Wednesday, August 27, 2008

Onvoorwaardelike Liefde


Die verhaal word vertel van die soldaat wat uiteindelik huistoe gekom het na ‘n lang en uitgerekte oorlog. Hy het hulle gebel vanaf die stad.

“Ma en Pa, ek kom huistoe, maar ek het ‘n guns om te vra. Ek het ‘n vriend wat ek wil saambring huistoe.”

“Seker,” antwoord hulle, “ons sal hom graag wil ontmoet.”

“Daar is iets wat julle moet weet voordat ek hom saambring,” gaan hy voort, “hy was baie ernstig gewond tydens ‘n skermutseling. Hy het op ‘n landmyn getrap en het sy arm en been verloor. Hy het nêrens anders om heen te gaan nie en ek wil graag hê dat hy by ons moet kom bly.”

“Ek is jammer om dit te hoor, seun. Miskien kan ons hom help om ‘n ander blyplek te kry waar hulle hom beter kan versorg.”

“Nee, Ma en Pa, ek wil hê dat hy by ons bly.”

“Seun,” sê die pa, “jy weet nie wat jy vra nie. Iemand met so ‘n gebrek sal ‘n geweldige las op ons plaas. Ons het ons lewens om te leef en ons kan nie toelaat dat iets soos die inmeng met ons lewens nie. Ek dink jy moet net huistoe kom en vergeet van die vriend. Laat die weermag hom verder versorg. Hy sal wel later op sy eie regkom.”

Op daardie stadium het die seun die telefoon neergesit sonder om te groet. Die ouers het niks weer verder van hom gehoor nie. ‘n Paar dae later ontvang hulle ‘n oproep van die polisie uit die stad waar hul seun was. Hulle is meegedeel dat hul seun dood is nadat hy van ‘n gebou afgeval het. Die polisie vermoed dit was selfmoord gewees. Die bedroefde ouers het na die stad gevlieg en is na die lykshuis geneem om hul seun se liggaam uit te ken.
Hulle het hom herken as hulle seun maar het tot hul skok iets ontdek wat hulle nie geweet het nie, hul seun het net een arm en been gehad.

Die ouers in die verhaal is soos baie van ons. Ons vind dit baie maklik om die lief te hê wat goed lyk en pret is om mee saam te wees, maar ons hou nie van mense wat ons verontrief of ons ongemaklik laat voel nie. Ons sal eerder wegbly van mense wat nie so gesond, mooi of slim soos ons is nie. Gelukkig, is daar Iemand wat ons nie so sal behandel nie. Iemand wat ons onvoorwaardelik lief het en ons verwelkom in Sy Goddelike familie, ongeag hoe opgemors ons is.

Vanaand, voordat jy snoesig in jou bed klim, vra God dat Hy jou die krag sal gee om mense te aanvaar soos hulle is en om ons te help om meer begrip te toon vir hulle wat nie so bevoorreg is soos ons nie.

No comments: