Monday, November 7, 2011

DIE BOEK EKKLESIASTIKUS (7)


Hoofstuk 36

1 HY wat die Wet hou, vermenigvuldig die aanbiedinge,
2 hy wat die Gebod bewaar bring ‘n Vrede-aanbieding.
3 Hy wat goedheid vergoed, is een wat fynmeel aanbied,
4 en hy wat wetsgehoorsaam is, is een wat dank aanbied.
5 Dit is JaHWeH welgevallig as iemand afwyk van die kwaad, en [Hy skenk] vergiffenis as iemand onreg vermy.
6 Moenie voor die Aangesig van JaHWeH met leë hande verskyn nie,
7 want al hierdie dinge is deur die Gebod.
8 ‘n Aanbieding van Geregtigheid maak die altaar vet, en sy aangename reuk is voor die Aangesig van JaHWeH.
9 Die spysbydrae van ‘n regverdige man is welgevallig, en sy gedagtenis sal nie vergeet word nie.
10 Loof en prys JaHWeH met ‘n suiwer oog en moenie die aanbieding van jou hand verminder nie.
11 Laat die gesig in al jou werke straal en wy die tiende met Vreugde.
12 Gee aan Hom soos Sy geskenk is vir jou, met ‘n suiwer oog en volgens wat jou hand verwerf het.
13 Want JaHWeH vergoed en sewevoudig gee Hy aan jou terug.
14 Moenie [probeer] omkoop nie, want Hy sal dit nie aanneem nie,
15 en moenie vertrou op ‘n slagdier van verdrukking nie, want JaHWeH is Regter, en daar is by Hom geen partydigheid nie.
16 Hy betoon geen partydigheid teenoor die arme nie, en die smeekbedes van die verdrukte hoor Hy.
17 Hy verontagsaam nie die geroep van die wese of van die weduwee wanneer sy die klag vermenigvuldig nie.
18 Kruip ‘n traan nie oor die wang,
19 en ‘n gesug teen hom wat haar verneder nie?
20 ‘n Bittere begeerte is sodanige gesug, en sodanige geroep buig die wolke.
21 Die noodgeroep van die arme trek deur die Wolkkolom en rus nie totdat dit [die doel] bereik het nie. Dit sal nie verdwyn totdat Elohim besoeking gedoen het
22 en totdat die regverdige Regter Reg gedoen het nie. Ja, Elohim sal nie vertoef nie, en soos ‘n dappere sal Hy Homself nie bedwing totdat hy die lendene van die wreedaard verpletter,
23 en aan die nasies wraak vergeld het nie; totdat Hy die septer van trotsheid verwyder en die staf van ongeregtigheid volkome afgesny het nie;
24 totdat Hy aan die mens sy daad vergeld en die mens ooreenkomstig Sy oogmerk vergeld het nie;
25 totdat Hy die twissaak van Sy volk gevoer, en hulle blydskap in Sy Verlossing is nie.
26 Goed is Sy Guns in ‘n tyd van verdrukking, soos ‘n reënwolk in ‘n tyd van droogte.

Hoofstuk 37 Gebed vir die Verlossing van JisraEl

1 WEES barmhartig op Ons, O JaHWeH, Ons Elohey en aanskou Ons,
2 en stel U skrik op al die nasies;
3 swaai [U hand] oor die vermengde volk dat hulle U Sterkte mag sien;
4 soos U Uself voor hulle oë onder Ons verhoog het, verglans Uself so voor Ons oë onder Ons,
5 dat hulle mag weet, soos Ons weet, dat daar geen Elohim is behalwe U nie.
6 Vernuwe die tekens en herhaal die wonders, verglans die Hand en versterk die Arm en die Regterhand.
7 Wek die Toorn op, giet uit U Woede, en verneder die verdrukker en werp die vyand uit.
8 Verhaas die einde en bepaal die tyd, want wie sal aan U sê: Wat maak U?
9 Mag die wat ontsnap, in vuurgloed verteer word, en mag hulle wat U volk kwel, ondergang vind.
10 Vernietig die hoof: die slape van Moab, van hom wat sê: Daar is niemand behalwe ek nie!
11 Vergader al die stamme van Jakob dat hulle hul Erfdeel mag ontvang soos in die dae van ouds.
12 O JaHWeH, ontferm U oor die volk wat met U Naam genoem word, oor JisraEl, hulle wat U as eersgeborene genoem het. [JeHôWganan 3:18]
13 Ontferm U oor U Stad van Apartheid, Jerusalem, die plek van U verblyf.
14 Vervul Sion met Majesteit en U Tempel met U Glansrykheid.
15 Gee getuienis aangaande die eerste van U werke en bevestig die gesig wat in U Naam gespreek is.
16 Gee beloning aan hulle wat op U hoop dat U Profete hulleself trou mag betoon.
17 O JaHWeH, U sal die gebed van U knegte hoor, ooreenkomstig U welgevalle oor U volk: dat al die eindes van die Aarde mag weet dat U JaHWeH, die ewige El is. [Génesis 21:33]
Onderskeiding tussen goed en kwaad.
18 ALLE voedsel eet die keel, tog is daar voedsel wat lekkerder is as ander voedsel.
19 Die verhemelte proe die lekkernye wat gegee word, en die verstandige hart die lekkernye van valsheid.
20 ‘n Arglistige hart veroorsaak smart, maar ‘n man van ondervinding weer dit van hom af.
21 ‘n Vrou sal elke man ontvang, tog is die een vrou aanvalliger as die ander.
22 Die skoonheid van ‘n vrou verhelder die aangesig en dit oortref elke begeerlike ding wat die oog sien.
23 En as sy ook nog ‘n strelende tong het, is haar man nie meer geseënd as ander seuns van die Adam nie?
24 Verkry ‘n vrou as die voortreflikste besitting, ‘n hulp en ‘n vesting en ‘n steunpilaar!
25 Sonder ‘n heining word die Wingerd deur brand verwoes, en sonder ‘n vrou [is ‘n man] ‘n swerwer en ‘n doellose.
26 Wie vertrou op ‘n gewapende bende wat van die een stad na die ander snel? So is die man wat geen nes het nie, wat rus net waar dit aand word.

Hoofstuk 38

1 ELKE vriend sê: “Ek het lief” maar daar is ‘n vriend wat slegs ‘n vriend in naam is.
2 Is daar nie ‘n droefheid wat naby aan Dood kom nie? - ‘n boesemvriend wat in ‘n vyand verander het.
3 Wee die slegte man wat sê: “Waarom is ek so geformeer?” om die aangesig van die wêreld met bedrog te vervul.
4 Besoedel is die vriend wat [iemand se] tafel aanskou, [maar] in die tyd van nood opsy staan.
5 ‘n Suiwer vriend stry met die vyand, en teen die teëstanders hou hy die skild.
6 Moenie ‘n metgesel in die stryd vergeet nie en moet hom nie verlaat as jy buit maak nie,
7 Elke raadgewer wuif die hand, tog is daar ‘n raadgewer [wat] die weg na spot [aanwys].
8 Bewaar jouself van ‘n raadgewer en weet vooraf wat sy behoefte is; want ook hy sal homself raadpleeg: Waarom sal dit na hom toe val?
9 En hy sal vir jou sê: Hoe goed is jou saak! Dan sal hy opsy staan om jou armoede te aanskou.
10 Moenie raad inwin by hulle wat teenoor jou staan nie, en verberg jou raad van hom wat naywerig is.
11 Met ‘n vrou oor haar mededingster, en van ‘n stryder oor sy oorlog, met ‘n handelaar oor besigheid, en met ‘n koper oor verkoop; met ‘n slegte man oor liefdadigheid, en ‘n wreedaard oor die welvaart van die skepsel; [met] die swak werker oor sy werk, die onbetroubare wagter oor die uitlewering van die kwade; met die lui dienskneg oor baie werk - moenie op hierdie mense vir enige raad vertrou nie;
12 maar eerder op dié van iemand wat voortdurend vrees, van wie jy weet dat hy die Gebod hou; wie se hart soos jou hart is, wat as jy struikel, hom na jou toe uitstrek.
13 En neem ook kennis van die raad van [jou eie] hart, want jy het niemand wat trouer aan jouself is as sy nie.
14 Die verstand van ‘n adamiet wil aan hom meer bekend maak as sewe wagters op die wagpos.
15 Maar met al hierdie dinge, bid tot JaHWeH dat Hy jou voetstap in die Waarheid mag vasmaak.

Ware en valse wysheid.
16 BEREDENEER die begin van elke daad, en hou raad voor elke aksie.
17 Selfbeheersing verander die planne van die hart en
18 vier takke spruit uit: goed en kwaad en lewe en dood; maar die tong heers volkome oor hulle.
19 Daar is ‘n wyse man wat vir baie wys is, maar vir homself is hy ‘n dwaas.
20 En daar is ‘n wyse wat vanweë sy woord verwerp word en wat van alle genietinge afgesny word.
21 Om guns te wen is nie deur JaHWeH aan hom gegee nie, en hy ontneem homself alle eer.
22 En daar is ‘n wyse wat vir homself wys is, die vrug van sy kennis is in sy mond.
23 En daar is ‘n wyse wat wys is vir sy volk, die vrug van sy kennis is in hulle mond.
25 Die lewe van ‘n man is ‘n getal dae, maar die lewe van Jesurun [JisraEl] is ontelbare dae.
24 Hy wat wys is vir homself, sal hom met genietinge versadig, en almal wat hom sien, sal hom geseënd ag.
26 Hy wat wys is vir sy volk, verkry eer, en sy naam bly tot in die Ewige Lewe.

Oor siekte en die geneesheer.
27 MY seun, in jou lewe beproef jou gestel, en sien toe dat jy wat vir hom sleg is, nie vir hom gee nie.
28 Want nie alles is vir almal goed nie, nie elke gestel maak ‘n keuse van elke voedsel nie.
29 Moenie jouself aan elke plesier gee nie, en moenie jouself stort op alle lekkernye nie;
30 want in die veelheid van plesier skuil siekte, en die buitensporigheid lei tot walging.
31 Deur gebrek aan bestraffing het baie gesterf en bedwelmd geraak, maar hy wat homself oppas, verleng die lewe.

Hoofstuk 39 Oor die geneesheer.

1 BEHANDEL die geneesheer vriendskaplik ter wille van die behoefte aan hom, ook hom het JaHWeH verorden.
2 Van Elohim verkry die geneesheer Wysheid, en van die koning ontvang hy geskenke.
3 Die kennis van die geneesheer verhef sy hoof, en voor edeles stel hy homself.
4 JaHWeH het uit die Aarde medisyne laat voortkom, en laat ‘n man met onderskeidingsvermoë hulle nie verwerp nie.
5 Is die water nie deur hout soet gemaak nie, sodat Hy Sy Almag aan die adamiet kon bekend maak?
6 En Hy het aan die adamiet Insig gegee om hom te verlustig in Sy Almag.
7 Daardeur laat die geneesheer die pyn bedaar,
8 en so berei die apteker ‘n mengsel voor: dat sy werk nie mag ophou nie, en ook nie sy oorvloed onder die seuns van die Adam nie.
9 My seun, in [die tyd van] siekte moet jy nie nalatig wees nie, bid tot JaHWeH, want Hy kan genees.
10 Vlug van die oortreding en was jou hande; en was jou hart van alle ongeregtigheid.
11 Bring ‘n welriekende geur en berei ‘n vetbereiding volgens die uiterste van jou vermoë.
12 En gee ook aan die geneesheer ‘n plek en verwyder hom nie, want ook aan hom is behoefte.
13 Want daar is ‘n tyd wanneer suksesvolle hulp in sy hand is,
14 want ook hy bid tot JaHWeH dat Hy sy diagnose suksesvol sal maak, en die behandeling ter wille van die lewensbehoud.
15 Hy wat die Wet oortree voor sy Maker, laat hy kom onder die hand van die geneesheer.

Oor die rou.
16 MY seun, laat trane vloei oor die dode, betoon jou droefheid en kerm ‘n klaaglied uit. Ooreenkomstig sy Reg, begrawe sy liggaam, en moenie jouself verberg by sy afsterwe nie.
17 Wees bitter [bedroef], My seun, en laat die geklaag volkome wees, en bedryf rou oor hom soos dit hom pas: ‘n dag of twee ter wille van skinderpraatjies, en troos jouself ter wille van jou smart.
18 Uit smart kom ‘n ramp voort, so bou ‘n bedroefde hart die smart.
19 Wanneer dit verbygaan, gaan die smart ook verby, en ‘n ongelukkige lewe is die vervloeking van ‘n hart.
20 Moenie die hart weer tot hom laat terugkeer nie, verwyder die gedagtenis aan hom en dink aan die einde.
22 Dink aan Sy Verordening, want sy is jou Verordening, vir hom gister, maar vir jou vandag.
21 Moenie hom onthou nie, want daar is vir hom geen hoop nie, hoe sal jy hom bevoordeel, terwyl jy jouself benadeel?
23 As die dode rus, dan rus sy nagedagtenis, en troos jouself by die uitgaan van sy siel.

Die waarde van die Skrifgeleerde bo dié van die handwerker.
24 DIE wysheid van die skrywer vermeerder wysheid, en hy wat min besigheid het, kan homself wys maak.
25 Hoe kan hy wys word wat die ossestok hou en hom verlustig in die hantering van die spies, wat beeste lei en osse laat terugkeer, en wie se verkeer met osse is?
26 En sy sorg is om die stal te voltooi, en hy is gretig om die vore te oes.
27 Ook die maker van gravering en van ontwerpe, wat die nag soos die dag deurbring; wat seëlgraverings ingraveer, en wie se kuns dit is om ‘n verskeidenheid ontwerpe te maak; hy is gretig om die gelykenis getrou uit te voer, en sy sorg is om die werk te voltooi.
28 Ook die smid wat by die smeltoond sit en wat die ystervaatwerk waarneem: die vlam van die vuur laat sy vleis bars, en in die hitte van die oond brand hy; na die geluid van die hamer neig hy sy oor en op die vorm van die vaatwerk rig hy sy oë. Hy is gretig om sy werk te voltooi, en sy sorg is om dit presies af te meet.
29 Ook die pottebakker wat by sy werk sit en wat die wiel laat omgaan met sy voete, wat voortdurend in angs is oor sy werk, en volgens getal is alles wat hy doen;
30 hy het pyn in sy arm vanweë die klei, en voor sy voete buig sy krag; hy is gretig om die glasuur te voltooi, en sy sorg is oor die hitte van die smeltoond.
31 Al hierdie [mense] is vaardig met hulle hande, en elkeen is wys met sy handewerk.
32 Sonder hulle kan ‘n stad nie bewoon word nie, en waar hulle ook as vreemdelinge vertoef, sal hulle nie honger kry nie.
33 Maar vir openbare advies sal hulle nie gesoek word nie, en in die vergadering sal hulle geen besondere posisie beklee nie. Op die stoel van die regter sal hulle nie sit nie, en insetting en Reg sal hulle nie onderskei nie. Hulle verklaar nie die onderrig van die Wysheid en verstaan nie die spreuke van die wyses nie.
34 Maar die werk van die wêreld verstaan hulle, en hul aandag is by die praktyk van hul ambag.

Hoofstuk 40

1 HIERTEENOOR staan hy wat homself gee aan die Vrees van JaHWeH en wat die Wet van die Hoogste El onderskei; wat die wysheid van al die vroeëres ondersoek en die profesieë oorpeins; [1 ShemuEl 12:14]
2 wat ag gee op die betoog van beroemde manne en die diepere sin van gesegdes insien;
3 wat die verborge betekenis van spreuke ondersoek en wat hom besig hou met die raaiselagtighede van ‘n gelykenis;
4 wat onder vorste dien en voor edeles verskyn; wat deur die Aarde van volke trek, goed en kwaad onder die mense toets;
5 wat ag gee om sy Maker vroeg te soek en voor die Hoogste El om Barmhartigheid smeek; en hy maak sy mond oop in gebed, en oor sy wetsverbreking bid hy.
6 As dit die Grote JaHWeH behaag, sal hy vervul word met ‘n Gees van Onderskeiding; hy sal woorde van Wysheid verklaar en sal aan JaHWeH dank betuig in die gebed.
7 Hy sal Raad en Kennis bevestig en Haar geheimenisse onderskei.
8 Hy verklaar wyse onderrig, en in die Wet van JaHWeH verlustig hy hom.
9 Baie sal sy verstandigheid loof, en tot in ewigheid sal sy naam nie uitgeroei word nie: sy gedagtenis sal nie ophou nie, en sy naam sal lewe van geslag tot geslag.
10 Sy wysheid sal die gemeente herhaal, en sy lof sal die vergadering vertel.
11 As hy lank in die lewe bly, sal sy naam glorieryker geag word as duisend, en as hy te sterwe kom, is dit vir hom genoeg.

‘n Psalm oor die werke van JaHWeH.
12 WEER sal Ek My gedagtes bepaal en [My leer] bekend maak, soos die volmaan op sy volste.
13 Luister volkome na My, en julle sal uitspruit soos die seder wat geplant is by waterstrome. [Sirah 24:13]
14 En soos die wierook sal julle ‘n geur gee, en soos die lelie sal julle bloeisels bloei. [Sirah 24:15]
15 Verhef die stem en loof met ‘n lied en prys JaHWeH oor al SY werke, Maak groot SY Naam en prys HOM met ‘n loflied, met liedere van die harp en snaarinstrumente, en só moet jy sê met ‘n uitroep [van blydskap]:
16 Die werke van JaHWeH is almal goed en op SY tyd voorsien HY in elke behoefte.
17 Deur SY Woord takseer HY die hoop water, en deur die uitspraak van SY Mond SY skat.
18 In Sy plek word Sy welbehae volbring, en daar is geen belemmering vir Sy Verlossing nie.
19 Die werke van alle vlees is voor Hom, en niks daarvan is verborge voor Sy Oë nie.
20 Van ewigheid tot ewigheid bemerk Hy, en is daar ‘n getal vir Sy Verlossing? Daar is niks klein of gering by Hom nie, en daar is niks te wonderbaar of te sterk vir Hom nie.
21 Niemand mag sê nie: “Waarom is dit?”, want alle dinge is volgens Sy behoefte verkies. Niemand mag sê nie: “Hierdie is slegter as daardie”, want alle dinge het Hy op Sy tyd vasgestel.
22 Sy seëninge vloei oor soos die Nyl, en soos die rivier versadig dit die wêreld.
23 So onteien Sy Toorn die nasies, en Hy verander ‘n waterryke gebied in sout.
24 [Sy] Paaie is reguit vir die volkome, so egter weerstaan hulle die vermeteles.
25 Suiwer dinge het Hy van die begin af aan die suiweres toebedeel, so egter aan die slegtes goed en kwaad!
26 Die vernaamste van alle behoeftes vir die lewe van die mens is water en vuur en yster en sout, die niervet van koring, melk en heuning, druiwebloed, olie en kleding.
27 Al hierdie dinge is goed vir die suiweres, maar vir die slegtes word dit verander tot die kwade.
28 Daar is geeste wat vir die oordeel geformeer word, en in hulle Woede beweeg hulle berge; en in die tyd van verwoesting giet hulle hul krag uit en bring hulle die Gees van hulle Maker tot rus.
29 Vuur en hael, hongersnood en pes - ook hierdie dinge word vir die oordeel geformeer.
30 Roofdiere, skerpioene en kobras en die wrekende swaard om die slegtes uit te wis - al hierdie dinge is vir hulle gebruik geskape, en hulle is in die skathuis [gereed] om by geleentheid opgeëis te word
31 Wanneer Hy hulle bevel gee, juig hulle, en volgens hulle Insettinge is hulle Sy Bevel nie ongehoorsaam nie.
32 Daarom was Ek van die begin af versekerd en Ek het by Myself oorlê en dit op skrif gestel:
33 Die Werke van JaHWeH is almal goed, en op Sy tyd voorsien Hy in elke behoefte.
34 Niemand mag sê nie: “Dit is slegter as dat”, want elke ding bevestig Hy op Sy tyd.
35 Juig dan nou met die hele hart en prys die Naam van Sy Apartheid!

No comments: