Wednesday, September 14, 2011

DIE BOEK EKKLESIASTIKUS


Ek het al by vorige geleenthede heelwat aangehaal vanuit die boek Die WYSHEID van JeHôWshua ben Sirah of te wel Die Boek van Ekklesiastikus.Aangesien dit vir my so treffende boek is het ek besluit om die volgende paar weke die hele boek te plaas sodat almal toegang het tot die hele boek van Ekklesiastikus. Indien jy lief is vir die Psalms van Dawid dan sal julle beslis die boek ook geniet en ek bid dat die inhoud daarvan vir elkeen tot groot vreugde en genade sal wees.

Daar is veskeie vertalings van die Bybel waarin die Boek van Ekklesiastikus steeds voorkom. Die nuuskieriges moet self so bietjie verder gaan navorsing doen oor die boek.

Ek sal die boek so 5 hoofstukke per slag op die blog sit.

Die WYSHEID van JeHôWshua ben Sirah

SIRAG

Wat ook genoem word DIE BOEK EKKLESIASTIKUS
Proloog

OMDAT baie en groot dinge deur die Wet en die Profete en die ander [geskrifte] wat ná hulle gekom het, aan ons oorgelewer is - ter wille waarvan dit betaamlik is om JisraEl weens sy kultuur [onderrig] en wysheid te roem - en terwyl nie alleen die lesers self onderrig moet word nie, maar ook die leergieriges van die buiteland deur woord en geskrif bevoordeel moet word, het my grootvader JeHôWshua, wat hom voortdurend met die lees van die Wet en die Profete en die ander Boekrolle van die vaders besig gehou het en daarin tuis was, daartoe gekom om self ook iets wat op kultuur en Wysheid betrekking het, te skrywe, sodat diegene wat leergierig is hulle ook daaraan mag hou en allengs mag voortgaan om ‘n lewe volgens die Wet te lei.
Die lesers word daarom versoek om hierdie [boek] met welwillendheid en opmerksaamheid te lees en om oor te sien as dit sou blyk dat, terwyl die hoofinhoud saaklik vertaal is, enkele uitdrukkings nie suiwer weergegee is nie. Immers, wat oorspronklik in Hebreeus gesê is, behou nie volkome dieselfde betekenis as dit in ‘n ander taal weergegee word nie. En nie alleen hierdie [boek] nie, maar ook die Wet en die Profete en die orige Boekrolle verskil in ‘n nie geringe mate wanneer hulle in hul oorspronklike vorm gespreek word. Terwyl ek dan in die agt-en-dertigste jaar onder koning Euergetes na Egipte gekom en ‘n tydlank daar vertoef het, het ek ‘n nie geringe verskil in kultuur gevind nie. Ek het dit dus noodsaaklik geag om self ook ywer en liefdesarbeid te bestee om hierdie boek te vertaal, terwyl ek in die tussentyd baie slaaploosheid en studie bestee het om die boek te voltooi en uit te gee, ook vir die wat in die vreemde graag wil leer en tewens bereid is om hulle lewenswandel volgens die Wet in te rig.


1. Die oorsprong van die Wysheid.
1 ALLE Wysheid is van JaHWeH, en by HOM is Sy vir ewig.
2 Die sand van seë en die druppels van die reën en die dae van die ewigheid - wie kan [dit] tel?
3 Die hoogte van die Hemele en die wydte van die Aarde en die diepte en die Wysheid - wie kan [hulle] naspeur?
4 Voor alles is die Wysheid geskape, en verstandige Insig is van ewigheid af.
6 Die wortel van Wysheid, aan wie is Sy geopenbaar? En Haar verfynde gedagtes, wie het Haar geken?
8 Slegs Een is wys, wat grootliks gevrees moet word; JaHWeH wat op SY Troon sit.
9 HÝ het Haar geformeer, Haar geïnspekteer en Haar geweeg, en HY het Haar uitgegiet oor al SY werke,
10 aan alle vlees, volgens sy mate, en HY het Haar vermenigvuldig vir hulle wat HOM liefhet.

Die Vrees van JaHWeH is Wysheid.
11 DIE Vrees van JaHWeH is glansrykheid en Majesteit en Blydskap en ‘n sierlike kroon.
12 Die Vrees van JaHWeH verbly die hart en gee vrolikheid en Vreugde en lengte van dae.
13 Die man wat JaHWeH vrees, sal ‘n suiwer einde hê, en op sy sterfdag sal hy geseënd wees.
14 Die begin van Wysheid is die Vrees van JaHWeH, en saam met die getroues is Hulle in die moederskoot geformeer.
15 Saam met betroubare manne is Sy van ewigheid af bevestig, en aan hulle saadlyn sal Sy vashou.
16 Die versadiging van Wysheid is die Vrees van JaHWeH, want Sy bedwelm hulle met Haar vrug.
17 Haar hele Huis vul Sy met begeerlike dinge, en skatkamers met Haar opbrengs.
18 Die kroon van die Wysheid is die Vrees van JaHWeH, Sy laat Vrede en gesonde lewe bloei.
19 Verstand en Kennis giet Sy uit, en die Eer van hulle wat Haar vashou, verhoog Sy.
20 Die wortel van Wysheid is die Vrees van JaHWeH, en Haar takke is lengte van dae. Die Vrees van JaHWeH verdryf oortreding en waar Sy teenwoordig is, wend Sy toorn af.
21 ‘n Besoedelde se toorn sal nie verskoon word nie, want die gloed van sy toorn [dien tot] sy ondergang.
22 ‘n Tyd lank sal die lankmoedige homself bedwing, en daarna gee Sy vir hom Vreugde.
23 ‘n Tyd lank sal hy sy woorde inhou, dan sal betroubare lippe sy wysheid vertel.
24 In die skatkamers van Wysheid is spreuke van Verstand; [maar] die Vrees vir Elohim is ‘n gruwel vir die wettelose.
25 Het jy behae in Wysheid, bewaar die Gebod, en JaHWeH sal Haar vir jou vermeerder.
26 Want Wysheid en Tug is die Vrees van JaHWeH, en SY welgevalle is Trou en Ootmoed.
27 Moenie verbitter wees in die Vrees van JaHWeH nie en moenie tot HOM nader met ‘n dubbele hart nie.
28 Gedra jou nie kranksinnig in die gesig van die adamiete nie en gee ag op jou lippe.
29 Moenie jouself verhef, sodat jy nie val en skande oor jouself laat kom nie, en JaHWeH jou geheime openbaar en Hy jou te midde van die vergadering neerwerp nie. Want jy het nie genader tot die Vrees van JaHWeH nie, en jou hart was vol bedrog.

2. Betekenis en kenmerk van die Vrees van JaHWeH.
1 MY seun, as jy nader kom om JaHWeH te dien, berei jouself voor vir die versoeking.
2 Stel jou hart [reg] en wees sterk en moenie bevrees wees in die tyd van kwelling nie.
3 Kleef aan Hom vas en moet Hom nie laat gaan nie, sodat jy groot mag wees aan die einde van jou [lewe].
4 Aanvaar al wat oor jou kom en wees geduldig in siekte en armoede.
5 Want in vuur word goud getoets, en die adamiet wat aanvaarbaar is, in die oond van beproewing.
6 Stel jou vertroue in Hom, en Hy sal jou help, hoop op Hom, en Hy sal jou weë reguit maak.
7 Julle wat JaHWeH vrees, wag op Sy Guns en moenie wegdraai nie, sodat julle nie val nie.
8 Julle wat JaHWeH vrees, vertrou op Hom, en julle beloning sal nie faal nie.
9 Julle wat JaHWeH vrees, wag vir die suiwer [dinge] en vir ewigdurende Vreugde en Guns.
10 Aanskou die vroeëre geslagte en kyk, wie het in JaHWeH geglo en is beskaam? Of wie het in Sy Vrees gestaan en is bedrieg? Of wie het Hom aangeroep, en het Hy Homself vir hom verberg?
11 Want barmhartig en vol Medelye is JaHWeH en Een wat wetsverbreking vergewe en wat red in die tyd van benoudheid.
12 Wee die wankelmoediges en diegene met slap hande en die wettelose wat op dubbele weë gaan.
13 Wee die weekhartige, want hy sal nie glo nie, daarom sal hy nie beskut word nie.
14 Wee julle wat die hoop vernietig het, want wat sal julle doen as JaHWeH [julle] besoek?
15 Hulle wat JaHWeH vrees, sal Sy woorde nie ongehoorsaam wees nie, en hulle wat Hom liefhet, sal Sy Weë bewaar.
16 Hulle wat JaHWeH vrees sal Sy welbehae soek, en hulle wat Hom liefhet, sal met die Wet vervul wees.
17 Hulle wat JaHWeH vrees, sal hulle hart voorberei en voor Hom sal hulle hulself verootmoedig.
18 Laat Ons tog val in die Hand van JaHWeH en nie in die hand van die mens nie. Want soos Sy grootheid, so is ook Sy Guns, en soos Sy Naam, so is Sy dade.

3. Kinderplig.
1 LUISTER, o kinders, na die oordeel van [jul] vader en handel daarvolgens, sodat julle mag lewe.
2 Want JaHWeH het die vader geëer ten opsigte van die kinders en die oordeel van die moeder bevestig ten opsigte van die kinders,
3 Hy wat die vader eer, sal oortreding bedek
4 en hy wat sy moeder eer, sal wees soos een wat skatte vergader.
5 Hy wat die vader eer, sal Vreugde hê van [sy] kinders en wanneer hy bid, sal hy geantwoord word.
6 Hy wat die vader eer, sy dae sal verleng word, en hy wat sy moeder eer, sal wees soos een wat deur JaHWeH beloon word.
7 Hy wat JaHWeH vrees, eer sy vader en hy eer sy ouers soos sy meerderes.
8 My seun, eer jou vader in woord en daad, sodat allerlei seëninge jou mag inhaal.
9 Die seën van die vader bevestig die huise van kinders, maar die vloek van die moeder ruk die fondamente uit.
10 Moenie jouself eer met die skande van jou vader nie, want dit is geen eer vir jou nie.
11 Die eer van ‘n man is die eer van sy vader, en hy vermenigvuldig oortreding wat sy moeder vloek.
12 My seun, maak jouself sterk in hulp aan jou vader en moenie hom verlaat al die dae van jou lewe nie.
13 En selfs as sy kennis verminder, neem hom in ag en moenie hom tot skande maak nie al die dae van jou lewe.
14 Die gehoorsaamheid aan die vader [betoon] sal nie uitgewis word nie en in die plek van oortreding sal dit geplant word.
15 In die dag van benoudheid sal hulle vir jou in herinnering gebring word, soos hitte op ys sal dit wees om jou wetsverbreking uit te wis.
16 Want een wat vermetel handel, is hy wat sy vader verag, en hy wat sy Skepper vertoorn, is een wat sy moeder vloek.

Ootmoed.
17 MY seun, as jy welvarend is, wandel in nederigheid en jy sal bemind word meer as een wat geskenke gee.
18 Maak jouself gering ten opsigte van al die groot dinge van [hierdie] eeu, en voor die Aangesig van JaHWeH sal jy Barmhartigheid vind.
20 Want baie is die dade van Barmhartigheid van JaHWeH, en aan die nederiges openbaar Hy Sy geheim,
21 Moenie die dinge soek wat te wonderlik is vir jou nie en moenie ondersoek instel na wat vir jou verberg is nie.
22 Dink na oor dit wat jy besit en hou jouself nie besig met geheimenisse nie.
23 En moenie te doen hê met dit wat buite jou is nie, want meer is aan jou geopenbaar as wat jy kan behartig.
24 Want die verwaandhede van die seuns van die Adam is baie, en besoedelde inbeeldinge laat dwaal.
25 As daar geen oogappel is nie, ontbreek die Lig, en as daar geen Kennis is nie, ontbreek Wysheid.
26 ‘n Trotse hart stink aan sy einde, maar hy wat suiwer dinge liefhet, sal deur hulle gelei word.
27 ‘n Trotse hart - sy smarte sal vermeerder, en een wat besoedel is, voeg ongeregtigheid by ongeregtigheid.
28 Moenie jou haas om die wond van die spotter te genees nie, want daar is vir hom geen genesing nie, want ‘n uiters slegte plant is sy plant.
29 'n Wyse hart verstaan spreuke van die wyses, en die oor wat luister na wysheid sal hom verheug.
30 Water blus ‘n verterende vuur, so bedek Geregtigheid die oortreding.
31 Hy wat goed doen - dit sal hom uitroep op sy paaie, en in die tyd van sy wankeling sal hy ‘n steun vind.

4. Die regte houding teenoor die behoeftiges.
1 MY seun, moenie spot met die lewe van die ellendige nie en moenie die siel van die ellendige en een wat bitter van siel is, laat versmag nie.
2 Moenie die behoeftige siel verag nie en moet jouself nie verberg van dié wat verbryseld van siel is nie. Moenie die gevoelens van die onderdrukte seermaak nie
3 en moenie die binneste van die ellendige pynig nie. Moenie ‘n geskenk terughou van ‘n armoedige nie.
4 Moenie die smekinge van die arme verag nie,
5 en moenie jou rug op hom keer nie.
6 As die verbitterde van gees uitroep in die smart van sy siel, dan hoor sy Rots die stem van sy geroep.
7 Maak jouself bemind by die vergadering en buig die hoof vir die Vors van die Stad.
8 Neig jou oor tot die ellendige en beantwoord sy groet in nederigheid.
9 Verlos die verdrukte van sy verdrukkers en laat jou gees geen afsku hê aan ‘n regverdige oordeel nie.
10 Wees soos ‘n vader vir die wese en in die plek van ‘n man vir die weduwees. En Elohim sal jou "seun” noem en Hy sal aan jou Medelye betoon en jou verlos van die verderf.

Vrug van die Wysheid.
11 WYSHEID onderrig Haar kinders en waarsku almal wat op Haar ag gee. [Spreuke van Salomo 6:23]
12 Hulle wat Haar liefhet, het die lewe lief, en hulle wat Haar soek, sal die welgevalle van JaHWeH ontmoet.
13 En hulle wat Haar aangryp, sal Eer by JaHWeH vind en hulle sal rus in die seën van JaHWeH.
14 Dienaars van die Aparte Een is hulle wat Haar dien, en JaHWeH het dié lief wat Haar liefhet.
15 Hy wat na My luister, oordeel [in] Waarheid, en hy wat sy oor tot My neig, sal in die binnekamers van My Huis rus.
16 As iemand op My vertrou, sal hy My beërwe, Ek sal gesien word deur sy nageslagte.
17 Want as vreemdeling sal Ek met hom gaan en aanvanklik sal Ek hom toets met versoekings, tot die tyd wanneer sy hart met My vervul is.
18 [Dan] sal Ek terugkeer, hom reguit lei en My geheime aan hom openbaar.
19 As hy afwyk, sal Ek hom verlaat en Ek sal hom met stroppe tugtig. As hy agter My afwyk, sal Ek hom wegwerp en hom aan die plunderaars uitlewer.

Praktiese voorskrifte.
20 MY seun, gee ag op die tyd van beroering en vrees die kwaad, sodat jy ten opsigte van jouself nie beskaamd hoef te wees nie.
21 Want daar is skande in die geskenk van ongeregtigheid, en daar is ‘n skaamte wat Eer en Guns [bring].
22 Moenie jou aangesig [in vriendelikheid] ophef ten koste van jouself nie, en moenie as gevolg van jou struikelinge te gronde gaan nie.
23 Moenie ‘n woord op [sy] tyd weerhou nie en moet jou wysheid nie verberg nie.
24 Want deur die Woord word Wysheid geken, en Insig deur die antwoord van die tong.
25 Moenie teen die Elohim rebelleer nie, maar verootmoedig jouself voor Elohim.
26 Moenie skaam wees om jou van ongeregtigheid af te keer nie en moenie staan voor die stroom nie.
27 Moenie jouself voor die dwaas uitsprei nie en moenie weier voor heersers nie. Moenie saam met die onregverdige regter sit nie, dat jy nie volgens sy welbehae saam met hom sal oordeel nie.
28 Stry vir Geregtigheid tot die dood toe, en JaHWeH sal vir jou veg. Moenie ‘n tweegesig genoem word nie, en moenie kwaadpraat met jou tong nie.
29 Moenie met jou tong spog nie en wees nie traag en nalatig in jou werk nie.
30 Moenie soos ‘n hond wees in jou huis en tiranniek en vreesaanjaend in jou werk nie.
31 Laat jou hand nie oop wees om te neem en toe wees ten opsigte van ‘n geskenk nie.

Hoofstuk 5.
1 MOENIE steun op jou eie vermoë nie en moenie sê: "Ek het mag” nie; moenie steun op jou eie krag om agter die begeerte van jou siel aan te gaan nie.
2 Moenie agter [die begeertes van] jou hart en jou oë aanloop om te wandel in die begeerlikhede van die kwaad nie.
3 Moenie sê: "Wie het mag [oor my] nie", want JaHWeH soek hulle wat vervolg word.
4 Moenie sê: "Ek het oortree, maar wie kan my enigiets aandoen", want Elohim is lankmoedig” nie. Moenie sê: "JaHWeH is barmhartig en Hy sal al my oortredinge uitdelg” nie.
5 Moenie op vergiffenis vertrou om ongeregtigheid by ongeregtigheid te voeg nie.
6 En [moenie] sê: "Sy dade van Barmhartigheid is baie om die veelheid van my oortredinge te vergewe” nie, want Barmhartigheid en Woede is by Hom, en Sy Woede lê by die wettelose.
7 Moenie nalaat om jou tot JaHWeH te bekeer nie en moenie van dag tot dag uitstel nie. Want plotseling gaan JaHWeH se gramskap uit, en op die dag van wraak word jy uitgewis.
8 Moenie vertrou op valse besittings nie, want hulle sal nie baat op die dag van Toorn nie.
9 Moenie wees soos een wat by elke wind saai en wat hom wend na die weg van die stroom nie.
10 Steun op Kennis en laat jou woord suiwer wees.
11 Wees haastig om gehoor te gee, maar gee jou beslissing met geduld.
12 As dit in jou vermoë is, antwoord jou vriend, en so nie, hou jou hand op jou mond.
13 Eer en skande [kom] deur een wat onnadenkend praat, en die tong van die adamiet is sy ondergang.
14 Moenie ‘n tweegesig genoem word nie en moenie met jou tong van jou naaste kwaadpraat nie. Want op die dief word skande geskep, en ‘n smaad [vir] sy naaste is die tweegesig.
15 Moenie in klein en groot dinge korrup handel nie.

No comments: