Sunday, November 13, 2011

DIE BOEK EKKLESIASTIKUS (8)


Hoofstuk 41 Oor die moeite van die Lewe.

1 GROOT moeite is toebedeel en ‘n swaar juk op die seun van die Adam, vanaf die dag dat hy uit die skoot van sy moeder voortgekom het, tot die dag wanneer hy terugkeer tot die Moeder van al die lewende:
2 Sy gedagtes en angstige hart, hoopvolle verwagting tot die dag van [sy] dood.
3 Van diegene af wat op ‘n verhewe troon sit, tot die een wat geklee is in stof en as;
4 van hom af wat ‘n tulband en voorhoofversiersel dra, tot die een wat ‘n kleed van vel aanhet:
5 [Dit is alles] slegs naywer, angs en skrik, verskrikking van die dood, rusie en getwis! En die tyd wanneer hy op sy bed rus, verander die slaap van die nag sy kennis.
6 ‘n Rukkie, baie gou, ‘n oomblik is hy stil, en dan word hy soos die see tussen die angste uitgewerp. Mislei deur sy eie gesig is hy soos ‘n vlugteling wat vlug vanweë die agtervolger -
7 nou, opgewek, ontwaak hy van sy slaap, en sy vrees is weg.
8 [Daar is] by alle vlees, sowel adamiet as wilde wese, ja, oor die besoedelde sewevoudig van hierdie dinge:
9 pes en bloed, koors en droogte, verwoesting en verbreking, verdruk-king en dood.
10 Vir die besoedeldes is hierdie dinge geskape, en ter wille van hulle het die vloed gekom.
11 Alle dinge van die Aarde sal na die Aarde terugkeer, en wat van bo is na boontoe.
12 Alles, omkopery en onreg, word vernietig, maar ware onderhandeling bly tot in ewigheid.
13 Die rykdom van die onregverdige sal opdroog soos ‘n rivier, en sal verdwyn met ‘n geraas, soos groot onweer in ‘n donderstorm:
14 met sy aanstorming word rotse weggerol - so kom die buit plotseling tot ‘n einde.
15 Die nageslag van die besoedelde sal nie veel takke voortbring nie, maar is besoedelde wortels op die harde rots.
16 Die onkruid aan die oewer van ‘n stroom sal uitgetrek word voor die gras.
17 Maar Suiwerheid sal tot in ewigheid nie beweeg word nie, en Geregtigheid sal vir altyd vas staan.

Oor die vreugde van die lewe.
18 ‘N LEWE van wyn en sterk drank is soet, maar hy wat ‘n skat vind, is beter as albei.
19 ‘n Seun en ‘n stad hou ’n man se naam in herinnering, maar beter as albei is ‘n onberispelike vrou.
20 Wyn en sterk drank verbly die hart, maar die liefde vir Wysheid is beter as albei.
21 Fluit en harp maak die lied soet, maar beter as albei is ‘n suiwere tong.
22 Skoonheid en prag bekoor die oog, maar beter as albei is aalmoese wat red.
23 ‘n Vriend en ‘n metgesel sal hulle by geleentheid gedra, maar beter as albei is ‘n verstandige vrou.
24 ‘n Broer en ‘n helper in ‘n tyd van nood - maar beter as albei is aalmoese wat red.
25 Goud en silwer laat die voet vas staan, maar beter as albei is suiwer raad.
26 Vermoë en krag laat die hart juig, maar beter as albei is die Vrees van JaHWeH. In die Vrees van JaHWeH is daar geen gebrek nie, en daarmee is daar geen behoefte om steun te soek nie.
27 Die Vrees van JaHWeH is soos ‘n Tuin met vrugte en bedek Hom bo alle glorie.

Oor Dood.
28 MY seun, ‘n bedelaarslewe moet jy nie leef nie, dit is beter om te sterwe as om te bedel.
29 ‘n Man wat na die tafel van ‘n verbasterde kyk, sy lewe kan nie gereken word as ‘n lewe nie. ‘n Besoedeling van die siel is sy lekkernye; ‘n wyse, welopgevoede man sal daarop bedag wees.
30 Vir ‘n man met ‘n sterk begeerte is dit soet om te bedel, maar in sy binneste brand dit soos vuur.

Hoofstuk 42

1 A! DOOD, hoe bitter is die herinnering aan jou vir iemand wat vreedsaam [woon] met sy besittings; vir iemand wat geen bekommernisse het nie, en wat in alles voorspoedig is, en wat nog sy voedsel kan geniet.
2 Welkom! Dood, hoe welkom is jou oordeel vir ‘n man van nood en vir een wat geen krag het nie, wat struikel en in alles verstrik raak, wat gebreek is en hoop verloor het.
3 Moenie Dood se vonnis vrees nie, [dit is] jou bestemming, onthou dat die wat voor jou was en die wat na jou kom.
4 Sy is die vonnis van alle vlees vanweë JaHWeH, en hoe kan jy die Wet van die Hoogste El verwerp? [Of jy] vir ‘n duisend jaar, ‘n honderd jaar of tien jaar [lewe], verwyte sal daar in die Doderyk/Sheol nie wees nie.
5 Die saad van oortreders is verwerplik, en ‘n dwase nakomeling is in die woning van die besoedelde.
6 Van die seun van ‘n onregverdige sal die erfdeel weggeneem word en armoede sal voortdurend met sy saadlyn wees.
7 Die kind sal sy besoedelde vader vervloek, want as gevolg van hom word hy [die kind] verwyt.
8 Wee julle, wettelose manne, wat die Wet van die Hoogste El verlaat het.
9 As julle vermeerder, sal dit tot smart wees en as julle kinders voortbring, sal dit wees tot gesug; en as julle sterwe, sal dit wees tot ‘n vervloeking.
10 Alles wat uit die Aarde is, keer tot die Aarde terug; so gaan die besoedelde van vervloeking tot vernietiging.
11 Treur maar oor ‘n adamiet se liggaam, maar die naam van die oortreder sal uitgeroei word.
12 Gee ag op jou naam, want dit vergesel jou meer as duisende skatte van goud.
13 Die suiwer lewe duur ‘n geringe getal dae, maar ‘n suiwer naam duur vir ewig.
14 Luister, o kinders, na die onderrig aangaande skaamte; Verborge wysheid en ‘n begrawe skat, watter nut het hulle albei?
15 Beter is iemand wat sy dwaasheid verberg as iemand wat sy wysheid verberg.
16 Wees dus skaam volgens hierdie woorde. Want nie elke skaamte is gepas om te bewaar nie, en nie elke vorm van skaamte is verkieslik nie.
17 Skaam jou oor ‘n vader en moeder wat vermeng, oor ‘n valse vors en regeerder;
18 oor ‘n leuenagtige regter en regeerder, oor onregverdigheid voor vergadering en volk; oor ‘n onregverdige handeling teenoor metgesel en vriend,
19 en oor diefstal in die plek waar jy vertoef. [Skaam jou] om die Waarheid van Elohim of Sy Verbond te vergeet, en om te leun met elmboë op die tafel; om ‘n geskenk wat gegee is, nie te bedank nie,
20 om stil te wees teenoor hom wat groet; om ‘n hoer aan te staar,
21 om die gesig van jou vriend weg te draai; om ‘n geskenk of porsie van iemand weg te neem, om by ‘n getroude vrou aan te lê en om jouself besig te hou met haar slavin; en om haar bed te nader,
22 om ‘n vriend onvleiende woorde [toe te spreek], en om ‘n geskenk op te volg met ‘n belediging.
23. Dan sal jy weet wat ware skaamte is, en jy sal Guns vind in die oë van die adamiete.

Hoofstuk 43

1 MAAR oor hierdie dinge moet jy nie skaam wees nie en moet nie oortree deur bang te wees wat ander daarvan sal dink nie.
2 oor die Wet van die Hoogste El en die Verbond, en oor regverdigheid om regverdig te handel teenoor die wetsverbreker,
3 om jou rekening te vereffen teenoor ‘n metgesel en mede-reisiger, en oor die verdeling van ‘n erfenis en ‘n besitting;
4 en oor die akkuraatheid van ‘n weegskaal en gewigte, oor groot of klein winste,
5 oor wins uit transaksies, oor die veelvuldige tugtiging van kinders, en oor die slae op die heupe van ‘n slegte dienskneg dat hy bloei.
6 Om ‘n slegte vrou stil te maak, en vir ‘n plek waar baie hande is, ‘n sleutel te hê.
7 Lewer alles af in nommer en gewig, en laat uitgifte en ontvangste almal op skrif wees.
8 [Moenie skaam wees] om ‘n onnosele en ‘n dwaas en die afgeleefde grysaard wat flikvlooi met jonges tereg te wys nie: so sal jy in die Waarheid ingelig wees, en sal die goedkeuring ontvang van die adamiet.

Oor ‘n dogter.
9 ‘N DOGTER is vir ‘n vader ‘n onsekere skat, ‘n angs wat die loomheid verdryf: in haar jeug, dat sy nie hoerery bedryf nie, en in haar maagdelikheid, dat sy nie gehaat word nie;
10 in haar maagdelikheid, dat sy nie verlei word nie, en in die huis van haar eggenoot, dat sy nie ontrou word nie; in die huis van haar vader, dat sy nie vermeng nie; en in die huis van haar man, dat sy nie onvrugbaar is nie.
11 My seun, rig ‘n wag op oor jou jonge dogter, dat sy vir jou nie ‘n naam maak wat stinkend is nie; ‘n spreekwoord van die stad en ‘n vloek deur die volk, en jou tot skande maak onder die vergadering in die poort nie. In die plek waar sy bly, moet jy geen tralievenster laat wees, of ‘n plek wat uitkyk oor die ingang rondom nie.
12 Aan enige man moet sy nie haar skoonheid wys nie, en in die huis van vroue moet sy nie gesels nie.
13 Want uit die kleed kom die mot voort en uit ‘n vrou die besoedeling van ‘n vrou.
14 Die lompheid van ‘n man is beter as die hoflikheid van ‘n vrou wat skande berei.

Die grootheid van Elohim en Sy wonderdade in die skepping.
15 EK wil tog in herinnering bring die werke van JaHWeH, en dit wat Ek gesien het, wil Ek vertel. Deur die Woord van JaHWeH is SY werke geformeer, en hy wat SY welbehae doen, het HY aangeneem.
16 Die son straal uit oor al wat geopenbaar is, en die Glansrykheid van JaHWeH oor al SY werke.
17 Die apartes van JaHWeH is nie in staat om die wonderbare werke van JaHWeH te vertel nie; [alhoewel] JaHWeH, die Almagtige, Sy leërskare versterk om vas te staan voor Sy Glansrykheid.
18 Die diepte en die hart ondersoek Hy, en Hy deurskou al hulle geheimenisse: want JaHWeH besit alle Kennis en Hy sien die tekens [wat kom] tot in ewigheid.
19 Hy verklaar vergange dinge, toekomstige dinge en openbaar die diepste verborgenhede.
20 Geen insig ontbreek Hom nie, en niks ontgaan Hom nie.
21 Die mag van Sy Wysheid is gevestig, Hy is dieselfde van ewigheid af: niks is toegevoeg en niks is weggeneem nie, en Hy het niemand nodig om [Hom] in te lig nie.
22 Al Sy werke is begeerlik en is soos vonke om te aanskou.
23 Die werke lewe en bly vir altyd, en alles is gehoorsaam.
24 Hulle almal is verskillend, die een van die ander, en Hy het nie een van hulle verniet gemaak nie.
25 Die een deel aan die ander Sy suiwer dinge mee, en wie kan versadig word om die skoonheid te aanskou?

Hoofstuk 44

1 DIE skoonheid van die Hemele is die helder uitspansel, die Hemele self straal Sy Glansrykheid uit.
2 Die son straal hitte uit terwyl hy te voorskyn kom - hoe ontsagwekkend is die werke van JaHWeH!
3 Wanneer hy die middaguur bereik, laat hy die wêreld kook. Voor sy skroeiende hitte, wie kan homself handhaaf?
4 Soos ‘n brandende oond wat die gietsel warm hou, so steek die straal van die son berge aan die brand: ‘n tong van Vuur beëindig die bewoonde [wêreld], en deur Sy Vuur word die oog verbrand.
5 Want groot is JaHWeH wat hom gemaak het, en SY Woord bestier hom.
6 En ook, die maan om te dien in die seisoene as verklaring van tye en as Teken vir die wêreld:
7 deur hulle [word] die Feeste en die vasgestelde tye [bepaal], en die welbehae van die Maker gedurende sy kringloop.
8 Die maand se naam word afgelei van die maan, hoe wonderbaar is sy gedurende haar verandering! ‘n Instrument van die skeppingsleërmagte en ‘n voorwerp van die Hemele wat die uitspansel in vlamme stel vanweë haar glans.
9 Die skoonheid van die Hemele is die glansrykheid van die Sterre en hul lig wat glans tot in die hoogtes van JaHWeH.
10 Volgens die Woord van JaHWeH neem hulle hul verordende plek in, en buig nie neer [in die slaap] gedurende hul nagwake nie.
11 Kyk na die reënboog en loof haar Maker, want sy is buitengewoon skoon in glansrykheid:
12 ‘n kring omring haar in Glansrykheid, en die Hand van Elohim het haar in trotsheid uitgesprei.
13 Sy mat merk [die baan van] die weerlig en bestier die sneeu van sy oordeel.
14 Daarom het Hy ‘n skathuis geskape en laat Hy die wolke vlieg soos ‘n voël.
15 Deur Sy groot Krag maak Hy die wolk sterk, en word die haelstene gebreek.
17 Die geluid van Sy donder laat Sy Aarde in barensnood verkeer,
16 en deur Sy Krag skud Hy die berge. Die vrees vir Hom jaag die suidewind op, die stormwind van die Noorde, die orkaan; en die storm; soos voëls strooi Hy Sy sneeu uit, en soos sprinkane wat sit, is die val daarvan.
18 Die blanke skoonheid [daarvan] verblind die oë, en vanweë sy reën verbaas die hart [hom].
19 En ook die ryp giet Hy uit soos sout, en Hy laat die blomme blom soos saffier.
20 Die koue wind/Gees van die Noorde laat Hy waai, en soos ‘n velsak laat Hy Sy Fontein bevries. Oor elke poel water laat Hy ‘n yskors vorm, en soos ‘n pantser beklee Hy die dam.
21 Die opbrengs van die berge laat Hy brand soos ‘n droogte, en die uitspruitende veld soos ‘n vlam.
22 ‘n Genesing vir alles is die gedrup van die Dou, van die wolke wat neerdaal om verkwikking te bring na die hitte.
23 Deur Sy oorleg het Hy die groot Afgrond laat wegsink, en in die see het Hy eilande geplant.
24 Hulle wat seil op die see, vertel van sy grense, en wanneer Ons ore dit hoor, is Ons verbaas.
25 In hom is wonderlike dinge, die wonders van Sy werk, alle soorte lewende wesens en die groot magte.
26 Vanweë HOM gaan die werk vooruit, en deur SY Woord bestaan alles.
27 Meer as hierdie dinge sal Ons nie toevoeg nie, en die einde van die saak is: HY is alles.
28 Ons sal [Hom] verder groot maak, want Ons kan nie deurgrond nie, want HY is groter as al SY werke.
29 Uitermate ontsagwekkend is JaHWeH, en wonderbaar is SY Krag.
30 Julle wat JaHWeH groot maak, hef op die stem soveel as julle kan, want daar is nog meer! Julle wat [Hom] verhef, vernuwe die krag en moenie moeg word nie, want julle kan HOM nooit deurgrond nie.
31 Wie het Hom gesien dat hy [dit] kan vertel? En wie kan Hom groot gemaak het ooreenkomstig wat Hy is?
32 Die getal van die verborge dinge is groter as hierdie, Ek het maar min van Sy werke gesien.
33 Alle dinge het JaHWeH gemaak en aan die regverdiges het Hy Wysheid gegee.

Hoofstuk 45 Die lof van die vaders van ouds.

1 LAAT Ek nou die lof van roemryke manne verkondig, van Ons vaders in hulle geslagte.
2 Groot Eer het die Hoogste El [aan hulle] toebedeel, en hulle was groot van die dae van ouds af:
3 heersers van die Aarde in hulle koninkryke, en manne van naam in hulle krag; raadgewers in hulle verstandigheid, en mense wat alles gesien het in hulle profesie;
4 vorste van nasies in hulle beleid, en leiers op grond van hulle navorsing; vaardige betogers in hulle geskrifte, en spreukdigters in hulle bewaring van die tradisie:
5 digters van psalms volgens die voorskrif, en die outeurs van spreuke in geskrif;
6 manne van mag en onwankelbaar in sterkte wat rustig woon in hulle plek:
7 al hierdie [manne] het in hulle geslag en in hulle dae hulle eer [ontvang].
8 Sommige van hulle het ‘n naam nagelaat om rond te vertel in hulle erfdeel;
9 maar vir sommige van hulle was daar geen gedagtenis nie, en hulle het opgehou om te wees toe hulle opgehou het; hulle was asof hulle nie was nie, en hulle kinders na hulle.
10 Nogtans was hierdie manne van vroomheid, en hulle verwagting sal nie ophou nie;
11 by hulle saadlyn sal hulle voorspoed bestendig wees, en hulle erfdeel vir hulle kleinkinders.
12 In die Verbond sal hulle saadlyn vas staan, en hulle kinders ter wille van hulle;
13 vir ewig sal hulle gedagtenis voortbestaan, en hulle geregtigheid sal nie uitgewis word nie;
14 hulle liggame word in Vrede versamel, maar hulle naam leef voort van geslag tot geslag.
15 Hulle wysheid word deur die gemeente verhaal, en hulle lof word deur die vergadering vertel.

Henog en Noag.
16 HENOG het met JaHWeH gewandel en is geneem as Teken van Kennis van geslag tot geslag.
17 Noag, die regverdige, is raseg bevind, vir die tyd van vernietiging was hy ‘n plaasvervanger; ter wille van hom was daar ‘n oorblyfsel, en vanweë die Verbond met hom het die vloed opgehou. [Génesis 6:9]
18 As ewige Teken is sy aan hom opgerig om alle vlees [nie weer] te vernietig nie.

Die aartsvaders.
19 ABRAHAM, die vader van ‘n menigte nasies, het op sy eer nie ‘n klad geplaas nie;
20 [hy] het die Gebod van die Hoogste El gehou en ‘n Verbond [besnydenisverbond] met Hom aangegaan: In sy vlees het Hy ‘n Insetting vir hom gemaak, en in beproewing is hy getrou bevind.
21 Daarom het HY aan hom met ‘n eed [die Belofte] bevestig om nasies in sy saadlyn te seën; om sy saad te vermeerder soos die sand van die see, en om hom uitermate te verhoog oor al die nasies; om hulle [sy saadlyn] te laat erwe van see tot see en van die Rivier tot aan die eindes van die Aarde.
22 En ook vir Isak het Hy net so bestendig ter wille van Abraham sy vader; die Verbond van al die voorgangers het Hy hom gegee,
23 en die seën het op die hoof van JisraEl [Jakob] gerus; en Hy het hom bevestig in die seën en sy erfdeel aan hom gegee; en Hy het hom gestel tot stamme [naamlik] om te verdeel in twaalf.

Moshè.
EN Hy het uit hom iemand laat voortkom wat guns in die oë van al wat lewe gevind het.

No comments: