Friday, April 12, 2013

Wyl die kritiek oor my gaan.



 Ek dank U, O’ Vader, vir die kritiek wat daagliks oor my gaan
 want U leer my daardeur om my nederig deur ander te laat
 vermaan sodat ek in my hart U Goeie Weë meer duidelik kan
 verstaan. O’ Vader, hier waar ek as sondaar voor U staan, leer
 my ook om U Wet in elke opsig te kan verstaan en help my in
 my weg waar ek oor die aarde gaan sodat ek U in geen opsig
 mis sal verstaan en U daardeur miskien sal verontagsaam.

 Sal U daarom stap vir stap U Wet weer opnuut met my deurgaan
 sodat ek nie in aanbidding ‘n ander god of gesnede beeld voor
 my aangesig sal laat staan en U daarom nie my nageslag in U
 toorn met my straf sal slaan. Maar maak my aan U trou sodat
 U Goeie Goedertierenheid vir ewig oor my kan gaan. Help my
 ook dat ek U Grote Naam nie ydellik vir eie gewin oor my sondige
 lippe sal laat gaan en U straf daardeur ver van my sal staan.

 U is my Rus, U is my Sabbat, laat ek daarom U, Ewige Sabbat
 heilig met geheel my klein bestaan en ek sal weet, U het ook 'n
 rusdag vir my aardse liggaam beraam, waarin ook geen ander
 mens of dier in hulle arbeid vir my hoef krom te staan. Maar leer
 my ook dat die grote liefde nie onder hierdie wet hoef te vergaan,
 maar dat ek vir my naaste in nood op die menslike Sabbatdag
 mag naderstaan, want so dikwels is die kalf in die put en daarom
 moet die liefdeswerk mildelik voortgaan.

 My aardse vader het lankal reeds heengegaan en my gryse
 moeder is ver van my vandaan, leer my daarom om al my
 naastes te eer, sodat ek ook hierdie Liefdeswet volkome
 kan verstaan. Maar nie sodat my aardse dae verleng mag
 word, maar sodat ek na U in U Vaderhuis mag gaan. Deur
 U Genade het ek nog niemand dood geslaan en in verbastering
 en egbreek wil ek ook regtig nie naderstaan en as ek ander se
 besittings sou begeer om daardeur te begin te steel, laat my
 daaroor, myself morsdood skaam. Maar bowenal vra ek U om
 dig teenaan my te staan en my te bewaar sodat geen valse
 getuienis van my naaste oor my lippe sal gaan.

 O’ Vader hier waar ek as sondaar voor U staan, leer my weer
 en nog ‘n keer, dat ek met geheel my hart, siel en liggaam in
 liefde vir U oor sal gaan en om my naaste lief te hê soos myself
 dit moet ek asseblief ook duidelik verstaan. Want aan hierdie
 gebod hang elke wet en ook die profeet en daarsonder sal elke
 lewende siel verseker heeltemal vergaan.


Judith de Beer

Vrydag 5 April 2013
 
http://www.openbaringe.co.za/

No comments: