Monday, May 27, 2013

Die Olifant en die Vlieg






Die leermeester en sy leerling het deur die woud gewandel. Die leerling was onsteld weens die feit dat sy gedagtes in voortdurende konflik was.

Hy vra sy leermeester, “Hoekom is dit dat die meeste mense se gedagtes rusteloos is en nie  reik  na dit wat  goed en suiwer is nie? Slegs ‘n paar besit ‘n gedagte gang wat kalm en suiwer is. Wat kan mens doen om die gedagtes te kalmeer en te laat stil word in suiwer oordenkinge?”

Die leermeester kyk na sy leerling, glimlag vir hom en sê, “Ek sal jou ‘n storie vertel. ‘n Olifant het by die boom gestaan en van die heerlike blare gepluk om aan te smul. ‘n Klein vliegie kom daar aangevlieg en vlieg en buzzz hier in die olifant se oor. Die olifant waai die vlieg weg met sy groot flap ore. Na ‘n paar oomblikke is die vlieg weer terug en die olifant verdryf die vlieg weereens.”

Die gebeure het ‘n hele paar keer plaasgevind. Toe vra die olifant vir die vlieg, “Waarom is jy so rusteloos en raserig? Hoekom kan jy nie vir ‘n wyle op een plek stil sit nie?”

Die vlieg antwoord: “Ek word aangetrek na alles wat ek sien, ruik, proe, voel of hoor. My vyf sintuie trek my voortdurende in verskillende rigtings en ek kan hulle nie weerstaan nie. Wat is jou geheim? Hoe kan jy so lank kalm en stil wees?”

Die olifant hou op om te eet en sê: “My vyf sintuie regeer nie my aandagspan nie. Wat ek ookal doen, ek wei my volle aandag daaraan. Nou dat ek eet, is ek totaal toegewei aan my etery. Op die manier kan ek my kos geniet en is dit lekker om te eet. Ek regeer en beheer my aandagspan en nie andersom nie.”

By die aanhoor van die woorde van die wyse ou leermeester verhelder die leerling se oë en ‘n glimlag verskyn op sy gesig. Hy kyk na sy leermeester en sê, “Ek verstaan! Indien my vyf sintuie in beheer is van my verstand en aandag, dan is my gedagtes in voortdurende konflik en rusteloosheid gedompel. Wanneer ek in beheer is van my vyf sintuie en aandag, dan word my verstand en gedagtes kalm."


“Ja, dit is korrek.” antwoord die leermeester, “Die verstand en gedagtes is rusteloos en gaan waarookal die aandag is. Beheer jou aandag en jy beheer jou verstand en gedagtes.”

Tuesday, April 30, 2013

Die Wet van die Natuur





Gaan kyk na ‘n appelboom. Daar kan tot soveel as vyf honderd appels aan so ‘n boom wees, elk met tien sade in die kern. Dit is ‘n klomp sade vir een so boom. Mens kan maklik vra, “Hoekom het mens so baie sade nodig om te verseker dat ‘n paar ekstra appelbome sal opkom?”

Die natuur het iets om ons te leer. Dit vertel ons: “Baie sade groei nooit nie. Dus as jy wil hê dat iets moet gebeur, moet jy beslis bereid wees om meer as een keer te probeer.”

Dit mag beteken:
Jy sal twintig onderhoude bywoon om een werk te kry.
Jy sal met veertig mense onderhoude voer om een goeie werknemer te kry.
Jy sal met vyftig mense praat om aan hulle ‘n huis, ‘n motor, ‘n polis of ‘n idée te verkoop.
En jy sal honderd kennisse ontmoet om een spesiale vriend te vind.

Wanneer ons die “Wet van die Natuur” verstaan sal ons nie so maklik teleurgestel word nie. Ons sal ophou om soos slagoffers te voel. Die wet van die natuur is nie iets wat persoonlik opgeneem moet word nie. Ons moet dit net verstaan en daarmee saamwerk.

In ‘n neutedop
Suksesvolle mense faal meer dikwels. Hulle plant meer saad.

Friday, April 19, 2013

Lucky se Grootste Skat




Maria en haar man Jim het ‘n hond gehad met die naam van “Lucky”. Lucky, ‘n klein Jack Russel, was omtrent ‘n karakter gewees. Wanneer vriende vir Maria en Jim kom kuier vir ‘n naweek, moes hulle vroegtydig die besoekers waarsku om maar die tasse toe te hou want Lucky sal maklik iets uit die tas gaan gaps waarvan hy hou. Noodwendig vergeet van die gaste soms hiervan en dan raak iets uit die tasse weg.

Maria of Jim sal na Lucky se speelgoed boks gaan in die kelder en daar te midde van al sy ander “skatte” sal die vermiste item opgespoor word. Lucky het altyd sy “skatte” wat hy gevind het in sy speelgoed boks gaan bêre en hy was baie beskermend oor sy speelgoed boks – dit wat daar in was, bly daar.

Dit het gebeur dat Maria uitgevind het sy het bors kanker. Maria was oortuig dat sy beslis sou sterf van die siekte ..... en dat daar geen hoop op herstel was vir haar nie. Noodgedwonge het sy die operasie vir ‘n dubbele masektomie geskeduleer terwyl vrees haar hele wese oorheers.

Die aand voordat sy hospitaal toe sou gaan vir die operasie het sy dat Lucky styf teen haar kom nestel. ‘n Gedagte het deur haar geflits..... wat sou met Lucky gebeur? Alhoewel die drie jaar oue hond van Jim gehou het, was hy Maria se hond deur en deur. “Indien ek sou sterf, sal Lucky verlate wees.” Het Maria by haarself gedink. “Hy sou nie verstaan dat sy hom nie moedswilliglik verlaat het nie.” Die gedagte het haar meer hartseer gemaak as die gedagte aan haar eie dood.

Die operasie was baie moeiliker en aftakelend op haar gestel as wat die dokters vermoed het en Maria was vir twee weke in die hospitaal. Jim het getrou Lucky geneem vir sy aand wandelinkie, maar die hond was besig om te kwyn, hy was pieperig en het geen eetlus gehad of lus om enige iets te doen nie. Hy het net daar in sy slaap mandjie bly lê.

Uiteindelik het die dag aangebreek dat Maria kon huistoe gaan. Toe sy by die huis arriveer was sy so moeg dat sy nie die trappe kon op tot in hul slaapkamer nie. Jim het Maria gemaklik gemaak op die sitkamer bank dat sy eers daar so bietjie kon rus.

Lucky het daar eenkant gestaan en Maria dopgehou maar hy het nie nadergekom toe sy hom roep nie. Dit het Maria baie hartseer gemaak, maar die slaperigheid het gou oor haar die oorhand gekry en sy het ingedut.

Toe Maria wakker word kon sy vir ‘n oomblik nie verstaan wat fout is nie. Sy kon nie haar kop draai nie en haar hele liggaam het swaar en warm gevoel. Maar benoudheid het gou plek gemaak vir ‘n klein laggie toe sy besef wat die probleem is. Sy was oordek, letterlik soos ‘n kombers, met elke “skat” wat Lucky besit het!

Terwyl sy aan die slaap was, het die hartseer hondjie een draffie na die ander onderneem na sy speelgoed boks om vir sy geliefde ounooi al sy gunsteling dinge in sy klein honde lewetjie aan te dra. Hy het haar oordek met sy liefdes goed.

Maria het die gedagte van doodgaan opsy geskuif en in plaas daarvan het sy en Lucky weer begin lewe en elke dag weer begin stap, die volgende dag ‘n bietjie verder as die vorige.

Dit is nou reeds twaalf jaar en Maria is steeds kanker vry. Lucky? Hy gaps nog steeds skatte en gaan versteek hulle in sy speelgoed boks maar Maria bly sy grootste skat.

Skrywer Onbekend

Friday, April 12, 2013

Wyl die kritiek oor my gaan.



 Ek dank U, O’ Vader, vir die kritiek wat daagliks oor my gaan
 want U leer my daardeur om my nederig deur ander te laat
 vermaan sodat ek in my hart U Goeie Weë meer duidelik kan
 verstaan. O’ Vader, hier waar ek as sondaar voor U staan, leer
 my ook om U Wet in elke opsig te kan verstaan en help my in
 my weg waar ek oor die aarde gaan sodat ek U in geen opsig
 mis sal verstaan en U daardeur miskien sal verontagsaam.

 Sal U daarom stap vir stap U Wet weer opnuut met my deurgaan
 sodat ek nie in aanbidding ‘n ander god of gesnede beeld voor
 my aangesig sal laat staan en U daarom nie my nageslag in U
 toorn met my straf sal slaan. Maar maak my aan U trou sodat
 U Goeie Goedertierenheid vir ewig oor my kan gaan. Help my
 ook dat ek U Grote Naam nie ydellik vir eie gewin oor my sondige
 lippe sal laat gaan en U straf daardeur ver van my sal staan.

 U is my Rus, U is my Sabbat, laat ek daarom U, Ewige Sabbat
 heilig met geheel my klein bestaan en ek sal weet, U het ook 'n
 rusdag vir my aardse liggaam beraam, waarin ook geen ander
 mens of dier in hulle arbeid vir my hoef krom te staan. Maar leer
 my ook dat die grote liefde nie onder hierdie wet hoef te vergaan,
 maar dat ek vir my naaste in nood op die menslike Sabbatdag
 mag naderstaan, want so dikwels is die kalf in die put en daarom
 moet die liefdeswerk mildelik voortgaan.

 My aardse vader het lankal reeds heengegaan en my gryse
 moeder is ver van my vandaan, leer my daarom om al my
 naastes te eer, sodat ek ook hierdie Liefdeswet volkome
 kan verstaan. Maar nie sodat my aardse dae verleng mag
 word, maar sodat ek na U in U Vaderhuis mag gaan. Deur
 U Genade het ek nog niemand dood geslaan en in verbastering
 en egbreek wil ek ook regtig nie naderstaan en as ek ander se
 besittings sou begeer om daardeur te begin te steel, laat my
 daaroor, myself morsdood skaam. Maar bowenal vra ek U om
 dig teenaan my te staan en my te bewaar sodat geen valse
 getuienis van my naaste oor my lippe sal gaan.

 O’ Vader hier waar ek as sondaar voor U staan, leer my weer
 en nog ‘n keer, dat ek met geheel my hart, siel en liggaam in
 liefde vir U oor sal gaan en om my naaste lief te hê soos myself
 dit moet ek asseblief ook duidelik verstaan. Want aan hierdie
 gebod hang elke wet en ook die profeet en daarsonder sal elke
 lewende siel verseker heeltemal vergaan.


Judith de Beer

Vrydag 5 April 2013
 
http://www.openbaringe.co.za/