Wednesday, November 21, 2007

God se Doel in Alle Dinge

Eendag het ‘n houtkapper sy kleinseun saamgeneem na die woud. Dit sou die kleinseun se eerste ondervinding wees om ‘n Eike boom uit te soek en af te kap. Die bome word later aan die skeepsbouers verkoop. Terwyl hulle stap na die woud verduidelik die houtkapper aan die seun dat die doel van elke boom is saamgevat in sy natuurlike vorm, sommige is reguit en is geskik vir dekplanke van ‘n boot, sommige is effe gebuig en is perfek vir die ronding van ‘n skip se romp en ander is weer lank en reguit, perfek vir maste vir die skepe.
Die houtkapper verduidelik aan sy kleinseun dat as hy die nodige aandag skenk aan al die detail van ‘n boom en met ondervinding die karakter trekke van elke boom kan uitken sal hy dalk ook eendag die houtkapper van die woud kan word.

Terwyl hulle ‘n klein entjie in die woud ingestap het sien die seun ‘n ou Eike boom wat nooit afgekap is nie. Die seun vra sy oupa of hy nie die boom kan afkap nie aangesien dit glad nie gebruik kan word vir skeepsbou nie – al die takke is krom en skeef, die boomstomp is krom, te veel gebuig en verdraaid – “maar dit sal baie ideaal wees vir brandhout by die huis, dan sal dit ten minste goed wees vir iets” sê die seun.
Die houtkapper sê dat hulle maar eers moet konsentreer op die bome wat geskik is vir skeepsbou en dat hulle later kan terugkom na die ou Eike boom..

Na ‘n paar uur van bome afkap het die seun baie moeg geword en sy oupa gevra of hulle nie maar ‘n bietjie kan rus nie. Die houtkapper neem toe die seun na die ou Eike boom waar hulle hulself lekker gemaklik maak teen die boom se ou krom stam en hulle verlustig in die skaduwee wat die krom en skewe takke en blare vir hulle verskaf.
Nadat hulle gerus het verduidelik die houtkapper aan sy kleinseun hoekom dit so belangrik is om bewus te wees van alle dinge en hulle doel te herken in die woud en die wêreld.
Sommige dinge is voor die hand liggend soos die lang, reguit bome, maar ander dinge is nie altyd so duidelik nie en moet nader ondersoek word soos of die boom die regte kromming het wat geskik sal wees vir ‘n skip se romp. Sommige dinge mag voorkom asof hulle geen doel het nie soos die krom en verdraaide ou Eike boom waaronder ons nou sit.

Die houtkapper sê: “ Jy moet leer om elke dag noulettend aandag te gee sodat jy die doel van God met alle dinge in Sy skepping kan ontdek en herken. Neem byvoorbeeld die ou Eike boom, wat jy so vinnig wou afkap omdat dit net goed is vir vuurmaakhout, maar nou rus ons lekker teen sy krom stam in die heerlike skaduwee van sy koelte.
Onthou, seun, nie alles is soos dit met die eerste oog opslag lyk nie. Wees geduldig, gee aandag, herken, ontdek en wees nie haastig om te oordeel nie.”
Rom 2:1 Daarom is jy, o mens wat oordeel, wie jy ook mag wees, sonder verontskuldiging; want waarin jy ‘n ander oordeel, veroordeel jy jouself; want jy wat oordeel, doen dieselfde dinge.

No comments: