Tuesday, September 20, 2011

DIE BOEK EKKLESIASTIKUS (1)


Hoofstuk 6.
1 IN plaas van een wat liefhet, moenie een wees wat haat nie. ‘n Slegte naam en skande; smaad sal jy verwerf, so is ‘n slegte man wat ‘n tweegesig is.

Begeertes vir Oortredinge
2 MOENIE val in die mag van jou begeerte nie, [as] jou vermoë oor jou aangroei nie.
3 Dit sal jou blare verteer en jou vrugte verwoes,
4 en dit sal jou agterlaat soos ‘n droë boom. Want ‘n vurige begeerte rig sy besitter te gronde en maak hom die vreugde van die een wat [hom] haat.

Ware en valse vriendskap.
5 ‘N SOET verhemelte vermeerder vriende, en vriendelike lippe [vermeerder] vredevolle groet.
6 Laat die manne wat in Vrede met jou leef, baie wees, maar die besitter van jou geheim een uit duisend.
7 Het jy ‘n vriend verwerf, stel ‘n toets vir hom, maar moenie haastig wees om op hom te vertrou nie.
8 Want daar is ‘n vriend volgens die tyd, maar wat nie vas staan in die dag van benoudheid nie.
9 Daar is ‘n vriend wat verander word in ‘n vyand, en hy openbaar jou smadelike regsaak.
10 Daar is ‘n vriend wat ‘n disgenoot is, maar hy word nie gevind in die dag van kwelling nie.
11 Wanneer dit met jou goed gaan is hy soos jy, maar as dit met jou sleg gaan, laat hy jou in die steek.
12 As ‘n kwelling jou oorval, draai hy hom teen jou en hy verberg homself vir jou.
13 Skei jou af van jou haters en wees op jou hoede teen jou vriende.
14 ‘n Getroue vriend is ‘n sterk vriend, en wie hom vind, het ‘n skat gevind.
15 Vir ‘n getroue vriend is daar geen prys nie, en daar is geen gewig [aan silwer] vir sy waarde nie.
16 ‘n Bondel van lewe is ‘n betroubare vriend, hy wat JaHWeH vrees, sal hom verkry.
17 [Hy wat JaHWeH vrees, sal sy vriendskap opreg maak], want soos hy is, so is sy vriend, en soos sy naam is, so is sy werke.

Oor Wysheid.
18 MY seun, neem van jou jeug af Tugtiging aan en tot in die grysheid sal jy Wysheid verkry.
19 Nader Haar soos een wat ploeg en soos een wat oes en wag op die oorvloed van Haar opbrengs, want in die bearbeiding van Haar sal jy min hoef te doen en spoedig sal jy van Haar vrugte kan eet.
20 Moeilik is Sy vir die dwaas, en hy wat min verstand het, kan Haar nie vat nie.
21 Soos ‘n swaar klip sal Sy op hom wees, en hy sal nie aarsel om Haar weg te werp nie.
22 Want Wysheid, is soos Haar Naam, Sy is nie toeganklik vir almal nie.
23 Luister, My seun, en neem My lering aan en moenie My raad verwerp nie.
24 En plaas jou voete in Haar net en jou nek in Haar boeie.
25 Strek jou skouer uit en tel Haar op en moenie ‘n afkeer hê aan Haar bande nie.
26 Benader Haar met jou hele wese en bewaar Haar Weë met al jou mag.
27 Ondersoek, spoor na, soek en vind uit en gryp Haar vas en moet Haar nie loslaat nie.
28 Want uiteindelik sal jy in Haar rus vind, en Sy sal vir jou verander word in uitbundige Vreugde.
29 En Haar net sal vir jou wees ‘n plek van sterkte, en Haar bande [sal wees] kledingstukke van fyn goud.
30 Haar juk is ‘n ornament van goud, en Haar bande is ‘n koningsblou ketting.
31 Jy moet jou met Haar beklee in glansryke kledingstukke en jy moet jou met Haar omring soos ‘n sierlike kroon.
32 As jy Haar begeer, My seun, sal jy wys gemaak word, en as jy Haar ter harte neem, sal jy skrander word. [Odes van Salomo 30:7]
33 As jy kom om te luister, neig jou oor sodat jy onderrig kan word.
34 [In die vergadering van die oudstes sal jy staan, en aan Hom wat Wys is, sal jy vaskleef.]
35 Wees gretig om elke bespreking te hoor en moenie dat ‘n spreuk van verstand jou ontglip nie.
36 Kyk na iemand wat verstandig is en soek hom vroeg en laat jou voet die drumpel van [sy huis] uittrap.
37 En jy moet die Vrees van JaHWeH bedink en bepeins voortdurend Sy Gebooie. En Hy sal jou hart verstandig maak en Hy sal jou die Wysheid gee na wat jou begeerte is.

7. Vermanings en voorskrifte.
1 MOENIE kwaad doen nie, en laat kwaad jou nie oorval nie;
2 verwyder jou ver van Ongereg-tigheid, en sy sal van jou af wyk.
3 Moenie op ploeglande van Ongeregtigheid saai dat jy haar nie sewevoudig oes nie.
4 Moenie van JaHWeH heerskappy soek nie en ook nie van die koning ‘n sitplek van eer nie. [MattithJaHûW 20:22]
5 Moenie jouself voor die Aangesig van JaHWeH regverdig nie, moenie voor die koning jouself verstandig hou nie.
6 Moenie soek om ‘n regter te wees as jy geen vermoë het om die oormoed te bedwing nie, dat jy vanweë ‘n vors nie hoef te vrees nie, en ‘n smet op jou opregtheid geplaas word nie.
7 Moenie jouself aan Ongeregtigheid oorgee te midde van die vergadering [in] ‘n stad nie, dat hulle jou in die samekoms nie mag neerwerp nie.
8 Moenie saamsweer om ‘n oortreding te verdubbel nie, want in een sal jy nie onskuldig gehou word nie.
9 Moenie sê: Elohim merk die menigte van my geskenke, en as ek aan El, die Hoogste El, ’n bydrae [nader bring], sal HY [dit] aanneem nie.
10 Moenie wankelmoedig wees in die gebed nie, en in aalmoese gee moet jy nie nalatig wees nie.
11 Moenie ‘n man verag wat in bitterheid van gees is nie, want onthou, daar is Een wat verhef en verneder.
12 Moenie geweld versin teen ‘n broer nie, en so ook nie teen beide ‘n vriend en ‘n metgesel nie.
13 Moenie ‘n behae daarin skep om leuen op leuen te vertel nie, want sy verwagting sal nie aangenaam wees nie.
14 Moenie babbel in die vergadering van die vorste nie en moenie ‘n woord in die gebed herhaal nie.
15 Moenie die moeite van ingespanne arbeid haat nie, want dit is deur Elohim verorden. [Genésis 3:19]
16 Moenie jouself reken onder die manne wat oortree nie, onthou dat die Toorn nie sal uitbly nie.
17 Verneder grootliks jou trots, want die hoop van ‘n adamiet is wurms. Moenie haastig wees om te sê nie: "Tot verbreking!" Werp jou op Elohim en verlustig jou in Sy weg.
18 Moenie ‘n vriend vir ‘n prys verruil en ‘n getroue broer vir die goud van Ofir nie.
19 Moenie ‘n wyse en suiwer vrou afwys nie, want [haar] waarde is beter as pêrels.
20 Moenie ‘n betroubare dienskneg in der waarheid sleg behandel nie en ook nie die huurling wat homself aan jou toevertrou het nie.
21 ‘n Verstandige dienskneg moet jy soos [jou eie] siel liefhê, moenie die vryheid van hom weerhou nie.
22 Het jy vee, kyk [daarna met] jou oë, en as hulle winsgewend is, behou dit.
23 Het jy seuns? Tugtig hulle en neem vir hulle vroue in hulle jeug.
24 Het jy dogters, waak oor hulle liggame en moenie die gesig oor hulle laat straal nie.
25 Laat die dogter uitgaan [in die huwelik], en bekommernis sal [uit jou huis uit] wyk, en verbind haar aan ‘n verstandige man.
26 Het jy ‘n vrou, moenie haar verafsku nie en moenie op haar wat gehaat is, vertrou nie.
27 Eer jou vader met jou hele hart en moenie die moeder wat jou voortgebring het, vergeet nie.
28 Onthou dat jy uit hulle voortgekom het, en hoe sal jy aan hulle kan vergeld wat hulle aan jou gedoen het?
29 Vrees JaHWeH met jou hele hart en eerbiedig Sy priesters.
30 Met jou hele wese moet jy jou Maker liefhê, en die wat Hom dien, moet jy nie verlaat nie.
31 Loof en prys JaHWeH en eerbiedig die priester en gee hulle deel, soos jy beveel is: die eerstelinge, die oortreding vir skuld, die bydrae van die Skouer, die bydrae van suiwering en die eerstelinge van die Aparthede.
32 Strek die hand ook uit na die behoeftige, sodat jou seën suiwer kan wees.
33 Gee ‘n geskenk vir elkeen wat lewe, en ook van die dode moet jy die geskenk nie weerhou nie.
34 Moenie jouself terughou van die wat huil nie en treur met die treurendes.
35 Moenie die sieke [vriend] vergeet nie, want deur hom sal jy geliefd wees.
36 In al jou werke, dink aan die einde, en vir ewig sal jy nie verderf word nie.

Hoofstuk 8.
1 MOENIE met ‘n groot man ‘n regsgeding aangaan nie, waarom sal jy teen sy hand draai? Moenie met een wat verhard teen jou is, twis nie, waarom sal jy in sy hand val?
2 Moenie rusie maak met die man wat ryk is dat hy nie jou prys afweeg, en jy te gronde gaan nie. Want goud het vele roekeloos gemaak, en besittings laat die hart van vorste dwaal.
3 Moenie met ‘n grootprater twis nie en moenie hout op vuur lê nie.
4 Moenie omgang hê met ‘n dwase man nie dat hy nie vorste verag nie.
5 Moenie ‘n man wat van ‘n oortreding teruggekeer het, verneder nie, onthou dat Ons almal Ons straf skuldig is.
6 Moenie ‘n gryse man bespot nie, want Ons sal [self eenmaal] onder die oues getel word.
7 Moenie jou oor iemand wat dood is, verheug nie, onthou dat Ons almal versamel sal word.
8 Moenie die oordenking van die wyses verwaarloos nie en hou jouself besig met hulle spreuke, want daaruit sal jy onderrig ontvang om voor vorste te staan.
9 Moenie die redevoering van die oues verwerp nie: want hulle het ook van hulle vaders geleer en deur hulle sal jy insig ontvang dat jy in die tyd van jou nood [in staat mag wees] om ‘n antwoord te gee.
10 Moenie voorspoedig wees by die kolegloed van die besoedelde dat jy nie brand met die vlam van sy vuur nie.
11 Moenie as gevolg van die spotter opspring [in toorn] dat hy hom [nie] neerplaas soos een wat vir jou ‘n hinderlaag lê nie.
12 Moenie aan ‘n man uitleen wat sterker as jy is nie, want as jy uitleen [is jy] soos een wat te gronde gaan.
13 Moenie borg staan bo jou vermoë nie, want as jy borg staan, [is jy] soos een wat moet betaal.
14 Moenie ‘n regsgeding aangaan met ‘n regter nie, want volgens sy welgevalle sal hy oordeel.
15 Moenie saam met die wreedaard wandel dat jy nie jou smart verswaar nie, want hy sal sy eie sin volg en deur sy dwaasheid sal jy ondergaan.
16 Met ‘n toornige man moet jy die voorhoof nie hard maak nie en moenie met hom op die Weg ry nie, want gestorte bloed is gering in sy oë, en as daar geen hulp is nie, sal hy jou vernietig.
17 Met ‘n dwaas moet jy nie verkeer nie, want hy sal nie in staat wees om jou geheim te hou nie.
18 Voor ‘n vreemdeling moet jy nie geheimsinnig handel nie, want jy weet nie wat hy uiteindelik [daarmee] sal uitrig nie.
19 Aan alle mense moet jy jou hart nie openbaar nie en moenie die suiwer [dinge] van jou af verwyder nie.

9. Oor Vroue.
1 MOENIE jaloers op die vrou van jou liefde wees nie, dat sy nie besoedelde dinge aangaande jou leer nie.
2 Moenie jouself aan ‘n vrou gee om haar op jou manlikheid te laat trap nie.
3 Moenie ‘n verbasterde vrou nader dat jy nie in haar strikke val nie. Met een wat vermeng moet jy nie verkeer dat jy nie in haar nette gevang word nie.
4 By ‘n spotsangeres moet jy nie slaap dat hulle jou nie met hul mond brand nie.
5 Op ‘n jong meisie moet jy jou aandag nie vestig dat jy nie gevang word deur die boetes wat haar opgelê word nie.
6 Moenie jouself aan een wat vermeng gee dat sy jou Erfenis [kinders uit vermenging] nie wegneem nie,
7 dat jou oë in die aanskouing nie verwelk, en jy nie verlate is agter haar huis nie.
8 Verberg die oog vir ‘n mooi vrou en betrag nie die skoonheid wat nie vir jou is nie. Deur die bevalligheid van ‘n vrou is baie verwoes, en so verteer sy haar bemindes met vuur.
9 Met ‘n getroude vrou moet jy nie [voedsel] proe nie en moenie met haar sterk drank geniet dat [jou] hart nie tot haar neig, en jy in gestorte bloed na die Afgrond neerdaal nie.

Oor Vriende.
10 MOENIE ‘n ou vriend verlaat nie, want ‘n nuwe [is nie sy gelyke nie]. Nuwe wyn is ‘n nuwe vriend, maar as dit oud is - dan mag jy dit drink.
11 Moenie jaloers wees op ‘n wettelose man nie, want jy weet nie wat sy einde sal wees nie.
12 Moenie vererg wees oor die vermetelheid van hom wat voorspoedig is nie, onthou dat hy in die tyd van die dood nie onskuldig gehou sal word nie.
13 Bly ver weg van die man wat die mag het om dood te maak, en jy sal nie hoef te vrees vir die verskrikkinge van die Dood nie. En as jy naby [hom] kom, moenie jou skuldig maak dat hy nie jou lewe wegneem nie. Weet dat jy tussen strikke loop en op ‘n vangnet wandel.
14 As dit in jou vermoë is, beantwoord jou vriend en gesels met die wyses.
15 Wissel gedagtes met die verstandige en [laat] elke vertroulike gesprek tussen hulle wees.
16 Laat regverdige manne saam met jou eet en in die Vrees van JaHWeH jou roem wees.

Oor regeerders.
17 ‘N AMBAGSMAN word geken deur vaardige hande, ‘n regeerder deur sy woorde van wysheid.
18 ‘n Gevaar vir die Stad is ‘n loslippige man, en hy wat haastig met sy mond is, sal gehaat word.

Hoofstuk 10.
1 DIE regter van ‘n volk onderrig sy volk, en die koninkryk van die verstandige is goed georden.
2 Soos die regter van ‘n volk is, so is sy ondergeskiktes, en soos die hoof van ‘n stad is, so is sy inwoners.
3 ‘n Roekelose koning verwoes ‘n Stad, maar deur die insig van haar vorste word ‘n Stad bewoon; so is haar inwoners.
4 In die Hand van JaHWeH is die heerskappy van die wêreld, en op tyd stel Hy ‘n man oor haar aan.
5 In die Hand van Elohim is die heerskappy van elke man, en vir die vors stel Hy sy Glansrykheid.

Oor hoogmoed.
6 MOENIE by elke oortreding kwaad aan jou naaste vergeld nie en moenie in die weg van hoogmoed wandel nie.
7 Hoogmoed is haatlik vir JaHWeH en vir die adamiet, en vir albei is onderdrukking ‘n gruwel.
8 Die koningskap word oorgeplaas van nasie op nasie as gevolg van onreg, brutaliteit en geld.
9 Hoe sal hy wat stof en as is, homself verhef, hy wie se liggaam [reeds] tydens sy lewe vergaan?
10 ‘n Lang siekte maak ‘n sot van die geneesheer, die koning van vandag, is môre ‘n lyk.
11 Wanneer ‘n man sterwe, erf hy wurms en maaiers, luise en kruipende gedierte.
12 Hoogmoed begin wanneer die adamiet sy Elohey verlaat het, en hy sy hart van sy Maker afkeer.
13 Want hoogmoed baar oortreding en wie daaraan vashou, vloei oor van gruwels, daarom sal JaHWeH hom met ‘n plaag besoek en hom totaal vernietig.
14 JaHWeH keer die troon van die hoogmoedige prinse om en Hy plaas die ootmoediges in hulle plek.
15 JaHWeH ruk die wortels van die hoogmoedige nasies uit, en plant die nederiges in hulle plek.
16 JaHWeH wis die spore van die hoogmoedige nasies uit en Hy kap hulle wortels tot [in] die Aarde af
17 en Hy vee hulle van die Aarde af weg en ontwortel hulle en laat hulle gedagtenis van die Aarde af verdwyn.
18 Hoogmoed pas die adamiet nie, en woedende toorn nie vir hom wat uit ‘n vrou gebore is nie.

Verskuldigde eerbewys.
19 HULLE wat JaHWeH vrees, is die saad van Waarheid, en hulle wat HOM liefhet, ‘n eerbare plant: Hulle wat die Wet verwerp, is ‘n oneerbare plant; hulle wat die Gebooie oortree, is saad van bedrog.
20 Onder broers word hul hoof geëer, so ook hulle wat JaHWeH vrees onder [die volk].
21 Die vreemdeling en die ootmoedige, die uitlander en die arme,
22 laat hulle hul roem in die Vrees van JaHWeH.
23 ‘n Arme wat Insig het, is nie te verag nie, en nie elke verstandige man moet geëer word nie.
24 ’n Magtige, ‘n vors en ‘n regter word geëer, maar daar is niemand groter as hy wat JaHWeH vrees nie.
25 ‘n Verstandige dienskneg word verhoog, en ‘n wyse dienskneg sal nie kla nie.

Verkeerde en regte selfrespek.
26 MOENIE jouself wys hou wanneer jy jou werk doen nie en moenie spog in die tyd van jou nood nie.
27 Hy wat werk en eiendom in oorvloed het, is beter as die verwaande wat homself vereer en ‘n gebrek aan brood het.
28 My seun, verhoog jouself in nederigheid en gee vir jouself die suiwer dinge soos dit gepas is.
29 Hy wat teen homself oortree, wie sal hom regverdig verklaar? En wie sal hom eer wat homself in die skande bring?
30 Daar is ‘n arme wat geëer word op grond van sy Insig, en die ryke op grond van sy besittings.
31 Hy wat geëer word [in sy armoede], hoeveel te meer in sy rykdom? En hy wat veragtelik is in sy rykdom, hoeveel te meer in sy armoede?

No comments: