Friday, February 26, 2010

Verspeelde Jare


Wat beteken dit om oud te word? Vir elke ouderdomsgroep beteken dit iets anders.
Vir die jong klomp is dit nie ’n kwessie waarmee hulle hulself baie vermoei nie, want om oud te wees is ’n relatiewe begrip en hoe ouer jy word hoë meer verskuif jou persepsie van “oud.”

As jy jonger as twintig is dan is een en twintig al oud maar dan is jy ook eers mooi groot en dan kan jy alles doen wat jou hart begeer of wat die grootmense jou altyd verbied het om te doen.

In jou twintigs is dertigs soos ’n berg voor jou want dan voel dit of alles jou laaste kans is (vir vrouens wat nog nie getroud is nie beteken dit jy gaan moontlik “op die rak bly”) Gedurende die jare word alles gedryf deur hormone – doen eers en dink later. Dit is woeste jare wat baie letsels kan laat agterbly vir die onverskilliges. Dis die jare van alles probeer – “been there, done that”

In jou dertigs besef jy dié ouderdoms tydgleuf is nie so sleg nie, want alles raak gevestig en daar is meer standvastigheid. Die gejaag van die twintigs is besig om te bedaar en plek te maak vir meer kalmte. Maar saam met die kalmte is daar ook soms stormwolke op die horison, veral wanneer die paartjie so tien jaar getroud is. Dis opmerklik hoe baie huweliks probleme ontstaan wanneer mense so tien jaar getroud is en hoeveel van hulle nie die storm kan oorleef nie. Daar is seker ’n paar faktore soos die kinders wat gebore is verg aanpassings in die verhouding. Die slypwerk aan mekaar begin in alle erns, veral met kinders in die prentjie en die druk om ’n suksesvolle loopbaan te vestig. Die verlange na die vryheid van die ongetroude lewe sonder verantwoordelikhede speel ook ’n belangrike rol want die gevoel kan ontstaan dat dit nou of nooit is – nou om uit te klim of om vir die res van jou lewe aan die verhouding te werk.

Veertigs raak amper weer ’n nagmerrie, amper soortgelyk aan die twintigs met die verskil – die twintigs wil alles doen voordat hulle rustig raak en begin “settle”, die veertigs wil alles weer probeer doen voordat hul dood of oor die wal is. Die veertigs word ook gedryf deur hormone – met die verskil - hul laaste stuiptrekkings wat dit veroorsaak.
In die tyd is daar ook baie wat hul vryheid soek want hulle verlang na wat hulle nie kon bereik of vind nie. Die ironie is dat sodra hulle die vryheid het om te gaan soek dan besef hulle dit was net ’n mirage wat hul najaag en dit wat hulle vang is slegs die wind wat niemand kan vashou nie. Dis ook ’n baie selfsugtige tyd want mense dink net aan hom- of haarself en glad nie aan die wederhelfte of die gesin nie.
Die jare word geken deur EK – ek wil hê, ek wil doen, ek wil .......

Die vyftigs raak weer rustig, daar is ’n kalmte en fokus wat saam met die jare kom. Jy weet wie en wat jy is en jy begin vrede te maak met jou eie tekortkominge. In die huwelik het die meeste slypwerk reeds plaasgevind en die twee klippies lyk al amper dieselfde. Dis net so nou en dan wat daar ’n sandkorreltjie of wat in die mengsel inkom en so effense growwigheid veroorsaak, maar die twee gladde klippe rol die sandkorreltjie gou fyn en dis net stof wat oorbly. Die wellustigheid van die vlees raak al minder en daar is ’n groter klem op die geestelike welsyn as op die materiële.

Die besef is gevestig, ..... ek is oor die helfte van my lewe ....., die jare wat oorbly is hoogs waarskynlik minder as dit wat verby is. ’n Brandende behoefte begin in die hart te ontstaan om Yahweh beter te leer ken, om Sy wil op te soek, ..... om reg te maak vir die onvermydelike.

Hierdie jare, soos wat baie ook verwys na die “goue jare” kan voorwaar goue jare wees as jy bereid is om te luister na die Stem van die Almagtige wat voortdurend roep en daarna smag om saam met jou maaltyd te kom hou.
Daar is ’n diepe besef dat ons soveel jare verspil het om die materiële na te jaag en dat ons Vader afgeskeep het. Waar sou ons al in ons geestelike groei nie gestaan het as ons die soeke al jare gelede begin het nie.

Ons het onsself te kort gedoen aan die mees wonderlike seëninge wat daar op ons gewag het, al wat ons moes doen was om te vra en te dien.

Ons het soveel kosbare jare verspeel.

Dit is soos die verliefde wat sy beminde ontmoet en vra, hoekom het ek jou nie al jare gelede ontmoet nie, want dan sou my lewe al soveel vroeër volmaak gewees het. Maar wat kan ek doen? Want dit wat verby is, is verby ..... die enigste ander opsie is om lief te hê asof môre nie bestaan nie.

Daar is soveel mense wat kla oor die ouderdom en dat hulle nie oud wil word nie, hulle kla oor die skete en kwale wat daarmee saamgaan. Hulle is ongelukkig omdat hulle nie meer so lekker kan sien nie.
Hoekom dank ons nie eerder Vader vir die wonderlike geleentheid dat ons die goue jare kan beleef nie, dat ons ’n tyd ingaan wat daar vir ons geleentheid is om reg te maak voor dit te laat is.

Hoeveel sou die een wat voortydig gesterf het nie gee vir net een dag ekstra om die saak met God reg te maak nie.

Wees dankbaar vir die ouderdom want dit is aan jou geskenk, elke dag is ’n geleentheid om tot Vader te keer, moenie die tyd wat daar nog is verspil met die wêreldse dinge nie.

Daar is ’n gesegde, “Met grysheid kom wysheid.” Maar ek wil die stelling maak dat nie alle gryses besit wysheid nie. Want die beginsel van die wysheid is die vrees van die lewende God en as die vrees nie daar bestaan nie dan is jy ’n dwaas.

Laat ons vandag leef in die dankbaarheid van die ouderdom en besef dat ons meer bevoorreg as baie is wat nie die kans het om die saak reg te maak met Yahweh nie.

Wednesday, February 24, 2010

O' Sion My bruid.


O hoe Goddelik die stilte aan die heiliges toegewy.
In saluut staan engele vir `n Goddelike paar opsy.
Terwyl die Bruidegom openlik flankeer en Hy Sy liefling vly.
Kom na My hart My beminde om van My liefde te kry.
Vir jou is die tyd van swaarkry ook binnekort verby.

Verbly jou o Sion ja jy moet jou nou verbly.
Kyk die dag van ongeregtigheid gaan ook vir jou verby.
Eens het `n hele wêreld jou soos die pes vermy.
In alles het hul jou, O’ uitverkorene, mos bestry.
Maar die tyd het gekom waar jy jou liefde openlik kan bely.
Terwyl `n bose wêreld stadig maar seker die afgrond in gly.

O Bruid van My hart hoe moeg is jy al gestry.
Teen `n hele wêreld moes jy al so oneindig baie ly.
Maar die tyd het gekom vir die Bruidegom om Hom te verbly.
O Sion My bruid, die huweliksfees word nou vir ons reg gekry.
Vir ewig gaan jy, My beminde, aan My sy kom bly.
Oor jou is dit wat engeleskares hul saam met My verbly.

So klink die lied nou aan ’n Goddelike paar toegewy.
Kyk die tyd van hierdie tydvak is binnekort verby.
Sion word as Bruid vir Elohim van ’n bose wêreld bevry.

Judith de Beer

(Wanneer ons soms voel asof ons oorweldig word deur die stryd wat ons voer, dan gee die beloftes van Vader vir ons hernude krag en wanneer ons dink aan die huweliks bevestiging wat daar vir ons wag as bruid van die Almagtige, het ons rede om te juig en verduur vir die klein tydjie wat ons hier op aard is. Vir my as onwaardige bruid sal ek alles opoffer aan my Bruidegom want Hy het Sy lewe vir my gegee. Laat ons jubel want ons Bruidegom is oppad om met ons in die eg te tree. Laat ons wandel suiwer wees en die lampe altyd vol.)

Monday, February 22, 2010

Egpaar se Hartseer


’n Egpaar het geweldig gesukkel om ’n baba te verwek en na vele behandelings en voortdurende gebede is daar na elf jaar vir die egpaar uiteindelik ’n kleinding gebore. Die baba seuntjie was die appel van hul oog en hulle het gevoel dat hul lewe nou volmaak was. Hulle het nou alles gehad wat hul hart begeer het.

Een oggend, toe die seuntjie so ongeveer twee jaar oud was, het die man ’n oop medisyne bottel op die spieëlkas sien staan. Hy was reeds laat vir werk en het vir sy vrou gevra om die medisyne bottel toe te draai en in die kas te bêre. Die vrou, ingedagte met al die dagtake om die kleinding reg te kry vir die kleuterskool, het totaal vergeet van die oop bottel en haar man se versoek.

Die seuntjie het die bottel gesien en met ’n vreeslike gerek het hy die bottel bygekom op die spieëltafel. Ondersoekend het hy eers aan die inhoud geruik en gefassineer deur die kleur van die medisyne het hy alles opgedrink. Dit was medisyne wat dodelik is in groot dosisse en is bedoel vir volwassenes in baie klein dosisse.

Toe die kind inmekaar sak, het die moeder met hom na die hospitaal gejaag. Maar hy was reeds dood by haar aankoms by die hospitaal. Die moeder was in ’n toestand en angsbevange. Hoe sal sy haar man in die oë kan kyk? Wat sal sy vir hom sê ?

Toe die erg ontstelde man by die hospitaal arriveer en sy dooie kind op die bedjies sien lê, kyk hy na sy vrou en uiter net vyf woorde.

Wat dink jy was die vyf woorde wat hy geuiter het ?

Die man het gesê, “Ek is lief vir jou.”

Die man se totaal onverwagse reaksie is proaktiewe gedrag. Sy kind is dood. Hy kan nie weer lewendig word nie, maak nie saak watse verwyte daar is nie. Daar is geen nut daarin om die fout by die moeder te soek nie. Inteendeel, as hy tyd gemaak het om die bottel toe te draai en te bêre, sou die tragedie nooit gebeur het nie.

Geen nut om te verwyt nie. Sy het ook haar enigste kind verloor. Wat sy nodig gehad het op daardie stadium was vertroosting en simpatie van haar man. Dit is wat hy haar gegee het.

Soms spandeer ons soveel tyd om te bepaal wie is verantwoordelik of wie moet blameer word, maak nie saak of dit in ’n verhouding is, in ’n werksituasie of met mense wat ons ken nie. Ons verloor die warmte wat menslike verhoudings ons kan bied deur mekaar nie te ondersteun nie.

Behoort vergifnis nie die maklikste ding te wees om te doen nie, veral vir die een wat jy liefhet !

Ons vra Vader voortdurend om ons, ons skulde te vergewe soos ons die vergewe wat teen ons skuldig is. As ons dan nie kan vergewe nie, hoe kan ons Vader vra om ons te vergewe.

Waardeer dit wat jy het. Moet nie pyn, hartseer en lyding vermeerder deur vergifnis terug te hou nie.

Skenk (vergifnis) sodat daar in voller maat vir jou geskenk mag word deur die Almagtige wat nooit sluimer of slaap nie maar wat sien in die verborgenheid en jou hart ken.

Friday, February 19, 2010

Antwoorde gegee deur Graad 2 outjies.


Hoekom het God Mammas gemaak?
1. Sy is die enigste een wat weet waar is die sello-tape en prestick!
2. Sy moet eintlik net die huis skoon hou.
3. Sy moet ons uithelp as ons gebore word.

Hoe het God Mammas gemaak?
1. Hy het grond gebruik net soos met almal van ons.
2. Hy het bonatuurlike kragte en baie tou gebruik.
3. God het my ma gemaak net soos vir my.
Hy het net groter goed soos kop, arms en bene en goeters gebruik.

Van watter bestandele is Mammas gemaak?
1. God het Mammas gemaak uit wolke, engeltjie vlerkies en hare en baie ander lekker goed in die wêreld. Maar ook 'n klein bietjie lelik en gemeen want sy is partykeers kwaai.
2. Hulle het begin om mammas te maak van mans se bene, maar ek dink hulle het meestal 'n klomp tou en lyn gebruik.

Hoekom het jy JOU Mamma gekry en nie sommer enige ander mamma nie?
1. Ons is familie.
2. God het geweet sy hou meer van my as ander kinders se ma's.

Toe jou Mamma klein was, watter soort dogtertjie was sy?
1. My Mamma was altyd net my mamma en niks van daardie ander soort goed nie
2. Ek weet nie want ek was nie daar nie. Maar ek dink sy was nogal baie baasspelerig.
3. Hulle sê sy was baie gaaf en lief.

Voordat sy met jou pa kon trou, wat moes sy van hom weet?
1. Sy van.
2. Sy moes weet van sy aftergrond. Lyk hy soos 'n skelm? Word hy dronk as hy bier drink?
3. Maak hy ten minste R56,000.00 per jaar? Sy moet weet of hy JA of NEE gesê het vir drugs. Ook of hy JA of NEE sê vir los werkies soos huis werk?

Hoekom het jou Mamma met JOU Pappa getrou? Die beste ene ooit!!!!!
1 . My Ouma sê sy kan dit ook nie verstaan nie, my Ma het seker nie mooi reguit gedink nie.

Wie is die baas in julle huis?
1. Mamma wil nie die baas wees nie, maar sy moet want sy sê my pa is dom- onnosel.
2. Ma is. Jy kan dit sien as sy na my kamer kom kyk. Sy sien al die goed onder die bed raak.
3. Ek dink my ma is die baas. Maar net omdat sy soveel meer goed het om te doen as my pa.

Wat is die verskil tussen ma's en pa's?
1. Mammas werk by die werk en hulle werk by die huis. Pa gaan werk net by die werk.
2. Mammas weet hoe om met my juffrou te praat sonder om haar bang te maak.
3. Pappa's is groter en sterker maar Mammas het invloed en gesag, want jy moet haar vra as jy by 'n maatjie wil gaan oorslaap.
4. Mammas het 'n tower stokkie. Hulle kan jou beter laat voel sonder medesyne.

Wat doen jou Mamma in haar vrye tyd?
1. Niks. Want Mammas het nie vrye tyd nie.
2. Jy moet haar hoor! Sy betaal rekeninge die hele dag lank.

Hoe kan mens jou Mamma perfek maak?
1. Aan die binnekant is sy reeds perfek.. Buitekant ... ek dink een of ander soort plastiese operasie.
2. Die kleur van haar hare. Ek dink miskien blou.

As jy iets kon verander aan jou Ma, wat sal dit wees?
1. Sy het hierdie nare ding in haar kop dat ek my kamer moet aan die kant hou. Ek sou daarvan ontslae raak!
2. Ek sou haar slimmer maak, dan sal sy weet dit was my sussie wat dit gedoen het en nie ek nie.
3. Ek sou graag wou hê daardie onsigbare oë agter in haar kop moet uitval.

Wednesday, February 17, 2010

Koeldrank Bottel se Geloof


Hierdie gebeurtenis het baie jare gelede gebeur, maar tog is die wonder daarvan so vars soos gister in my gedagtes.

Daardie jare, laat 70’s was ek nog ’n student met ’n staatsbeurs. Die beurs het die studie gelde betaal en ’n klein salarissie. Die salaris was in elk geval so min dat as ek dit vandag vir die kinders as sakgeld moet betaal sal ek omtrent ’n huis revolusie op hande hê.
Maar steeds kon ek doen wat gedoen moes word, woonstel huur betaal (die regte ou tipe bachelors woonstelle in Arcadia, Pretoria), water en elektrisiteit, bietjie petrol geld, verloofring afbetaal, meubel paaiement (sitkamer en slaapkamer stel) en so bietjie kruideniers ware.

Daar was nie geld gewees vir die tipiese kitskosse van vandag nie. As jy iets wil eet moet jy dit maak soos spaghetti en nie 2 minuut noodles nie. Die stapelvoedsel was in elk geval die meeste van die kere brood gewees.

Maar heel bo aan die begroting was my tiende gewees. Die het ek nooit versuim om te betaal nie en dis nou een ding wat ek van klein af geleer het. Maak nie saak hoe swaar dit die maand gaan nie, geen verskoning is aanvaarbaar om nie die tiende te betaal nie.

Nou moet ek omtrent ’n storie binne ’n ander storie vertel, maar ek glo julle sal verstaan.
Ek was nog ’n jong mannetjie, seker so graad 2, standerd 1 rond gewees. My pa het besluit dat hy van nou af elke maand sy tiende gaan betaal, kom wat wil, want dit was een van Vader se beloftes. Betaal jou tiende en beproef my daarin. Hy het dit nie vir ons as kinders pertinent meegedeel nie maar ek kon dit aflei tussen sy gesprekke met my ma.

Mense, was ons as gesin daarin beproef. Die duiwel was listig en wou nie toelaat dat die voorneme van my pa moes plaasvind nie. Die eerste maand met die voorneme om die tiende te betaal het die kar se enjin aan die brand geraak.
Mens vergeet soms baie dinge wat gebeur het toe jy klein was, maar daar is sommige dinge wat jy so goed onthou, selfs die kleinste detail van die insident.

So was dit met die brand van die kar se enjin. Ons het by mense gaan kuier of ons was op pad na hulle, skielik was dit net vlamme en rook. Daar was nie water of ’n brandblusser naby nie en die enigste was grond wat op die sypaadjie was (gelukkig was die sypaadjies daardie jare nog nie geplavei nie). Die is met hande en emmer aangedra en op die brandende enjin gegooi.
Nadat die adrenalien vlakke so bietjie gesak het, kon ek die moedeloosheid van my pa sien en aanvoel.

Die versoeking was groot om die tiende geld te gebruik om die kar reg te maak. So het dit vir ’n wyle aangehou met goed wat net breek of een of ander skade wat ons oorkom. Maar die besluit was gemaak en my ouers het vas daarin bly staan in hul besluit.

Hierdie insident het so groot indruk op my kinder gemoed gehad dat ek dit vir die res van my lewe sou onthou. Dit was seker een van die eerste en grootste geloof lesse wat ek by my pa geleer het en daarom was dit een van die voornemens wat ek vir myself gestel het. Die dag wanneer ek ’n salaris verdien sal ek my tiende getrou betaal want Vader het hierin ’n onderneming gegee dat ons Hom in die belofte kan beproef.

In elk geval, terug by die studente jare. Een maand was ’n besonderse moeilike maand gewees en die kos was op voordat die volgende salaris uitbetaal word. Ek kon seker my ouers gebel het en gevra het vir geld maar moontlik was ek te trots gewees om te vra en vasbeslote om te bewys dat ek op my eie kan regkom sonder hulp.

Die aand nadat ek klaar studeer het, was ek redelik honger gewees, maar daar was werklik nie veel ( mooi woord vir niks!) in die koskas of yskas om te eet nie.

Na ’n wyle se wik en weeg het ek besluit, maar Vader het aan my die belofte van die tiende gegee dat ek hom kan beproef in wat Hy gesê het.
Met ’n vasberadenheid wat myself verbaas het, het ek begin stap na die kafee, want ek het geweet iewers langs die pad sal Vader voorsien dat ek geld sal kry om ’n brood te koop. Die kafee was nie te vêr van die woonstel af nie, so een straatblok (moet byvoeg dat die stads straatblokke darem heelwat groter is as die dorp sin).

Op ’n stadium het ek so bietjie getwyfel, veral toe die kafee sommer baie naby was en nog niks gebeur het nie, maar ek het net bly vasklou aan Sy belofte en bly glo.
Die kafee was deel van ’n winkel sentrum gewees en was geleë by die hoof ingang van die kompleks (dis darem nou nie die komplekse soos ons hulle vandag ken nie).
Sekere so vyf tree van die kafee se ingang was daar 3 of 4 leë een liter koeldrank bottels gewees.

Ek kon my oë nie glo nie en daar was niemand in sig wat eienaarskap van die leë bottels eis nie. Gewoonlik staan leë koeldrank bottels nie sommer rond nie, want hulle word gou opgetel en ingeruil vir geld.
Ek onthou nog dat die paar bottels nogal mooi regop langs mekaar gestaan het, nie asof iemand hulle daar neergegooi het nie.

Ek het die bottels opgetel en die kafee ingestap en my brood gekoop. Almal wat my ken weet dat ek ’n redelike soet tand het en maar ’n swak weerstand het vir lekkergoed. Met die geld wat ek vir die bottels gekry het, het ek behalwe die brood nog ’n paar toffies kon koop. Die lekkergoed was omtrent ’n bonus gewees en was soos die cherry op die koek.

Nodeloos om te sê, maar die terugtog woonstel toe was om soos op wolke te loop. Ek was in ekstase ook Yahweh se groot genade en geeneen sou op daardie stadium die loflied in my hart kon stilmaak nie.

Ek het Vader beproef in Sy belofte en Hy het my nie teleurgestel nie.
Vandag staan my tiende bo aan my begrotings lysie, eers vir Vader en die res sal vanself uitwerk.

Na al die jare werk dit steeds uit, ons het nie gebrek nie maar is ook nie ryk nie. Miskien moet ek die “nie ryk nie” verander. Ons is ryk,...... baie ryk........, in die seëninge en genade van Vader, want Hy voorsien vir ons, meer as wat ons nodig het.

Vader, vandag wanneer ek wil kla en murmureer oor dit wat ek nie het nie, laat ek my seëninge tel en besef dat U in oorvloed voorsien. Dankie, dat U my nie ryk gemaak het sodat ek dalk hoogmoedig sou word en U verwerp nie en dankie dat U my nie brandarm gemaak het dat ek sou moes steel en so die naam van my Skepper sou versmaad nie.
Amen

Monday, February 15, 2010

Wie is U ?


Terwyl 'n vrou eendag bid, vra sy:

"Wie is U, Vader?"

Hy antwoord haar toe:

"EK IS."

"Maar wie is EK IS?", vra sy moedeloos.

Sy sagte antwoord het haar gemoed laat vol skiet, want sy hoor:

"EK IS Liefde; EK IS Vrede;

EK IS Genade; EK IS Vreugde;

EK IS die Weg, die Waarheid en die Lewe;

EK IS die Lig; EK IS jou Vertrooster;

EK IS Krag; EK IS die Skepper;

EK IS die Alfa en die Omega -

Die Begin en die Einde."

Met trane in haar oë vra die vrou sag:

"Maar, Vader, wie is ek Dan?"

Terwyl God saggies haar trane afvee, fluister Hy in haar oor:

"JY IS..... MYNE....."

Friday, February 12, 2010

Die Augrabies Les


Die naweek het ek en my gesin weer die Augrabies valle besoek in die Noord-Kaap. Met al die reën in die land en die riviere wat in vloed is, was die verwagting groot dat dit die jaar ’n wonderlike skouspel gaan wees.
Ons moes maar redelik lank wag by die hek voordat ons kan ingaan in die park want reeds vroegoggend het die motors alreeds lang toue gestaan en wag vir hul beurt om in te gaan.

Van die mense wat wag om in te gaan was al moedeloos, hier en daar was een wat omgedraai het, maar tog het daar ’n baie vriendelike en gesellige atmosfeer geheers onder die mense. Die kinder het langs die kant van die pad baljaar en op en af gehardloop. Elke keer wanneer die ry so tien motors aanbeweeg was daar weer groot opgewondenheid want die toegangshek is nie meer vêr nie. Langs die pad was daar ’n ou droë rivierloop wat reeds in vloed was, ’n klein syvertakking van die Oranje rivier. Die was omtrent so ’n klein voorskou van wat op ons sou wag wanneer ons by die werklike Oranje rivier kom waar hy afstort in die ravyn.

Uiteindelik is ons in by die park en langs die pad sien ons die magtige Oranje rivier soos hy afstorm, in vloed, op die rotse en skeure wat voorlê voordat die water verdwyn in die smal kloof op pad na die see. In die vêrte kon jy reeds die dreuning van die water hoor soos dit afstort in die ravyn.

Nadat ons geparkeer en klaar die toegangsgelde betaal het, stap ons af na die waterval. Op ’n afstand kan jy al die kolkende watermassa sien soos dit oor die afgrond stort – wat ’n asemrowende gesig is dit nie. Die rivier het so breed gevloei dat daar sestien watervalle was, elkeen pragtig maar nie te vergelyk met die hoof val wat water meters hoog die lug in opskiet soos dit die rotse tref . Dit was voorwaar ’n skouspel soos min en het ek net weereens besef hoe Magtig moet Vader wees as Sy skepping so groot en wonderlik is.

Vêrder in die ravyn af is die watervalle nie so groot en indrukwekkend nie maar is hulle baie hoog en wanneer die water neerstort onder in die kolkende watermassa is dit soos ’n wolk van misreën wat opstyg. Die reënmis is so erg dat as jy maar ’n paar minute in die reënmis loop is jy so nat dat jy die water uit jou klere kan uitdroog.
Die reënmis maak van alle kante af nat, bo, onder langs die kant, daar is nie te ontsnap aan die reënmis nie. Jy haal selfs die reënmis in en dit omvou mens in totaliteit.

Wat ’n lieflike ervaring was dit nie en voorwaar ’n skouspel om te sien en te beleef.

Dinsdag oggend tydens my oggend aanbidding en lofprysing verskyn die wonder van wat ek die naweek aanskou het weer in my gedagtes en word die volgende lesse daaruit vir my geleer deur die Gees van Yahweh.

Soos wat ons gewag het om in te gaan en die wonder van die valle te aanskou so wag die mense hier op aarde op die koms van ons verlosser Yahshua wanneer Hy op die wolke sal verskyn. Daar is ’n groot afwagting en opgewondenheid onder Sy kinders om Hom te sien. Maar so is daar ook ’n paar wat moedeloos raak terwyl hulle wag maar steeds wag hulle en hou moed want die einde is in sig. Ongelukkig is daar ook die wat nie kans sien om so lank te wag nie en maar omdraai en wegstap van die heerlikheid wat daar wag, want die wêreld roep harder as die stem van die Almagtige. Die klein syvertakking van die rivier was soos ’n klein voorskou van wat op ons wag en so loop ons ook in ons omwandelinge saam met Vader hierdie onverwagse heerlike geskenke van Sy Heerlikheid raak en staan ons soms verbyster voor Sy grootheid en Almag. Soms wanneer ons totaal moedeloos is lei Vader ons om by so ’n syvertakking uit te kom sodat ons weer verfris kan word deur die heerlikheid van Sy genade.

Wanneer jy by die park ingaan dan weet jy, jy het uiteindelik gearriveer by jou bestemming, die paar kilometer wat jy nog moet ry maak nie saak nie, want jy is in, die gewag is verby. Wanneer ons Yahshua aanneem as ons enigste Verlosser dan het ons ook gearriveer, in die Heerlikheid en reddende Genade van ons Koning. Dan kan ons eers die groot rivier van Sy genade sien, ons is nog nie by die skouspel nie maar ons kan nou sien waarheen dit lei en ons sien die Almag wat hierdie rivier van Liefde en genade van ons Vader voort dryf.
Die afgaan na die valle is ook die paadjie wat ons moet wandel nadat ons gered is want dan eers begin die groei en die werklike kennismaking met die grootheid van God, ons kan Sy stem hoor net soos ons die gedreun van die valle kan hoor. Dit lok jou om nader te kom en die almag en skouspel te kom aanskou.

Elke een wat daar staan en die valle aanskou lyk baie tevrede want hulle het tot hier gekom om die wonder van die valle te aanskou net soos die kinders van Vader baie bly is dat hulle die wonder van Sy heerlikheid mag aanskou.

Die reënmis wat opslaan van die valle en mens omtrent insluit van alle kante is soos die Gees van Vader wat ons omvou, wat deel word van ons en getuig van die grootsheid van die water. Sonder die water kan daar geen reënmis wees nie en die valle veroorsaak die reënmis. Die een getuig van die ander en saam is hulle deel van dieselfde water.

Aan die einde van die besoek het my vrou opgemerk dat dit voel asof die hele prentjie nog nie heel voltooi is nie, sy sal graag wil sien waar die water die see inloop want dit sal die hele skouspel afrond.
Vir die afronding van die skouspel sal ons maar nog ’n rukkie moet wag totdat ons Koning ons kom haal op die wolke, dan sal die prentjie voltooi wees.

Watter wonderlike ervaring was dit nie en wanneer ek weer by ’n waterval kom, sal die les van Augrabies my altyd bybly.
Soms tref ons Vader se genade en lering op die mees onverwagse plekke aan, ons moet net altyd sorg dat ons “ore” oop genoeg is om te luister.