Friday, February 20, 2009

Bamboes


Eendag lank gelede, in die hart van die Westelike Koninkryk, was ’n pragtige tuin. In die koelte van die namiddag het die Meester van die tuin daarna verlang om in Sy tuin te gaan wandel. Van al die pragtige plante en blomme in die tuin was die mees geliefde vir die Meester tog die grasieuse en edele bamboes. Jaar na jaar het bamboes net meer grasieus en edel geword, terdeë bewus van sy Meester se liefde en vreugdevolle blik, maar steeds was bamboes ingetoë en sagmoedig sonder enige hoogmoed.
Gereeld wanneer die wind begin het om te waai het bamboes ontslae geraak van sy statige postuur en begin om te dans en te speel in die wind. Hy het geswaai en gebuig van pure blydskap en die ander plante gelei in die blye dans voor die aangesig van die Meester van die tuin. Dit het die hart van die Meester geweldig verbly om die blydskap in Sy tuin te sien.

Toe, eendag, kom die Meester om bamboes ondersoekend te bestudeer. Bamboes het gou sy groot toppe tot op die grond neergebuig voor die Meester in ’n liefdevolle groet.

Die Meester het gespreek: Bamboes, Bamboes, Ek wil jou gebruik.”

Bamboes gooi sy groot toppe in die lug van pure blydskap. Die dag van dae het gekom, die dag waarvoor hy gemaak is, die dag waarvoor hy grootgeword het en gegroei het uur vir uur. Die dag waarop hy die vervulling van sy lewensdoel sal sien en ervaar.

In ’n lae stem antwoord Bamboes: “Meester, ek is gereed. Gebruik my soos U wil.”

“Bamboes,” – Die Meester se stem was vol hartseer – “Dit sal beteken dat Ek sal jou moet neem en jou afkap!”

Bamboes bewe van pure angs....”My .....afsny? Ek.....vir wie U Meester die mooiste gemaak het in die hele tuin...my afsny! Asseblief, net nie dit nie. Gebruik my vir U glorie, vir U blydskap, op enige ander manier Meester, maar moet my nie afsny nie!”

“My geliefde Bamboes,” – Die Meester se stem is nou nog meer hartseer – “As Ek jou nie kan afsny nie, kan Ek jou nie gebruik nie.”

Die hele tuin het in doodse stilte verval. Wind het sy asem opgehou. Bamboes buig stadig sy groot trotse toppe af. Daar was ’n sagte fluistering:

“Meester, as U my anders kan gebruik as om my af te sny nie... doen dan slegs U wil en sny.”

“Bamboes, geliefde Bamboes, Ek sal jou blare en takke ook van jou moet afsny.”

“Meester, spaar my. Sny my af en lê my skoonheid neer in die stof; maar moet U regtig my af wegneem my blare en takke ook?”

“Bamboes, as ek hulle nie wegsny nie kan Ek jou steeds nie gebruik nie.”
Die son het sy gesig versteek. ‘’n Vlinder wat na alles geluister het fladder beangs weg. En Bamboes wat bewe in die vreeslikste afwagting fluister saggies: “Meester, sny weg.”

“Bamboes, Bamboes, Ek sal jou nog vêrder in twee moet kloof en jou hart moet uitsny, want as Ek nie so sny nie kan ek jou nie gebruik nie.”

Toe buig Bamboes laag na die aarde: “Meester, my liefste Meester ..... sny dan en kloof.”

So het die Meester van die tuin dan Bamboes geneem .....
en hom afgesny.....
en sy takke afgekap....
en hom gestroop van al sy blare...
en hom in twee gekloof.....
en sy hart uitgesny.

Die Meester het hom saggies opgetel en hom gedra na ’n fontein met vars sprankelende water in die middel van ’n droë veld. Versigtig plaas die Meester die een end van gebreekte Bamboes in die fontein en die ander end in ’n watervoor in Sy veld en lê Sy geliefde Bamboes versigtig neer. En die fontein bars uit in sang en die skoon sprankelende water hardloop vreugdevol langs die kanaal van Bamboes se verskeurde liggaam in die afwagtende droë veld. Toe word die rys geplant en die dae gaan haas verby. Die spriete loop uit en gou was die oes gereed.

In daardie dag was Bamboes, eens so glorieryk in sy statige skoonheid, meer glorieryk in sy gebrokenheid en vernedering. Want in sy skoonheid was hy lewe in oorvloed maar in sy gebrokenheid het hy ’n kanaal geword vir oorvloedige lewe van sy Meester se wêreld.

No comments: