Tuesday, November 13, 2007

Die Bedelaar se Vodde

‘n Bedelaar het naby aan die koning se paleis gewoon. Op ‘n dag sien hy ‘n proklamasie wat opgesit is by die paleis se poorte. Die koning was van plan om ‘n groot feesmaal aan te lê en elke een wat koninklike klere aan het word na die feesmaal genooi.

Die bedelaar kies weer koers terwyl hy so kyk na sy vodde klere wat hy aan het en gee ‘n sware sug. Hy dink by homself dat dit sekerlik net konings en hul families is wat koninklike klere het. Stadig begin hy ‘n idee te kry maar die voorbarigheid daarvan laat hom skoon bewe van angs, kan hy dit waag?

Hy besluit om weer terug te gaan na die koning se paleis. By die poorte kry hy die koning se wag en vra hom, “Asseblief, meneer, ek wil graag met die koning praat.”

“Wag hier” beveel die hekwag, Na ‘n paar minute is die wag terug en sê aan die bedelaar, “Sy majesteit sal jou nou sien,” en met die laat hy die bedelaar die paleis binnegaan.

“Jy het versoek om my te sien?” vra die koning.

“Ja, u majesteit. Ek wil so graag die feesmaal bywoon maar ek het nie koninklike klere om aan te trek nie. Asseblief majesteit, as ek so voorbarig mag wees, kan ek een van u ou stelle koninklike klere kry sodat ek ook die feesmaal kan bywoon?”

Die arme boemelaar bewe so baie dat hy nie die klein glimlag op die koning se gesig bemerk nie. “Jy was baie wys om na my te kom met die saak,” sê die koning. Die koning roep sy seun, die jong prins. “Neem die man na jou kamer en gee vir hom van jou koninklike klere om aan te trek.”

Die prins het gemaak soos wat die koning hom beveel het en sommer gou was die boemelaar voor ‘n spieël, geklee in klere wat sy stoutste verwagtings by verre oortref.

“Jy kwalifiseer nou om die koninklike feesmaal môre by te woon.” sê die prins, “Maar nog meer belangrik, jy sal nooit weer ander klere nodig kry nie. Die klere sal hou vir ewig.”

Die bedelaar val op sy knieë en bedank die prins uit die diepte van sy hart. Maar terwyl hy besig is om uit die kamer te stap, kyk hy terug na die hopie vodde klere wat op die vloer lê. Hy aarsel ‘n oomblik. Wat sal gebeur as die prins verkeerd is? Wat sal gebeur as hy dalk later sy ou klere weer nodig kry? Vinnig raap hy hulle bymekaar.

Die feesmaal was nog meer wonderlik as wat hy dit kon voorgestel het in sy wildste drome, maar hy kon homself nie geniet soos hy moes nie. Hy het ‘n klein bondeltjie gemaak van sy ou vodde klere en dit op sy skoot geplaas en die bondeltjie het kort - kort afgeval van sy skoot af. Die kos was redelik vinnig aangegee tussen die gaste en die bedelaar het van die beste lekkernye gemis met die wat hy gereeld die bondeltjie vodde moes optel.

Die tyd het wel geleer dat die prins wel reg was, die klere het vir ewig gehou. Maar steeds het die arme bedelaar meer en meer verknog geraak aan sy bondeltjie vodde. Soos wat die tyd aangestap het, het die mense nie meer die koninklike klere gesien wat hy aangehad het nie maar slegs die vuil bondeltjie vodde wat hy altyd met hom saamgedra het waar hy ookal gaan. Hulle het ook altyd van hom gepraat as die ou man met die vodde.

Eendag terwyl hy op sterwe lê, besoek die koning hom. Die bedelaar sien die hartseer in die koning se gesig toe dié die bondeltjie vodde op die bed sien.

Dadelik onthou die bedelaar die prins se woorde en hy besef dat die bondeltjie vodde hom ‘n leeftyd van werklike koninklike heerlikheid ontneem het. Hy het bitterlik begin ween oor sy dwaasheid en die koning het saam met hom geween.

Ons is uitgenooi om aan te sluit by ‘n koninklike familie – die familie van God. Om fees te vier saam met Hom aan die feesmaal. Al wat ons moet doen is om ontslae te raak van die vodde en om “nuwe klere” van geloof aan te trek soos aan ons voorsien deur God se Seun, Jesus. Ons kan nie bly vashou aan ons ou vodde nie. Wanneer ons, ons geloof plaas in Jesus moet ons die sondes laat vaar in ons lewe en afstand doen van ons ou weë.

(2Kor 5:17) Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.

No comments: