Tuesday, November 24, 2009

Ons Liggaam – Die Tempel


Ons lees in die Skrif dat ons liggame ‘n tempel is vir Yahweh. Ons moet dit stel as ‘n welgevallige offer aan God. Dit is die plek waar die Heilige Gees woon.

1 Kor. 3:16 Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?

1 Kor. 6:19 Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?

2 Kor. 6:16 Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.

Vanuit die twee bogenoemde skrif gedeeltes is dit baie duidelik dat ons liggame ‘n offer en tempel van die Lewende God is.

Derhalwe is dit seker noodsaaklik om onsself ‘n paar belangrike vrae te vra omtrent die tempel waarmee ons rondloop.

Om ons liggame in perspektief te plaas met die aardse, waaraan ons gewoond is, kan ons dit vergelyk met die gemeente of tradisioneel die kerk. Die meeste mense beskou dan ook die kerk as die tempel van samekoms.

Sou ons dan nou ‘n vergelyking maak tussen ons liggaams tempels en die tempel van samekoms behoort daar mos sterk ooreenkomste te wees tussen die twee, sodat beide herken kan word as tempels.

Daar is algemene reëls wat geld ten opsigte van tempels van samekoms en die reëls spel tog uit wat nie gedoen mag word in en aan die plekke nie (baie van die reëls is ongeskrewe en word as vanselfsprekend aanvaar).
Kom ons kyk na die volgende:

Geeneen sal tog kliphard vloek in die kerk nie.
Niemand gaan sit en dobbel in die kerk nie.
Niemand gaan ‘n sigaret aansteek en sit en rook in die kerk nie.
Niemand gaan sit en suip in die kerk nie.
Niemand gaan sit en skinder van die ander mense in die kerk nie.
Niemand gaan by ander vroue of mans aanlê in die kerk nie.
Niemand gaan ‘n ander een te lyf gaan in die kerk nie.
Niemand gaan op die kerk mure graffiti skryf of tattoo’s plak nie.
Niemand sal binne die kerk die Almagtige God se naam ydellik gebruik nie.

Hierdie is maar net ‘n paar, maar dis besliste nee-nee’s om te doen in die kerk of gemeente.

Sal jy dit doen???

Gedink die antwoord sal nee wees, want hoe kan iemand so iets doen in die gemeente of kerk – wat sal die mense daarvan sê – ek sal my dood skaam om so iets te doen.

Maar tog doen ons dit elke dag in en aan die tempel wat God aan ons gegee het naamlik ons liggame. Ons is skaam wat ons voor die mense doen maar ons het geen skaamte voor God nie – hoe werk dit?

Daar moet tog sekerlik ooreenkomste wees tussen die twee tempels nie waar nie?

Het ons meer respek vir die tempels wat gebou is van klip en sand as die wat die Ewig Lewende Elohim aan ons gegee het?

Dink volgende keer baie mooi na oor jou liggaam en behandel dit soos die tempel waarin die Heilige Gees woon voordat jy iets doen of sê.

No comments: