Monday, February 16, 2009

Die Eende en die Sneeustorm


Daar was eendag ’n man wat glad nie geglo het in die maagdelike geboorte van Jesus en die geestelike betekenis daarvan nie. Inteendeel was hy maar baie skepties oor die bestaan van God. Hy en sy gesin het in ’n plaas gemeenskap gewoon. Sy vrou was ‘’n toegewyde gelowige en het pligsgetrou haar kinders opgevoed in die geloof. Hy het soms dit baie onaangenaam vir sy vrou gemaak oor haar geloof en haar gereeld gespot oor haar geloofsoortuiging.

“Dit is louter snert - - Hoekom sou God Homself so verneder en ’n mens word soos ons? Vir wat? Dis so ’n belaglike storie.” het hy gereeld aan sy vrou gesê.

Op ’n sneeuerige dag het sy en die kinders gemeente byeenkoms toe gegaan terwyl hy by die huis gebly het. Nadat hulle weg is, het die wind begin opsteek en die sneeu het gou verander in ’n verblindende sneeustorm. Hy het homself knus gaan tuismaak voor die kaggel vuur.

Na ’n wyle hoor hy ’n doef geluid, iets wat teen die venster stamp....en, weereens nog ’n doef geluid. Hy kyk by die venster uit maar kan niks sien nie. Hy gaan uit die huis uit om beter te sien wat aangaan. In die veld, naby die huis, merk hy die eienaardigste verskynsel op, ’n trop wilde-eende. Dit wil voorkom asof hulle besig was om te migreer na warmer streke toe die sneeustorm hulle oorval. Die storm het te verblindend en kwaai geraak vir hulle om te vlieg.
Hulle is gestrand op sy plaas, sonder enige beskerming of kos en is nie in staat om enige iets te doen behalwe hulle vlerke te klap en doelloos in sirkels rond te vlieg.
Hy het baie jammer vir hulle gevoel en wou hulle baie graag help. Hy het by homself gedink, die skuur behoort ’n ideale plek vir hulle te wees om skuiling te soek teen die weer, dis warm en veilig. Hulle kan maklik die nag daar bly en wag tot die storm verby is. Met die maak hy die skuur se deure oop vir die wilde-eende.

Hy wag en hou hulle dop in die hoop dat hulle die oop deure sal sien en sal ingaan in die skuur. Maar helaas, hulle merk nie die skuur op of besef wat dit vir hulle oorlewing kan beteken nie. Hy beweeg nader aan hulle om hulle aandag te kry maar hulle beweeg net al verder van hom af weg uit vrees.

Hy is die huis in en kom uit met brood wat hy in stukke breek en uitstrooi om hulle na die skuur te lok. Maar steeds wil hulle nie byt aan die plan nie.

Besig om baie gefrustreerd te raak, stap hy oor na die eende en probeer hulle aanjaag na die skuur. Hulle raak verskrik en spat uiteen in alle rigtings behalwe na die stoor. Niks wat hy gedoen het, kon hulle oortuig om na die skuur te gaan waar daar warmte, beskerming en voeding vir hulle is nie. Totaal gefrustreerd roep hy uit, “Hoekom wil hulle my nie volg nie? Kan hulle nie sien dis die enigste plek waar hulle die storm kan oorleef nie? Hoe kan ek hulle tog in die een plek kry wat hulle kan red?”

Hy dink vir ’n oomblik na en besef dat hulle eenvoudig nie ’n mens sal volg nie. Hy sê vir homself, “Hoe op aarde kan ek hulle red? Die enigste manier is dat ek soos een van die eende word. As ek maar net soos een van hulle kan word. Dan sal ek hulle kan red. Hulle sal my volg en ek sal hulle kan lei na veiligheid.”

Op daardie oomblik stop hy en oorweeg dit wat hy nou net oordink het. Die woorde echo in sy gedagtes: As ek net soos een van hulle kan word, dan kan ek hulle red. Toe, ten einde laaste, verstaan hy vir die eerste keer God se hart teenoor die mense ..... en hy sak op sy knieë in die sneeu.

Joh. 3:16 Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
Joh. 3:17 Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.

No comments: