te lê by al Haar ingange;
23 wat by Haar venster inkyk en wat in Haar deure luister;
24 wat rondom Haar Huis kampeer en sy toue aan Haar muur aanbring;
25 wat sy tent langs Haar opslaan en ‘n suiwer woning bewoon; [Psalm 132:3]
26 en hy stel sy nes in Haar blare, en op Haar takke oornag hy; [Sirah 24:12-17]
27 terwyl hy in Haar skaduwee skuiling soek en in Haar wonings vertoef.

Hoofstuk 15
1 WANT hy wat JaHWeH vrees, doen goed, en hy wat die Wet aangryp, sal Haar vind. [Deuteronómium 30:13]
2 En Sy sal hom teëkom soos ‘n Moeder, en soos ‘n vrou van die jeug sal Sy hom aanneem. [Spreuke van Salomo 1:8; 2 Ezra 2:5]
3 En Sy sal hom voed met Brood van Insig, en Water van Verstand sal Sy hom laat drink.
4 En hy wat op Haar leun, sal nie wankel nie, en hy wat op Haar vertrou, sal nie beskaam word nie. [Odes van Salomo 33:13]
5 En Sy sal hom verhef bo sy naaste, en te midde van die gemeente sal Sy sy mond oopmaak. [Odes van Salomo 30:7]
6 Vreugde en Blydskap sal hy vind, en Sy sal hom ‘n onsterflike naam laat erwe.
7 Tweegesigte sal Haar nie in besit kry nie, en trotsaards sal Haar nie sien nie.
8 Ver verwyder is Sy van die spotters, en leuenaars sal aan Haar nie dink nie.
9 Roem is nie gepas in die mond van die wettelose nie, want Sy is deur JaHWeH nie aan hom toebedeel nie.
10 Lof sal verkondig word deur Wysheid, en JaHWeH sal Haar onderrig.

Eie verantwoordelikheid.
11 MOENIE sê: “Van JaHWeH is my oortreding” nie, want wat Hy haat, het Hy nie gemaak nie. [Wysheid van Salomo 11:24; Maleagi 1:3]
12 Moenie sê: “Dit is Hy wat my verlei het” nie, want daar is geen noodsaak vir manne van geweld nie.
13 Besoedeling en gruwelikheid word deur JaHWeH gehaat, en Hy laat nie toe dat dit hulle teëkom wat Hom vrees nie.
14 Elohim het van die begin af die adamiet geskape en Hy het hom in die mag van sy vrye wil gestel.
15 As jy behae [in Hom] het, kan jy die Gebod hou, en dit is verstandig om Sy Welbehae te doen. As jy op Hom vertrou, sal jy inderdaad lewe.
16 Uitgegiet voor jou is vuur en water, strek jou hand uit na wat jy begeer,
17 Voor die adamiet is lewe en dood, wat hy begeer, sal aan hom gegee word.
18 Oorvloedig is die Wysheid van JaHWeH, magtig in Krag en Een wat alles sien.
19 Die Oë van Elohim sien SY werke, en HY ken elke daad van ‘n man.
20 Hy het die adamiet nie beveel om te oortree nie en Hy het nie sterkte gegee aan leuenaars nie, en Hy ontferm Hom nie oor diegene wat ydele dinge doen, of oor hom wat geheime openbaar maak nie.

No comments: