Tuesday, September 6, 2011

Wanneer Vader aan die Nek Gryp.


Ek hoop die wat gereeld lees het my darem verlede week so bietjie gemis toe daar niks op die blog geplaas is nie.

Ek wil so bietjie vertel wat gebeur het en ook getuig hoe wonderbaarlik Vader YHWH ingegryp het

Ek en my kollega is geruime tyd reeds met ons werkgewer in ’n stryd gewikkel rakende opleiding. Verlede jaar het die werkgewer onderneem om vir ons verdere studies te betaal. Ons het seker gemaak dat ons aansoek deur al die regte kanale gaan. Daar is dus voorsiening gemaak in die werkgewer se opleidings program, in die begroting en dit is goedgekeur deur die Munisipale Bestuurder.

Toe ons in Januarie 2011 die betaling aan die Universiteit moes doen toe word daar besluit deur die Bestuurder Finansiële Dienste dat hulle nie vir die opleiding en die reis kostes gaan betaal nie. Die besluit is ondersteun deur die nuwe Munisipale Bestuurder wat waarneem in die vorige een se pos (die is geskors – deesdae omtrent die norm in Munisipaliteite).

Ons het al ons dokumentasie bymekaargekry – die opleidings plan en die brief wat die Munisipale Bestuurder geskryf het aan die Universiteit dat hulle onderneem om al die koste te betaal. Die ondersteunende dokumente en ’n skriftelike versoek is aan die werkgewer gestuur om die betaling te heroorweeg.
Hulle het (soos verwag) botweg geweier. Die probleem was dat almal kwaad was vir ons omdat ons ons opleidings behoeftes op die korrekte wyse in die begroting laat opneem het en hulle het versuim om dieselfde te doen.

Dit was half te laat om kop uit te trek uit die opleiding omdat daar vir die hele sentrale streek bitter min buitemuurse studente ingeneem word en die kwalifikasie faseer uit in die volgende twee jaar. Daarna sal jy 3 jaar voltydse studie moet onderneem om dieselfde kwalifikasie te verwerf.

Ons het voortgegaan met ons studies en het al die koste daaraan verbonde uit ons eie sakke betaal. Intussen het ons die saak na die vakbond verwys vir rekonsiliasie. Die rekonsiliasie kon nie plaasvind en die saak is verwys vir arbitrasie deur ’n kommissaris van die CCMA.

Ons het sorgvuldig al ons dokumentasie vir die saak voorberei maar daar was twee belangrike dokumente wat ons nie in die hande kon kry nie naamlik die Raad se besluit waar die opleiding goedgekeur is asook die besluit van die Plaaslike Arbeids Forum wat die opleiding aanbeveel vir goedkeuring aan die Raad.

Ek het uitgevind dat dit, die Raad se besluit en Plaaslike Arbeids Forum se aanbeveling die basis sal wees waarop hul verdediging sal berus asook dat daar nie in die begroting voorsiening gemaak is nie.
Ek het my bes probeer om dokumentêre bewyse te verkry vir die besluite, maar daar was niks beskikbaar en dit blyk dat die opleidings plan glad nie voor die Raad gedien het nie.
Die begroting was net so probleem om in die hande te kry, dit lyk my begrotings is deesdae ’n staatsgeheim in munisipaliteite.

Die eerste arbitrasie verhoor het plaasgevind en dit het tog gelyk of die kommissaris meer na ons kant toe neig maar die uitstaande bewyse sou ons saak bo enige redelike twyfel kon bewys. Die saak is verder uitgestel sodat die werkgewer getuies kon inroep.

’n Week voor die verhoor het die werkgewer versoek dat die saak verder uitgestel word omdat die Munisipale Bestuur en Bestuurder Finansiële Dienste nie beskikbaar sou wees nie – hulle kerjakker weer rond agter kongresse aan. Hierdie was een te veel vir die kommissaris en sy het besluit dat geen uitstel verleen word nie omdat dit lyk of die werkgewer nie die saak ernstig genoeg beskou nie.

Wel, laas Vrydag daag al twee die menere daar op om te getuig en ons was effens benoud want die bewyse vir die goedkeuring het nie bestaan nie maar gelukkig kon ons ’n afskrif van die begroting in die hande kry. Die persoon wat vir ons die begroting in die hande gekry het, het net die vorige week sy hele kantoor skoongemaak en alles weggegooi wat hy nie gebruik nie. Daar was geen begroting beskikbaar tussen sy dokumente nie. Twee dae later kry hy onverklaarbaar een op sy kas in die kantoor en kon ons so een in die hande kry.

Tydens die verhoor is die Bestuurder Finansiële Dienste eerste ingeroep om te getuig vir die werkgewer.
Hy was verskriklik senuweeagtig, ek sou ook seker gewees het as ek geweet het wat op my wag.

Tydens sy getuienis het ek gesien wat gebeur wanneer Vader iemand aan die nek gryp en hy dinge sê wat hy nie veronderstel is om te sê nie of geen beheer oor het nie.
Die werkgewer se prokureur vra die getuie om te getuig oor die opleidings plan – wat dit is en hoe dit werk (die bedoeling was dat hy moes getuig dis net ’n voorgestelde plan en dit word nie noodwendig so geïmplementeer nie en dat goedkeuring slegs deur ’n sub-komitee geskied wat oor geen bevoegdhede beskik nie.

Raai wat getuig die man toe?

“Die opleidings plan word deur die Munisipale Bestuurder goedgekeur, dis is nie nodig vir die Raad om dit goed te keur nie omdat die Munisipale Bestuurder gedelegeer is om dit namens die Raad goed te keur. (ons eerste probleem met Raads goedkeuring word sommer net daar opgelos) Verder getuig hy dat die sub-komitee ’n volle gemagtigde sub-komitee van die Plaaslike Arbeids Forum is en dat hulle die plan goedgekeur het vir aanbeveling. (probleem nommer twee opgelos)

Die arme man was later so verbouereerd met sy eie getuienis en na verdere ondervraging deur die kommissaris het hy die kommissaris probeer oortuig dat hy sy getuienis wil terug trek.

Ja, boetie, jy het nog nie geleer wat gebeur wanneer jy een van Vader se kinders kwaad probeer aandoen nie.

Ek is dankbaar vir wat YHWH aan ons gedoen het en hoe Hy die bewyse op wonderbaarlike wyse aan die lig laat kom het.

Die kommissaris sal haar besluit maak en ons sal oor sowat drie weke presies weet wat was haar besluit, maar ons glo dat ons Koning aan ons reg en geregtigheid sal laat geskied.

No comments: