Monday, January 30, 2012

Die Merk van die Dier


Daar is soms baie spekulasie rondom die merk van die Dier. Gaan dit ’n fisiese merk wees soos met ’n mikroskyfie, Verichip, of is dit iets heeltemal anders?

Mense wag ook eers vir die koms van die “merk” van die dier dan sal hulle gou hul saak regmaak dan is alles reg en sal hul nie in die verderf kom nie.

Ten einde meer kennis te verkry oor hierdie onderwerp moet ons kyk na die volgende paar verse waar voorhoof en/of die woord hand betrokke is.

Ex 28:36 Verder moet jy ‘n plaat van suiwer goud maak en daarop graveer, soos op ‘n seëlsteen uitgesny word: HEILIG AAN YAHWEH.
Ex 28:37 En maak dit vas aan ‘n pers toutjie, sodat dit aan die tulband kan wees; aan die voorkant van die tulband moet dit wees.
Ex 28:38 So moet dit dan op die voorhoof van Aäron wees, sodat Aäron die skuld kan dra met betrekking tot die heilige dinge wat die kinders van Israel sal heilig—al hulle heilige gawes. En dit moet gedurigdeur op sy voorhoof wees, dat hulle voor die aangesig van die YaHWeH welgevalle mag vind.

Open 14:9 En ‘n derde engel het hulle gevolg en met ‘n groot stem gesê: As iemand die dier en sy beeld aanbid en ‘n merk op sy voorhoof of op sy hand ontvang,
Open 14:10 sal hy self ook drink van die wyn van die grimmigheid van God wat ongemeng ingeskink is in die beker van sy toorn, en hy sal gepynig word met vuur en swawel voor die heilige engele en voor die Lam.

Open 17:5 en op haar voorhoof was ‘n naam geskrywe: Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde.

Open 20:4 En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Yahshua en oor die woord van YaHWeH, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Yahshua Messiah die duisend jaar lank.

As ons kyk na die stukke en watter rol die voorhoof en die hand speel kan dit ook die volgende betekenis hê:

Aäron moes die goue plaatjie dra van, HEILIG AAN YAHWEH en dit sou beteken dat die heiligheid van YaHWeH voortdurend oordenk moes word en dat dit die verstand en denke moes oorheers..

In Openbaring 14:9 word eers gepraat van – die dier en sy beeld aanbid EN die merk dra op sy voorhoof OF hand – dus is sy denke en verstands optrede gewei aan die dier en sy beeld. Maar daar staan ook OF hand en dit verteenwoordig die doen van boosheid. So nou begin ons te sien dit gaan nie net oor die doen van boosheid wat die hand verteenwoordig nie maar ook die oordenking van boosheid wat die voorhoof beteken. Nou verstaan mens dalk ook beter van die wyse en dwase maagde. Die dwase maagde kon dalk geen boosheid gedoen het nie maar dit wel bedink het en Vader het gesê, gaan weg want ek ken julle nie.

Mat 25:10 En onderwyl hulle gaan om te koop, het die bruidegom gekom. En die wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof, en die deur is gesluit.
Mat 25:11 Later kom toe die ander maagde ook en sê: Meneer, meneer, maak vir ons oop!
Mat 25:12 Maar hy antwoord en sê: Voorwaar ek sê vir julle, ek ken julle nie.
Mat 25:13 Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie.

of die gedeelte in Lukas

Luk 13:23 Toe sê iemand vir Hom: Meester, is die wat gered word, min? En Hy antwoord hulle:
Luk 13:24 Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie.
Luk 13:25 Wanneer die eienaar van die huis opgestaan en die deur gesluit het, en julle begin buitekant te staan en aan die deur te klop en te sê: Meester, Meester, maak vir ons oop—sal Hy antwoord en vir julle sê: Ek ken julle nie waar julle vandaan is nie.
Luk 13:26 Dan sal julle begin sê: Ons het in u teenwoordigheid geëet en gedrink, en U het op ons strate geleer.
Luk 13:27 En Hy sal sê: Ek sê vir julle, Ek ken julle nie waar julle vandaan is nie. Gaan weg van My, al julle werkers van die ongeregtigheid!
Luk 13:28 Daar sal geween wees en gekners van die tande, wanneer julle Abraham en Isak en Jakob en al die profete in die koninkryk van Elohim sal sien, maar julle self uitgedryf buitentoe.


Openbaring 17:5 - die naam op die voorhoof – Verborgenheid, .... – dit is net die teenoorgestelde van wat YaHWeH is – dus speel die verstand en denke hier ’n geweldige belangrike rol en dit verteenwoordig dan ook die wil of die keuse wat mens uitoefen, want die keuse word gemaak vanuit die verstand – dus kies of vir YaHWeH of die hoer van Babilon.

Openbaring 20:4 - sien ons weer – die dier en sy beeld nie aanbid het nie EN die merk op hul voorhoof EN hand (dis nie wees soos in vers 14:9 OF nie maar wel EN) nie ontvang het nie.
Dus mag die dier of sy beeld nie aanbid gewees het nie en jy mag nie die boosheid bedink EN gedoen het nie, hulle sal leef as konings gedurende die 1000 jarige vrederyk.

Die illusie dat dit net ’n fisiese merk gaan wees is baie gevaarlik omdat mense daardeur mislei word en hulle dink dat hulle net sal weier om die merk te vat dan is hulle reg en veilig maar die probleem is hul mag dalk nie ’n fisiese merk aanvaar nie maar hulle het reeds die merk van die dier op hul voorhoof (verstand) of op hul hand (hul optrede).

Luk 21:34 Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie.
Luk 21:35 Want soos ‘n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon.
Luk 21:36 Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.

Mag Vader julle behoed om nie deur die leuen mislei te word nie.
Amein.

2 comments:

Beatrix Eslick said...

My Pa was 'n groot Godsman en het dit letterlik en figuurlik geglo. (Sodoende ek ook)

Jy is al amper 17 jaar oorlede. Is dit verkeerd om dit te glo?

Gelofteboer said...

Nee, daar is nie fout daarmee nie. Die probleem is net dat mens moet waak dat die uiterlike tekens nie 'n illusie skep dat alles in die siel in orde is nie. Dit help nie al die fisiese vereistes word nagekom nie maar die hart is nie besny nie.

Groete
GB