Monday, June 23, 2008

Dankie God vir My Skoene


Een oggend het ek wakker geword en besef dat daar baie dinge in my lewe is waarmee ek nie tevrede is nie. Daar was uitdagings wat my siel en my hele geloofs basis bedreig.

Ek het myself afgevra, “Hoe kan enige iemand my beny en graag in my skoene wil staan.”
Hulle weet nie hoe rof die pad was wat ek moes bewandel nie nog minder weet hulle hoe die pad vir my lyk wat voorlê. Hulle weet ook nie hoe ontevrede ek van tyd tot tyd met myself raak oor my gebreke en foute nie. Ek wens ek kon in iemand anders se skoene staan.

Mense is nie bewus van die probleme wat ander al moes verduur nie en wat is die prys wat hulle moes betaal om te kom waar hulle vandag is nie. Al wat hulle weet is dat hulle graag in iemand anders se skoene sal wil staan.

Hoor ons dit nie elke dag om ons nie – ek sal graag daardie persoon wil wees wat so ryk is of ek sal graag so mooi soos daardie model wil lyk.

Hoekom sal jy wens dat jy in iemand anders se skoene was as jy nie eens weet hoe sy skoene pas nie.?
As jy jou skoene vir ‘n ruk gedra het dan begin hulle die vorm van jou voete aan te neem en is hulle aangepas vir die manier waarop jy loop.
As jy iemand anders se skoene sou dra sal jy nie gemaklik daarin wees nie want die grootte kan reg wees maar die vorm sal verskil.

Dus het ek opgehou om te wens dat ek in iemand anders se skoene kan staan want hulle sal nie pas nie en ek sal eerder God dank vir my skoene, want hulle pas perfek!

Ek het geleer om binne my vermoë die beste te wees wat ek kan en dat ek uniek is, niemand is soos ek nie en niemand kan my enigsins vervang nie.
Ek is ‘n oorspronklike, my God is nie in die klonings besigheid nie, Hy maak slegs oorspronklikes.

Gee slegs jou beste wat jy kan en leef jou lewe voluit want ons leef net hierdie een keer en daarvan sal ons rekenskap gee voor die Almagtige.
Hy voorsien vir ons die regte skoene vir die pad wat ons moet bewandel.

No comments: