Thursday, November 29, 2007

Luister of Wag…..

‘n Jong en suksesvolle sakeman was besig om in die woonbuurt se straat af te ry, heelwat vinniger as wat hy moet, in sy nuwe Jaguar. Hy was die heeltyd op die uitkyk vir kinders wat dalk tussen die geparkeerde motors uithardloop. Hy het so bietjie stadiger gegaan toe hy hom verbeel hy sien iets.

Terwyl hy by die geparkeerde motors verbyry, kom daar geen kinders uit nie, maar instede ‘n baksteen wat teen die motor se deur gegooi word! Hy slaan onmiddellik die remme aan en ry agteruit tot by die plek vanwaar die baksteen gegooi is. Hy spring uit die motor en gryp die seun wat die baksteen gegooi het en druk hom vas teen een van die geparkeerde motors en skreeu, “Hoekom het jy dit gedoen? Is jy mal in jou kop?”

Die sakeman is nou eers besig om stoom op te tel en is buite homself van woede “Dit is ‘n splinternuwe motor daardie en dit gaan ‘n plaas se prys kos om reg te maak!!”

“Asseblief, meneer, asseblief. Ek is verskriklik jammer. Maar ek het nie geweet wat anders om te doen nie!” pleit die seun. “Ek het die baksteen gegooi omdat niemand wil stop…” die trane loop oor die seun se wange terwyl hy beduie na die agterkant van die geparkeerde motor. “Dit is my broer” sê hy. “Hy het by die randsteen afgerol met sy rolstoel en omgeval en kan hom nie opgetel kry nie.” Terwyl die seun snik vra hy die sakeman, “Kan u my asseblief help om hom in sy rolstoel te kry? Hy het seergekry en is te swaar vir my om op te tel.”

Stomgeslaan probeer die sakeman vinnig sluk aan die knop wat in sy keel opwel. Hy tel die jongman op en sit hom weer in sy rolstoel. Hy haal sy sakdoek uit en vee die skrape en sny af om seker te maak die jongman is reg. “Dankie meneer en mag God u ryklik seën” antwoord die dankbare seun. Die man kyk agterna terwyl die seuntjie sy broer huis toe stoot.

Dit was ‘n lang stap terug na sy Jaguar toe ….. ‘n lang, stadige stap. Hy het nooi die duik op die deur laat regmaak nie. Hy het die duik daar gehou om hom te herinner om nie so vinnig deur die lewe te gaan dat iemand nodig het om ‘n baksteen te gooi om jou aandag te trek nie.

God fluiter in jou siel en praat tot jou hart. Soms wanneer jy nie tyd het om te luister na Sy stem nie, moet hy ‘n “baksteen” na jou gooi.
Luister vir die fluister, of wag vir die baksteen….

No comments: