Wednesday, February 11, 2009

Kallie se Twintig Sent


Kallie was besig om baie koud te kry terwyl hy in die agterplaas tussen die sneeu sit. Kallie het nie stewels aan nie, hy hou nie van hulle nie en in elk geval besit hy ook nie ’n paar stewels nie. Die dun tekkies wat hy aan het, het ’n paar gate in en is nie baie effektief om die koue uit te hou nie. Kallie is nou al die afgelope uur in die agterplaas en maak nie saak hoe hy die saak bedink nie maar hy kry geen idee wat hy vir sy moeder kan gee vir haar verjaarsdag nie. Hy skud sy kop terwyl hy dink, “Dit is hopeloos, al kan ek aan iets dink het ek in elk geval nie die geld om daarvoor te betaal nie.” Vandat sy vader so ongeveer drie jaar gelede oorlede is, was dit ’n opdraande stryd vir die gesin van vyf om siel en liggaam aanmekaar te hou. Dit was nie omdat sy moeder nie omgee of probeer het nie, dis net asof daar nooit genoeg is om alles te doen nie. Sy moeder werk nagte by die hospitaal, maar die klein vergoeding wat sy ontvang kan ook net sovêr strek en nie verder nie.

Alhoewel die gesin ’n geweldige tekort gehad het aan geld en materiële goedere maar hulle het daarvoor opgemaak in oorvloedige liefde vir mekaar en gesinseenheid. Kallie het twee ouer susters en een jongste suster, wat die huishouding aan die gang hou in hul moeder se afwesigheid wanneer sy werk. Sy drie susters het alreeds pragtige geskenke vir sy moeder gemaak vir haar verjaarsdag. Op ’n manier was dit net nie regverdig nie, hier was dit alreeds die middag voor sy moeder se verjaarsdag en steeds het hy nog niks om vir haar te gee nie. Terwyl hy ’n traan van sy wang afvee en die sneeu skop begin hy mismoedig in die straat af te stap in die rigtings van die winkels.

Dit was nie maklik gewees om ses jaar oud te wees sonder ’n vader nie, veral nie wanneer hy ’n man nodig gehad het om mee te praat nie. Kallie loop van winkel na winkel en bewonder al die pragtige goed in die winkel vensters. Alles lyk so pragtig maar tog so vêr buite sy bereik. Dit het begin donker word en Kallie het baie moedeloos begin omdraai om huis toe te gaan en skielik vang sy oog iets wat glinster op die sypaadjie in die son se laaste strale. Hy buk af en tel ’n blink nuwe twintig sent stuk op. Nog nooit tevore het iemand so ryk gevoel soos Kallie op daardie oomblik nie. Terwyl hy sy nuutgevonde skat in sy hand vashou voel hy hoe ’n warmte deur hom vloei en hy stap vol selfvertroue die eerste winkel binne. Sy opgewondenheid word vinnig geblus toe die verkoops dame hom meedeel dat hy niks kan koop in die winkel vir twintig sent nie.
Hy merk ’n blommewinkel op en stap binne terwyl hy in die ry staan om gehelp te word. Toe die winkel eienaar hom vra of hy hom kan help, plaas Kallie sy twintig sent op die toonbank en vra of hy een blommetjie kan koop vir sy moeder se verjaarsdag. Die winkel eienaar kyk na Kallie en toe na sy twintig sent aanbieding. Hy plaas sy hand op Kallie se skouer en sê, “Wag jy net hier dan gaan ek kyk wat ek vir jou kan doen.”

Terwyl Kallie wag kyk hy na al die pragtige blomme in die winkel en alhoewel hy ’n seun was, kon hy verstaan hoekom moeders en meisies so baie van blomme hou. Die geluid van die deur wat toemaak terwyl die laaste kliënt die winkel verlaat ruk vir Kallie uit sy diepe gedagte wêreld uit, terug na die werklikheid. Heeltemal alleen in die winkel begin Kallie baie eensaam en bang voel. Skielik kom die winkel eienaar uit die agterste werksarea uit na die toonbank. Daar voor Kallie se oë plaas hy twaalf van die mooiste rooi rose met ander fyn wit blommetjies en pragtige groen blare, almal saamgebind met die pragtigste silwer lint. Kallie se hart sak in sy skoene toe die winkel eienaar die blomme neem en hulle netjies in ’n lang wit dosie plaas.
“Dit sal twintig sent wees jong man.” sê die eienaar terwyl hy sy hand uitsteek om die twintig sent te neem. Stadig, beweeg Kallie sy hand om die man sy twintig sent te gee. Kan dit waar wees? Niemand wou hom eens iets gee vir sy twintig sent nie! Terwyl die eienaar die seun se ongeloof aanvoel, voeg hy by, “Ek het toevallig ’n paar rose gehad wat op uitverkoping was, twintig sent vir ’n dosyn. Stel jy belang in hulle?” Die keer het Kallie nie meer gehuiwer nie en toe die man die lang dosie met rose in sy hande plaas, toe weet hy dis waar. Terwyl hy by die deur uitstap, wat die eienaar vir hom oophou, hoor hy die winkel eienaar agterna sê, “Gelukkig verjaarsdag vir jou moeder, seun.”

Terwyl hy weer die winkel binnegaan kom die winkel eienaar se vrou vanuit die stoor. “Met wie het jy so gepraat en waar is die rose wat jy opgemaak het?” Terwyl hy by die venster uit staar en vinnig van die trane uit sy oë vee, antwoord hy. “’n Snaakse ding het vanoggend met my gebeur. Terwyl ek besig was om alles in die winkel reg te kry voordat ek oopmaak, het ek gedink ek hoor ’n stem wat vir my sê om ’n dosyn van my mooiste rose eenkant te hou vir ’n spesiale geskenk. Ek was op daardie stadium nie seker of ek besig was om mal te word nie maar ek het dit nietemin eenkant gebêre. En so paar minute gelede het ’n jong seun ingekom wat ’n blom wou koop vir sy moeder se verjaarsdag met ’n skamele twintig sent. Toe ek na hom kyk het ek myself gesien, baie jare gelede. Ek self was ’n baie arm seun wat niks vir my moeder kon koop met haar verjaarsdag nie. ’n Bebaarde man het my op die sypaadjie voorgekeer en gesê hy wil vir my tien rand gee. Toe ek vanaand die seun sien, het ek geweet wie die stem was dat met my gepraat het en ek het ’n mooi ruikertjie gemaak met my beste rose wat ek het.”
Die winkel eienaar het sy vrou in sy arms geneem en haar ’n liefdevolle drukkie gegee en hulle al twee het uitgestap, op die sypaadjie, in die bitter koue luggie, maar hulle het die koue nie eens gevoel nie vanweë die opwellende liefde in hul harte.

No comments: