Thursday, January 26, 2012

Om Liefde te Verstaan en te Leef


Het die gedagte ook al by jou opgekom dat dinge soveel makliker kon gewees het as ons eenvoudig verplig was om slegs YHWH lief te hê? Dan sou daar geen versoeking, geen afvalligheid en geen struikeling plaasgevind het nie.

Die gedagte het al ’n paar keer by my opgekom, veral aan die einde van ’n moeilike dag wanneer ek besef dat my optrede nie getuig het van die Liefde van die Ewige Skepper in my nie.

Maar as ons geen keuse gehad het om lief te hê nie, sou ons dit nog kon omskryf as liefde? Ek dink die wonder van die liefde is juis daarin geleë dat dit vrywilliglik is en dat ons ’n keuse maak om lief te hê of nie.

As ons kyk na die woorde van die digter in Odes van Salomo Hst. 3 vers 4: Wie kan die liefde verstaan, behalwe hy wat liefde ontvang.
Ons kan nie Vader YHWH se volle liefde verstaan totdat ons toegelaat dat Vader aan ons die liefde openbaar het nie. Ons moet dit eers ontvang om dit te herken en dan sal ons in staat wees om terug lief te hê.

’n Pasgebore baba ken nie die volheid van sy moeder se liefde nie totdat sy hom of haar in haar arms neem en teen haar vasdruk en liefkoos met ’n sagte soentjie op sy of haar voorkoppie. As hulle kon praat sou mens sekerlik woorde kon hoor soos, “Ahhh, is dit wat liefde is, nou weet ek wat dit is en ek kan ook liefhê.”

Maar saam met die liefde wat daar nou in ons hart is, moet ons hele lewe verander, jy kan nie die hart verander sonder om dit in die hele wese agter te kom nie.

Nou kom die probleem, leef ons elke dag soos ons hart is of behoort te wees.?

As jy die vraag moet antwoord: elke keer wat jy vandag met iemand gesels het, dink jy daardie persoon sou kon sê, ek ken vir Pietie of vir Sannie, maar vandag kon ek die lig en liefde van die Almagtige in hom of haar sien? Daar was meer as net Pietie of Sannie teenwoordig. Indien nie dan het ons die krag van die Gees in onsself verberg en het ons wese nie gespreek daarvan wat in ons hart is nie.

Dan dink ons dadelik aan die spreekwoord: waarvan die hart van vol is loop die mond van oor.
Wat het vandag uit jou mond uitgegaan? want dit is wat in jou hart is.

Elke dag staan ons skuldig en aangekla voor die aangesig van die Almagtige want liederlik het ons sy liefde verraai en versmaad.
Gelukkig is daar vergifnis en genade by Majesteit YHWH. Laat ons vandag skyn soos die lamp bo op die maat emmer vir elkeen wat in die donkerte van die wêreld wandel.

Odes van Salomo 3:
3 Want ek sou nie geweet het hoe om JaHWeH lief te hê as Hy my nie liefgehad het nie.
4 Wie kan die liefde verstaan, behalwe hy wat liefde ontvang?

No comments: