Friday, August 29, 2008

Die Baba


Een middag, terwyl ‘n paartjie oppad was, merk hulle skielik in die vêrte ‘n vrou in die middel van die pad op wat versoek dat hulle moet stop. Die vrou sê aan haar man dat hy moet aanhou ry want dit kan ‘n lokval wees, maar die man besluit toe om stadig verby te ry sodat hy kan sien wat die probleem is en of daar werklik ‘n probleem is van iemand wat dalk seergekry het. Terwyl hulle naderkom merk hulle dat die vrou snye en kneusings in haar gesig en op haar arms het. Hulle besluit om te stop en te kyk wat hulle kan doen om te help.

Die beseerde vrou het by hulle gesmeek om haar te help want hulle was in ‘n motorongeluk en haar man en pasgebore baba was steeds in die motor wat in die diep kloof lê. Sy sê dat haar man reeds dood is maar dit lyk of die baba nog lewe.

Die man besluit toe dat hy in die kloof sal afklim en probeer om die baba te red. Hy vra die vrou om solank in die motor te klim en by sy vrou te bly. Toe hy onder kom merk hy dat daar twee mense in die voorste sitplekke van die motor is maar hy steur hom nie veel aan hulle nie en haal vinnig die baba agter uit die motor om die na sy ma toe te neem.

Toe hy bo uitkom, is die ma nêrens te vinde nie en hy vra sy vrou wat van die ma geword het. Sy sê dat die vrou agter hom aan is toe hy in die kloof af is na die motor toe. Hy besluit toe om maar weer in die kloof af te gaan en te gaan soek na die ma. By die wrak uitgekom sien hy die twee mense voor in die motor was reeds dood, ‘n man en vrou, steeds met hul veiligheidsgordels aan.

Toe hy nader ondersoek instel merk hy dat die oorlede vrou presies dieselfde vrou was wat by hulle gepleit het om te stop vir hulp.

Die baba leef nou by familie en sal leef om eendag die storie te vertel.

Ons het nog so baie om te leer oor die Almag, Grootheid en Goedheid van God en daar is nog baie dinge wat verborge is vir die menslike verstand.


Daarom sal ons Hom loof in heerlikheid vir die wonderwerk wat Hy nog elke dag in ons lewens laat plaasvind.

No comments: