Tuesday, June 25, 2013

DIE HANDE MET DIE MERKE




‘n Jong man het aansoek gedoen vir ‘n bestuurspos by ‘n groot maatskappy. Hy het die eerste onderhoud suksesvol afgelê, en daar was ‘n opvolg onderhoud gereël sodat hy die direkteur van die maatskappy kon ontmoet.

Na aanleiding van sy CV het die direkteur gesien dat die jong man se akademiese prestasies van uitstekende gehalte was.

Die direkteur het na die jong man gekyk en vir hom gevra: "Het jy enige beurse gehad waarmee jy gestudeer het?"
en die jong man het geantwoord :

"Nee"

"Was dit jou vader wat al jou studie geld betaal het"

"Nee," sê die jong man weer,

"My vader is oorlede toe ek een jaar oud was, dit was my moeder wat vir al my studies betaal het."

" Waar het jou moeder gewerk?"

"My moeder het ander mense se klere gewas "

Die direkteur vra toe die jong man om sy hande vir hom te wys. Die jong man het sy hande uitgesteek en verbaas na die direkteur gekyk.
Wat sou sy hande met die onderhoud te doen hê. Die direkteur het na die jong man se hande gekyk, hulle was glad en perfek versorg.

" Het jy ooit jou moeder gehelp om die wasgoed te was?"

"Nooit, my moeder wou altyd hê ek moet lees en studeer, en buitendien kan my moeder wasgoed baie vinniger en skoner was as wat ek ooit kon droom om dit te doen."

Die direkteur sê toe vir die jong man, "Ek wil hê jy moet eers huis toe gaan en jy moet jou moeder se hande met room smeer, dan sien ek jou weer môre oggend hier"

Die jong man het gevoel hy kan dalk die werk kry, en hy is huis toe om vir sy moeder te vertel van die onderhoud. Toe hy later by haar sit, sê hy vir sy moeder hy wil graag haar hande room smeer. Vir die moeder was dit ‘n snaakse versoek, maar met gemengde gevoelens het sy die buisie room na hom toe uitgehou, en toe haar hande uitgesteek na hom toe.

Die jong man het sy moeder se hande in syne geneem, en toe begin die trane oor haar hande rol, vir die eerste keer in sy lewe het hy gesien hoe vol plooi en eelte sy moeder se hande was. Plek - plek was die hande oopgebars en het sy ineengetrek toe hy dit saggies met room begin invryf.

Dit was die eerste keer dat die jong man besef het dat daardie paar hande wat soveel bondels wasgoed gewas het, vir sy studiegeld betaal het. In ysige winter koue en stomende somer hitte, het sy onverpoosd gewerk. Daardie vereelte hande het sy toekoms rooskleurig geverf.

Daardie stukkende hande het gesorg vir ‘n uitstekende geleerdheid.
Na hy sy moeder se hande goed gesmeer het, het hy die volgende bondel wasgoed opgetel en stil - stil daarmee verdwyn om dit vir haar te gaan was.

Daardie aand het moeder en seun tot baie laat gesels.
Die volgende dag het die jong man weer aangemeld by die direkteur vir sy onderhoud.
Hy het gesien die trane sit nog baie vlak in die jong man se oë.
"Het jy toe gedoen wat ek vir jou gesê het?" vra die direkteur die jong man.

"Ja, ek het my moeder se hande room gevryf, en toe het ek die res van die wasgoed vir haar gewas. Ek het nou eers besef dat ek nooit waardering gehad het  vir dit wat sy al die jare vir my gedoen het nie. Sonder haar sou ek nie vandag vir hierdie pos kon aansoek doen nie. En toe ek gister daardie vreeslike bondel wasgoed was, voel dit asof my skouers wil afskeur. Toe besef ek eers hoe groot haar opoffering was deur al die jare.

"Die pos is joune,” antwoord die direkteur,  “eers as iemand waardering en dankbaarheid kan betoon, is hy gereed vir ‘n pos met soveel verantwoordelikhede.

Kyk vandag om jou rond, daar is baie mense wat baie opgeoffer het in die lewe om ons te gee wat ons vandag het.

En dan is daar ‘n Hemelse Vader wat alles opgeoffer het, sodat ek en jy nie nodig het om gestraf te word vir al ons verkeerde dade nie.

Kyk na Sy Hande vandag, Hulle dra die merke van hoe Hy vir ons gely het, hoe Sy liefde ons straf gedra het.

Het ons al vir Hom die nodige dank en waardering gewys vir die merke op Sy Hande?

Kom ons maak hierdie dag anders,

Kom ons wys waardering aan al ons geliefdes, en ons wys dankbaarheid en waardering aan ons Hemelse Vader wat so mooi na ons kyk.

Sonder Sy opoffering sou ons lewens baie anders verloop het.

2 comments:

Anonymous said...

En hiet sit ek in trane en wonder waaroor was ek eindeik vandag so omgekrap baie dankie dis wonderlik om weer tot wakker skrik geroep word

Anonymous said...

Ja nee dis sowaar ne ons besef hoeveel ons voordanbaar behoortte voel nie maarek senet dankie vir my geloof en eerons almagte vader elke dag vir alles wat hy voorsien in my lewe .