Wednesday, July 17, 2013

Die Saadjie





Eendag lank, lank gelede was daar ‘n saadjie maar omdat dit ‘n klein enkel saadjie was, het niemand enige notisie geneem van die saadjie nie. Aangegryp deur ‘n gevoel van minderwaardigheid het die saadjie sy hele bestaan as onbelangrik beskou en heeltemal moed opgegee.

Maar eendag het die wind hom opgetel en genadeloos in ‘n oop veld onder die felle son geslinger. Die saadjie was verward, waarom sou die wind so iets aan hom gedoen het. Maar in plaas van antwoorde het hy net reënbuie en velle sonskyn ervaar in die oop veld.

Die dae het weke geword, die weke maande en die maande jare. Jare na die wind incident sien hy ‘n reisiger wat langs hom sit. “Dankie, tog vir dié. Ek het regtig die rus nodig,” hoor die saadjie die reisiger sê.

“Waarvan praat jy,?” vra die saadjie aan die reisiger wat hier teenaan hom sit. Hy het gedink die reisiger dryf die spot met hom. Gewis het hy opgemerk hoe baie mense hier teenaan hom kom sit – al hoe meer van hulle in die laaste paar jaar – maar niemand het nog so met die saadjie gepraat nie.

“Wie is dit?” vra die reisiger verskrik.

“Dit is ek. Die saadjie.”

“Die saadjie?” Die reisiger kyk na die reuse boom hier langs hom. “Jy maak seker ‘n grap? Jy is geen saadjie nie. Jy is ‘n boom. ‘n  Reus van ‘n boom!”

“Regtig?”

“Ja,! Hoekom dink jy kom die mense om hier langs jou te sit?”

“Nou hoekom kom hulle in elk geval hier langs my sit?” vra die saadjie.

“Om jou lieflike skaduwee te ervaar! Moet my nie vertel jy het nie geweet dat jy gegroei het tog die reuse boom die afgelope jare nie?”

‘n Paar oomblikke gaan verby voordat die volle betekenis van die reisiger se woorde insit en hy die volle inplikasies daarvan besef.

Die saadjie, nou ‘n volgroeide boom, dink ‘n oomblik en glimlag vir die eerste keer in sy lewe. Die jare van volgehoue marteling onder die felle son en die reën het uiteindelik vir hom sin begin maak.

“AH! Dit beteken ek is nie meer die klein verswakte saadjie nie. Ek was toe nie bestem om ongemerk dood te gaan en net weg te kwyn nie. Ek was bestem om mense te stroop van hul vermoeidheid en hulle te verfris en te laaf in my skaduwee. Wow! Dit is nou ‘n lewe wat die moeite werd is om te leef!”

Soms is ons groei in die gees so stil dat ons dit nie eens opmerk nie, al wat ons sien is die beproewinge en die swaarkry – totdat iemand eendag in ons skaduwee kom sit en dankie sê vir die lafenis wat ons hul kon bied. Dan eens besef ons dat die beproewinge en swaarkry ons laat groei het sodat osn vir ander ook tot lafenis kan wees.

Tuesday, June 25, 2013

DIE HANDE MET DIE MERKE




‘n Jong man het aansoek gedoen vir ‘n bestuurspos by ‘n groot maatskappy. Hy het die eerste onderhoud suksesvol afgelê, en daar was ‘n opvolg onderhoud gereël sodat hy die direkteur van die maatskappy kon ontmoet.

Na aanleiding van sy CV het die direkteur gesien dat die jong man se akademiese prestasies van uitstekende gehalte was.

Die direkteur het na die jong man gekyk en vir hom gevra: "Het jy enige beurse gehad waarmee jy gestudeer het?"
en die jong man het geantwoord :

"Nee"

"Was dit jou vader wat al jou studie geld betaal het"

"Nee," sê die jong man weer,

"My vader is oorlede toe ek een jaar oud was, dit was my moeder wat vir al my studies betaal het."

" Waar het jou moeder gewerk?"

"My moeder het ander mense se klere gewas "

Die direkteur vra toe die jong man om sy hande vir hom te wys. Die jong man het sy hande uitgesteek en verbaas na die direkteur gekyk.
Wat sou sy hande met die onderhoud te doen hê. Die direkteur het na die jong man se hande gekyk, hulle was glad en perfek versorg.

" Het jy ooit jou moeder gehelp om die wasgoed te was?"

"Nooit, my moeder wou altyd hê ek moet lees en studeer, en buitendien kan my moeder wasgoed baie vinniger en skoner was as wat ek ooit kon droom om dit te doen."

Die direkteur sê toe vir die jong man, "Ek wil hê jy moet eers huis toe gaan en jy moet jou moeder se hande met room smeer, dan sien ek jou weer môre oggend hier"

Die jong man het gevoel hy kan dalk die werk kry, en hy is huis toe om vir sy moeder te vertel van die onderhoud. Toe hy later by haar sit, sê hy vir sy moeder hy wil graag haar hande room smeer. Vir die moeder was dit ‘n snaakse versoek, maar met gemengde gevoelens het sy die buisie room na hom toe uitgehou, en toe haar hande uitgesteek na hom toe.

Die jong man het sy moeder se hande in syne geneem, en toe begin die trane oor haar hande rol, vir die eerste keer in sy lewe het hy gesien hoe vol plooi en eelte sy moeder se hande was. Plek - plek was die hande oopgebars en het sy ineengetrek toe hy dit saggies met room begin invryf.

Dit was die eerste keer dat die jong man besef het dat daardie paar hande wat soveel bondels wasgoed gewas het, vir sy studiegeld betaal het. In ysige winter koue en stomende somer hitte, het sy onverpoosd gewerk. Daardie vereelte hande het sy toekoms rooskleurig geverf.

Daardie stukkende hande het gesorg vir ‘n uitstekende geleerdheid.
Na hy sy moeder se hande goed gesmeer het, het hy die volgende bondel wasgoed opgetel en stil - stil daarmee verdwyn om dit vir haar te gaan was.

Daardie aand het moeder en seun tot baie laat gesels.
Die volgende dag het die jong man weer aangemeld by die direkteur vir sy onderhoud.
Hy het gesien die trane sit nog baie vlak in die jong man se oë.
"Het jy toe gedoen wat ek vir jou gesê het?" vra die direkteur die jong man.

"Ja, ek het my moeder se hande room gevryf, en toe het ek die res van die wasgoed vir haar gewas. Ek het nou eers besef dat ek nooit waardering gehad het  vir dit wat sy al die jare vir my gedoen het nie. Sonder haar sou ek nie vandag vir hierdie pos kon aansoek doen nie. En toe ek gister daardie vreeslike bondel wasgoed was, voel dit asof my skouers wil afskeur. Toe besef ek eers hoe groot haar opoffering was deur al die jare.

"Die pos is joune,” antwoord die direkteur,  “eers as iemand waardering en dankbaarheid kan betoon, is hy gereed vir ‘n pos met soveel verantwoordelikhede.

Kyk vandag om jou rond, daar is baie mense wat baie opgeoffer het in die lewe om ons te gee wat ons vandag het.

En dan is daar ‘n Hemelse Vader wat alles opgeoffer het, sodat ek en jy nie nodig het om gestraf te word vir al ons verkeerde dade nie.

Kyk na Sy Hande vandag, Hulle dra die merke van hoe Hy vir ons gely het, hoe Sy liefde ons straf gedra het.

Het ons al vir Hom die nodige dank en waardering gewys vir die merke op Sy Hande?

Kom ons maak hierdie dag anders,

Kom ons wys waardering aan al ons geliefdes, en ons wys dankbaarheid en waardering aan ons Hemelse Vader wat so mooi na ons kyk.

Sonder Sy opoffering sou ons lewens baie anders verloop het.

Wednesday, June 12, 2013

YaHWeH’s Koek Bestandele




Somtyds wonder ons,
‘Wat het ek gedoen om dit te verdien?’ of
‘Waarom het YaHWeH die nodigheid geag dat dit met my moes gebeur?’

Hier is ‘n wonderlike verduideliking.

‘n Dogter was besig om aan haar moeder te vertel hoe alles besig is om verkeerd te loop in haar lewe. Sy het haar wiskunde toets gedruip, haar kêrel het haar afgesê en haar beste vriendin  trek weg van hul dorpie af.

Intussen, is haar moeder besig om ‘n koek te bak en sy vra haar dogter of sy dalk ‘n smulhappie soek. Die dogter antwoord baie opgewonde, “O ja beslis, ma weet mos hoe baie hou ek van die koek wat ma bak!”

“Hier, kry solank so slukkie kook olie,” offer haar ma.
“Yuck” sê die dogter.
“Wat van ‘n paar rou eiers?” “Nee, sies ma!”
“Wil jy dalk so happie meel hê?
of miskien ‘n lepeltjie bak poeier?”

“Ag nee sies ma, nie een van die goed is lekker om te eet nie!”

Waarop die moeder antwoord:

“Ja, die bestandele so elk op sy eie kan glad nie lekker wees nie, maar wanneer hulle almal saamgevoeg word in die regte verhouding, dan maak hulle die heerlikste koek!”

YaHWeH werk op dieselfde wyse. Baie keer wonder ons waarom Hy toelaat dat ons deur sulke moeilike en slegte tye gaan. Maar Abba Vader weet dat wanneer Hy al hierdie dinge in die regte volgorde en verhouding plaas, hulle altyd ten goede uitwerk.
Ons moet Hom vertrou en eindelik sal hulle almal in iets wonderliks omskep word.

Monday, May 27, 2013

Die Olifant en die Vlieg






Die leermeester en sy leerling het deur die woud gewandel. Die leerling was onsteld weens die feit dat sy gedagtes in voortdurende konflik was.

Hy vra sy leermeester, “Hoekom is dit dat die meeste mense se gedagtes rusteloos is en nie  reik  na dit wat  goed en suiwer is nie? Slegs ‘n paar besit ‘n gedagte gang wat kalm en suiwer is. Wat kan mens doen om die gedagtes te kalmeer en te laat stil word in suiwer oordenkinge?”

Die leermeester kyk na sy leerling, glimlag vir hom en sê, “Ek sal jou ‘n storie vertel. ‘n Olifant het by die boom gestaan en van die heerlike blare gepluk om aan te smul. ‘n Klein vliegie kom daar aangevlieg en vlieg en buzzz hier in die olifant se oor. Die olifant waai die vlieg weg met sy groot flap ore. Na ‘n paar oomblikke is die vlieg weer terug en die olifant verdryf die vlieg weereens.”

Die gebeure het ‘n hele paar keer plaasgevind. Toe vra die olifant vir die vlieg, “Waarom is jy so rusteloos en raserig? Hoekom kan jy nie vir ‘n wyle op een plek stil sit nie?”

Die vlieg antwoord: “Ek word aangetrek na alles wat ek sien, ruik, proe, voel of hoor. My vyf sintuie trek my voortdurende in verskillende rigtings en ek kan hulle nie weerstaan nie. Wat is jou geheim? Hoe kan jy so lank kalm en stil wees?”

Die olifant hou op om te eet en sê: “My vyf sintuie regeer nie my aandagspan nie. Wat ek ookal doen, ek wei my volle aandag daaraan. Nou dat ek eet, is ek totaal toegewei aan my etery. Op die manier kan ek my kos geniet en is dit lekker om te eet. Ek regeer en beheer my aandagspan en nie andersom nie.”

By die aanhoor van die woorde van die wyse ou leermeester verhelder die leerling se oë en ‘n glimlag verskyn op sy gesig. Hy kyk na sy leermeester en sê, “Ek verstaan! Indien my vyf sintuie in beheer is van my verstand en aandag, dan is my gedagtes in voortdurende konflik en rusteloosheid gedompel. Wanneer ek in beheer is van my vyf sintuie en aandag, dan word my verstand en gedagtes kalm."


“Ja, dit is korrek.” antwoord die leermeester, “Die verstand en gedagtes is rusteloos en gaan waarookal die aandag is. Beheer jou aandag en jy beheer jou verstand en gedagtes.”

Tuesday, April 30, 2013

Die Wet van die Natuur





Gaan kyk na ‘n appelboom. Daar kan tot soveel as vyf honderd appels aan so ‘n boom wees, elk met tien sade in die kern. Dit is ‘n klomp sade vir een so boom. Mens kan maklik vra, “Hoekom het mens so baie sade nodig om te verseker dat ‘n paar ekstra appelbome sal opkom?”

Die natuur het iets om ons te leer. Dit vertel ons: “Baie sade groei nooit nie. Dus as jy wil hê dat iets moet gebeur, moet jy beslis bereid wees om meer as een keer te probeer.”

Dit mag beteken:
Jy sal twintig onderhoude bywoon om een werk te kry.
Jy sal met veertig mense onderhoude voer om een goeie werknemer te kry.
Jy sal met vyftig mense praat om aan hulle ‘n huis, ‘n motor, ‘n polis of ‘n idée te verkoop.
En jy sal honderd kennisse ontmoet om een spesiale vriend te vind.

Wanneer ons die “Wet van die Natuur” verstaan sal ons nie so maklik teleurgestel word nie. Ons sal ophou om soos slagoffers te voel. Die wet van die natuur is nie iets wat persoonlik opgeneem moet word nie. Ons moet dit net verstaan en daarmee saamwerk.

In ‘n neutedop
Suksesvolle mense faal meer dikwels. Hulle plant meer saad.