Wednesday, November 4, 2009

Die Reën van die Gees


Vir my is daar seker nie ’n mooier klank as die val van reëndruppels op ’n sinkplaat dak nie. Dit het ’n bekoring van sy eie en dit is wonderbaarlik hoe selfs net die geluid van die reën al klaar mens se siel vernuwe en ophef in dankbaarheid.

Vanoggend tydens my stiltetyd het dit weer heerlik begin reën en die gelykenis van die saaier het onmiddellik in my gedagtes opgekom. Hoekom dié gelykenis en die les daaragter sal ons nou by kom.

Die mens is soms so geneig om die lering van God so ingewikkeld te maak dat geen persoon dit op die einde verstaan nie en dat dit mense slegs deurmekaar maak in plaas daarvan om hulle die eenvoudige waarheid van Vader se liefde en genade te leer.
As ons net bereid is om vir ’n oomblik stil te staan en te luister wat Hy ons wil leer deur Sy skepping, dan kan ons dalk miskien van die wonderlikste lesse leer wat geen mens aan ons kan oordra nie maar slegs die Gees van God.

Die Saaier wat die saad gesaai het in die landerye moes dit tog gedoen het in opdrag van iemand. ’n Boer sal byvoorbeeld ’n saaier huur om die saad te saai en aan hom opdrag gee waar hy oral die saad moet saai.
Maar tog is daar ’n paar faktore wat in ag geneem moet word wanneer daar gesaai word, naamlik is dit nou saaityd, met ander woorde is dit die regte seisoen om te saai. Is die reën naby om die saadjies te benat sodat hulle kan ontkiem en groei.
Mens kan tog nie saai te midde van ’n droogte of in die droë seisoen nie. Is die grond goed voorberei vir ontvangs van die saad, is dit behoorlik geploeg en geëg.
Daar moet ’n samewerking wees tussen die boer, die saaier en die reën om ’n vrugbare oes te verseker.

In hierdie gelykenis sien ons ook die volheid van Vader werksaam in die hart van die mens.
God het Sy eniggebore Seun ons Verlosser Yahshua gestuur om die saad van liefde in ons harte te kom saai. Ons harte moet voorberei wees sodat die saad in vrugbare en goeie grond kan val om uit te spruit en in oorvloed vrug te dra.
Maar die saad moet versorg word nadat dit gesaai is en daarom het die Heilige Gees in ons hart kom woon, die “Reën” wat die saad moet benat en die jong plantjies moet versorg.

Ons het die “Reën” van Vader nodig om te groei tot volheid en oorvloedig vrug te dra. Maar Vader het aan ons die keuse gegee, ons kan kies of ons Hom wil toelaat om volle beheer te neem van ons hart sodat ons geseën kan word deur die “Reën” van Sy genade of ons kan kies om nie die saad te laat uitspruit en vrug dra nie.
Soms is ons versamelaars van saad maar ons wil dit net saam met ons dra, ons wil nie toelaat dat dit gesaai word en groei nie, want dan moet ek die beheer van my “landery” oorgee aan die groot “Landbouer” en daarvoor sien mense nie kans nie.

’n Landery wat nie beplant is nie of waarop ’n misoes is, is slegs goed vir die vee om op te loop en af te wei.

Is jy gereed vir die “Reën” se seën ?

No comments: