Wednesday, November 11, 2009

Die Koekie Dief


’n Middeljarige vrou het een aand op die lughawe gewag vir haar vlug. Met nog ’n hele paar ure voordat haar vlug vertrek het sy ’n storieboek gaan soek om te lees terwyl sy wag op haar vlug. In die lughawe winkeltjie het sy ’n storieboek gekry en vir haar ’n sak koekies gekoop om aan te knibbel terwyl sy lees.

Sy het haar gemaklik gemaak op een van die rusbanke in die wag area. Sy was vreeslik geboei deur haar storieboek maar het tog opgemerk dat die man langs haar ’n koekie of twee vat uit die sak met koekies langs haar.
Sy het dit maar probeer ignoreer om nie ’n ophef daarvan te maak nie.

Sy het gelees, koekies geknibbel en die horlosie dopgehou terwyl die voorbarige “koekie dief” goed weglê in haar koekie voorraad. Sy het by die minuut meer geïrriteerd geraak met die persoon en het by haarself gedink, “As ek nie so gaaf en vredeliewend was nie het ek nou die ou bygedam en hom ’n taai klap gegee !”

Met elke koekie wat sy gevat het, het hy ook een gevat. Toe daar nog net een koekie in die sak oor was, het sy gewonder wat gaan hy nou doen met dit. Met ’n glimlag en benoude laggie neem hy die koekie en breek dit in twee. Hy offer haar die een deel en eet die ander helfte.

Sy gryp die halwe koekie by hom en dink, “Mensig, die ou is omtrent voorbarig en ongeskik daarby. Hy het nie eens die ordentlikheid om dankie te sê vir die koekies nie!” Sy weet nie wanneer lanklaas was sy so kwaad vir iemand nie. Met ’n sug van verligting hoor sy die aankondiging dat sy aan boord moet stap vir haar vlug. Met een haal gryp sy al haar besittings bymekaar en stap vasberade na die vertrek terminaal sonder om een terug te kyk na die “voorbarige dief”.

Nadat die vrou aan boord is en plaas geneem het in haar sitplek begin sy te soek na haar storieboek, wat feitelik klaar gelees is. Sy vroetel in haar handbagasie en snak na haar asem.
Daar was haar sak koekies in haar drasak!
“As myne hier is,” dink sy baie verleë, “dan was die ander sak koekies syne wat hy met haar gedeel het sonder om te kla!”

Te laat om verskoning te maak, dink sy baie gegrief,
was sy die hele tyd die ongeskikte, koekie dief.

No comments: