Friday, November 20, 2009

Die Wingerdstok


Soms is ons so geneig om met oogklappe deur die lewe te gaan dat ons van die belangrikste lesse wat Vader ons wil leer in die natuur heeltemal mis en glad nie raaksien nie. Die lewenslesse speel voor ons oë af maar tog sien of luister ons nie.
Nou die dag sit ek en kyk na ’n program wat handel oor wingerde en hoekom hulle op sekere maniere gesnoei word en wat is noodsaaklik om goeie druiwe te verseker. Dit was vir my baie interessant gewees, maar die belangrikste les het ek eers bietjie later geleer toe ek nadink oor die wingerde.

Daar was soveel waarhede opgesluit in die storie oor die wingerde wat in ons lewens van toepassing is dat ek nou eers kan verstaan hoekom is daar soveel verwysings na wingerde in die bybel.

Die program het gehandel oor druiwe wat gekweek word om sjampanje te maak en nie watse sjampanje nie, maar die beste in die wêreld soos Dom Perignon. In die program is gesels oor die grond voorbereiding en voeding, die snoei, wat die druiwe nodig het soos reën, hitte, koue, ens.

Die gebied in Frankryk waar die wingerde geleë is, is die grond baie arm aan voedingstowwe en die mense vat gewone huishoudelike vullis en werk dit tussen die wingerde in. Stukkies plastiek, papier en tot stukkies metaal onderdele van motors kan tussen die wingerde opgemerk word.
Dit is nogal opvallend hoe dit ooreenstem met die gelowige in die wêreld, hy word geplant te midde van al die vuil en gemors van die wêreld en steeds groei hy om wasdom te bereik om prag vrugte te dra.

Die wingerd word voor die groei seisoen kwaai gesnoei om die plant te giet in ’n sekere vorm wat sal verseker dat die beste vrugte gelewer word. Maar die snoei dra ook daartoe by dat die vrugte nie laag op die grond gedra word nie maar redelik hoog in die lug. Want as die druiwe trosse te laag op die grond is, kan hulle beskadig word deur die ryp aangesien ryp plaasvind op die grondvlak en hul kan makliker beskadig word deur insekte en klein ongediertes op die grond.
So is dit ook nodig dat ons gereeld kwaai terug gesnoei word deur Vader om te verseker dat ons die beste vrugte moontlik dra en die snoei moet van so aard wees dat die vrugte nie op die grond hang en beskadig kan word deur ryp of insekte nie.
Die snoei is vir ons soms bitter pynlik en verstaan dit nie op daardie stadium nie maar later wanneer die vrugte trossie begin uitswel dan maak dit eers vir ons sin.

Daar is sekere tye wat die wingerd water nodig het om te groei en dan is daar tye wat hulle geen water verlang sodat die vrugte nie beskadig word en bars nie of om die suiker gehalte daarvan te verhoog. Hulle moet vir ’n wyle soms droogte ervaar om die gehalte te verbeter.
Ons ervaar ook tye in ons lewens wanneer dit heerlik reën en alles is te mooi en pragtig maar wanneer die droogte tye ons aangryp dan raak ons maklik mismoedig en radeloos. Ons sien nie die doel van die droogte nie, maar ons het dit nodig om die vrug wat ons dra se gehalte te verbeter om so ’n besonderse wyn te verseker.

Die wynmaker toets gereeld die druiwe om te sien wanneer die vrug net reg is dan word die mense gehuur wat die oes insamel. Die druiwe plukkers word natuurlik gewaarsku om die trosse mooi af te pluk en nie die wingerd te verniel nie, want dit moet volgende jaar weer vrug dra en self beter en meer vrugte as die vorige jaar.
Die gehalte van die druif bepaal hoe goed die wyn gaan wees, want jy kan nie goeie wyn maak van swak druiwe nie.
Die vrug wat ons dra moet van so aard wees dat die Wynmaker baie bly sal wees oor die kwaliteit van die druiwe wat ons voortbring want dit is al wat ’n goeie wyn kan verseker.
Die swak vrugte word aan die wingerd gelos om te verrot of word afgesny en weggegooi want dit sal die goeie wyn bederf.

Laat ons vandag vrugte dra wat van die beste gehalte is sodat dit die Wynmaker van ons lewens bly sal maak oor Sy wingerd.

No comments: