Wednesday, November 18, 2009

Kan Jy God Sien?


Die jong seuntjie stap na sy ietwat ouer sussie met ’n vraag oor God. “Suzie, kan iemand ooit regtig vir God sien?” vra hy.
Besig met ander dinge antwoord Suzie effe geïrriteerd: “Nee, dommie, natuurlik nie. God is so hoog in die hemel dat niemand Hom kan sien nie.”

Tyd het verbygegaan, maar die vraag het nog bly vassteek in sy agterkop. Hy stap toe na sy ma toe en vra: “Ma, kan iemand ooit regtig vir God sien?” “Nee, nie regtig nie,” antwoord sy saggies, “God is ’n Gees en Hy woon in ons harte, maar ons weet net van Hom maar sien Hom nie regtig nie.”

Ietwat tevrede gestel met die antwoord maar nie honderd persent tevrede nie, het hy maar koers gekies na buite en gaan speel. Nie lank daarna het die seuntjie se oupa, wat ’n baie gelowige man was, hom saamgeneem op ’n hengel uitstappie.

Hulle het ’n wonderlike tyd saam gehad. Die son was besig om te sak en dit was ’n onbeskryflike mooi sonsondergang. Die oupa het in stilte die prag skouspel ingeneem wat besig was om te ontvou soos wat die son se strale kwyn en die prag van God se skepping beklemtoon in skakerings van rooi en oranje.

Toe die seuntjie sy oupa se gesig sien, vol verwondering oor die skouspel met ’n gelaat van volkome vrede, dink die seuntjie vir ’n oomblik na voordat hy huiwerig praat.

“Oupa, ek.... ek..... was nie van plan om nog iemand verder te vra nie, maar ek wonder of Oupa my kan antwoord op ’n vraag waaroor ek nou al ’n lang tyd wonder. Kan enige iemand regtig ooit vir God sien?”

Die ou man het nie eens sy kop gedraai nie. ’n Lang oomblik van stilte het verby gegaan voordat hy uiteindelik antwoord. “Ou seun,” sê hy saggies. “Dit word so, dat ek niks anders kan sien nie.”

No comments: