Monday, November 30, 2009

Die Helende Gif


Lank gelede was daar ’n meisie met die naam La-Li. Sy het getrou en het saam met haar man by haar skoonmoeder gaan woon. Sommer gou-gou het La-Li agtergekom dat sy en haar skoonmoeder glad nie gaan klaarkom nie.
Hulle persoonlikhede was net te verskillend en La-Li het woedend geword vir al haar skoonmoeder se gewoontetjies. Buiten dit, het sy voortdurend vir La-Li gekritiseer, sy kon in die oë van haar skoonmoeder niks reg doen nie. Dae het verby gegaan, later het dit weke geword wat die twee argumenteer en baklei.
Wat dit nog erger gemaak het, is dat volgens die Oosterse tradisies moes La-Li voor gaar skoonmoeder buig en haar elke opdrag gehoorsaam.

Al die gestry en baklei in die huis was ’n groot bron van ’n kommer vir La-Li se arme man. Ten einde laaste kon La-Li nie meer dit uitstaan met haar skoonmoeder se humeur en diktatorskap nie. Sy het haar vader se goeie vriend, Mnr. Huang gaan sien, wat kruie verkoop. La-Li het haar hele situasie aan hom verduidelik en hom gevra of hy nie ’n gif het wat sy kan gebruik om die probleem eens en vir altyd op te klaar nie.

Mnr. Huang het oor die saak nagedink en sê na wyle, “La-Li, ek sal jou help om jou probleem op te los, maar jy moet baie mooi luister na wat ek jou beveel en presies doen soos ek sê.” La-Li beaam, “Ja, Mnr. Huang ek sal presies doen jy ook al van my verlang. Mnr. Huang verdwyn in die agterste stoorkamer en kom na ’n paar minute uit met ’n pakkie kruie.

Hy sê aan La-Li, “Jy kan nie ’n gif gebruik wat te vinnig werk nie anders sal die bure en kennisse agterdogtig raak. Daarom het ek aan jou ’n paar kruie gegee wat stadig die gif sal laat opbou in jou skoonmoeder se liggaam.
Elke tweede dag moet jy vir haar ’n vark of hoender gereg maak met ’n klein bietjie van die kruie in haar porsie kos. Nou, om te voorkom dat enige iemand jou verdink wanneer sy sterf moet jy baie versigtig wees om te verseker dat jy baie vriendelik en liefdevol teenoor haar is. Moet nie met haar stry en baklei nie, gehoorsaam haar bevele en behandel haar soos ’n koningin.”

La-Li was baie bly. Sy bedank Mnr. Huang en haas haar terug huis toe sodat sy kan begin met haar moord komplot teen haar skoonmoeder.
Weke het verby gegaan, later maande en steeds elke tweede dag het La-Li die spesiaal behandel kos aan haar skoonmoeder gegee. Sy het onthou wat Mnr. Huang gesê het om enige suspisie te vermy en het sy haar humeur in toom gehou, haar skoonmoeder gehoorsaam en haar behandel soos haar eie moeder.

Na ses maande het die hele atmosfeer in die huis verander. La-Li het geleer om haar humeur sodanig in toom te hou dat sy omtrent nooit meer of baie selde kwaad raak. Sy het die laaste ses maande nog geen argumente met haar skoonmoeder gehad nie en die is sommer deesdae ook baie vriendeliker en makliker om mee oor die weg te kom.
Die skoonmoeder se houding teenoor La-Li het drasties verander en sy het begin om La-Li lief te hê soos haar eie dogter. Sy vertel voortdurend aan die bure en besoekers hoe wonderlik is haar skoondogter en sy is die beste skoondogter in die hele wêreld. La-Li en haar skoonmoeder het mekaar nou behandel soos ’n regte moeder en dogter. La-Li se man was baie verheug oor die verandering wat ingetree het en hy het daarna uitgesien om smiddae, na ’n harde dag se arbeid, huis toe te gaan.
La-Li het op ’n dag weer Mnr. Huang gaan sien om sy hulp te verkry. Sy begin verduidelik, “Mnr. Huang help my asseblief om te keer dat die gif my skoonmoeder doodmaak. Sy het so ’n wonderlike mens geword en ek het haar lief soos my eie moeder. Ek wil nie hê dat sy moet sterf van die gif wat ek die laaste paar maande vir haar gegee het nie.”
Mnr. Huang glimlag en knik met sy kop. “La-Li, daar is niks om oor bekommerd te wees nie. Ek het nooit vir jou gif gegee nie. Die kruie wat ek jou gegee het, sou net haar gesondheid verbeter het.
Die enigste gif was, dit wat in jou hart was en jou houding teenoor haar, maar die is alles weg gewas deur die liefde wat jy aan haar bewys het.”

Les: Besef ons elke dag dat hoe ons ander behandel is presies hoe hulle ons sal behandel?
Hy wat ander liefhet sal self bemind wees.

Friday, November 27, 2009

Vlam van Liefde


“Ek kan dit bemeester.” sê die Byl.
Sy vlymskerp slae val onverbiddelik op die harde, sterk staal.
Maar elke slag maak net die snykant van die byl stomper
totdat hy later glad nie meer kan kap nie.

“Los dit vir my.” sê die Saag.
Met sy rye saagtande werk hy die harde staal vorentoe en agtertoe.
Maar tot sy ontsteltenis is al sy tande na ’n kort rukkie
weggevreet of uitgebreek.

“Ha!” sê die Hamer. “Ek het geweet julle kan dit nie doen nie.
Laat ek julle wys hoe daar met so yster se gal gewerk word.”
Maar met die eerste kap vlieg die hamerkop af en die staal het
nie eens ’n skrapie op nie.

“Kan ek ook probeer?” vra die Vlam
Vlam vou homself saggies om die sterk, harde staal sonder om te laat los.
Na ’n kort rukkie begin die staal te gloei en te smelt.

Daar is harte wat hard genoeg is om enige aanslae te weerstaan sonder dat daar ’n merkie op hulle wys.
Maar hard is die hart wat die warme “vlam van liefde” kan weerstaan.

Thursday, November 26, 2009

A Woman of Strength


A strong woman works out every day to keep her body in shape.....
but a woman of strength kneels in prayer to keep her soul in shape.....

A strong woman isn't afraid of anything.....
but a woman of strength shows courage in the midst of her fear.....

A strong woman won't let anyone get the best of her.....
but a woman of strength gives the best of her to everyone.....

A strong woman makes mistakes and avoids the same in the future.....
but a woman of strength realizes life's mistakes can also be God’s blessings and capitalizes on them.....

A strong woman walks sure footedly.....
but a woman of strength knows God will catch her when she falls.....

A strong woman wears the look of confidence on her face.....
but a woman of strength wears grace.....

A strong woman has faith that she is strong enough for the journey.....
but a woman of strength has faith that it is in the journey that she will become strong.

Tuesday, November 24, 2009

Ons Liggaam – Die Tempel


Ons lees in die Skrif dat ons liggame ‘n tempel is vir Yahweh. Ons moet dit stel as ‘n welgevallige offer aan God. Dit is die plek waar die Heilige Gees woon.

1 Kor. 3:16 Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?

1 Kor. 6:19 Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?

2 Kor. 6:16 Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.

Vanuit die twee bogenoemde skrif gedeeltes is dit baie duidelik dat ons liggame ‘n offer en tempel van die Lewende God is.

Derhalwe is dit seker noodsaaklik om onsself ‘n paar belangrike vrae te vra omtrent die tempel waarmee ons rondloop.

Om ons liggame in perspektief te plaas met die aardse, waaraan ons gewoond is, kan ons dit vergelyk met die gemeente of tradisioneel die kerk. Die meeste mense beskou dan ook die kerk as die tempel van samekoms.

Sou ons dan nou ‘n vergelyking maak tussen ons liggaams tempels en die tempel van samekoms behoort daar mos sterk ooreenkomste te wees tussen die twee, sodat beide herken kan word as tempels.

Daar is algemene reëls wat geld ten opsigte van tempels van samekoms en die reëls spel tog uit wat nie gedoen mag word in en aan die plekke nie (baie van die reëls is ongeskrewe en word as vanselfsprekend aanvaar).
Kom ons kyk na die volgende:

Geeneen sal tog kliphard vloek in die kerk nie.
Niemand gaan sit en dobbel in die kerk nie.
Niemand gaan ‘n sigaret aansteek en sit en rook in die kerk nie.
Niemand gaan sit en suip in die kerk nie.
Niemand gaan sit en skinder van die ander mense in die kerk nie.
Niemand gaan by ander vroue of mans aanlê in die kerk nie.
Niemand gaan ‘n ander een te lyf gaan in die kerk nie.
Niemand gaan op die kerk mure graffiti skryf of tattoo’s plak nie.
Niemand sal binne die kerk die Almagtige God se naam ydellik gebruik nie.

Hierdie is maar net ‘n paar, maar dis besliste nee-nee’s om te doen in die kerk of gemeente.

Sal jy dit doen???

Gedink die antwoord sal nee wees, want hoe kan iemand so iets doen in die gemeente of kerk – wat sal die mense daarvan sê – ek sal my dood skaam om so iets te doen.

Maar tog doen ons dit elke dag in en aan die tempel wat God aan ons gegee het naamlik ons liggame. Ons is skaam wat ons voor die mense doen maar ons het geen skaamte voor God nie – hoe werk dit?

Daar moet tog sekerlik ooreenkomste wees tussen die twee tempels nie waar nie?

Het ons meer respek vir die tempels wat gebou is van klip en sand as die wat die Ewig Lewende Elohim aan ons gegee het?

Dink volgende keer baie mooi na oor jou liggaam en behandel dit soos die tempel waarin die Heilige Gees woon voordat jy iets doen of sê.

Friday, November 20, 2009

Die Wingerdstok


Soms is ons so geneig om met oogklappe deur die lewe te gaan dat ons van die belangrikste lesse wat Vader ons wil leer in die natuur heeltemal mis en glad nie raaksien nie. Die lewenslesse speel voor ons oë af maar tog sien of luister ons nie.
Nou die dag sit ek en kyk na ’n program wat handel oor wingerde en hoekom hulle op sekere maniere gesnoei word en wat is noodsaaklik om goeie druiwe te verseker. Dit was vir my baie interessant gewees, maar die belangrikste les het ek eers bietjie later geleer toe ek nadink oor die wingerde.

Daar was soveel waarhede opgesluit in die storie oor die wingerde wat in ons lewens van toepassing is dat ek nou eers kan verstaan hoekom is daar soveel verwysings na wingerde in die bybel.

Die program het gehandel oor druiwe wat gekweek word om sjampanje te maak en nie watse sjampanje nie, maar die beste in die wêreld soos Dom Perignon. In die program is gesels oor die grond voorbereiding en voeding, die snoei, wat die druiwe nodig het soos reën, hitte, koue, ens.

Die gebied in Frankryk waar die wingerde geleë is, is die grond baie arm aan voedingstowwe en die mense vat gewone huishoudelike vullis en werk dit tussen die wingerde in. Stukkies plastiek, papier en tot stukkies metaal onderdele van motors kan tussen die wingerde opgemerk word.
Dit is nogal opvallend hoe dit ooreenstem met die gelowige in die wêreld, hy word geplant te midde van al die vuil en gemors van die wêreld en steeds groei hy om wasdom te bereik om prag vrugte te dra.

Die wingerd word voor die groei seisoen kwaai gesnoei om die plant te giet in ’n sekere vorm wat sal verseker dat die beste vrugte gelewer word. Maar die snoei dra ook daartoe by dat die vrugte nie laag op die grond gedra word nie maar redelik hoog in die lug. Want as die druiwe trosse te laag op die grond is, kan hulle beskadig word deur die ryp aangesien ryp plaasvind op die grondvlak en hul kan makliker beskadig word deur insekte en klein ongediertes op die grond.
So is dit ook nodig dat ons gereeld kwaai terug gesnoei word deur Vader om te verseker dat ons die beste vrugte moontlik dra en die snoei moet van so aard wees dat die vrugte nie op die grond hang en beskadig kan word deur ryp of insekte nie.
Die snoei is vir ons soms bitter pynlik en verstaan dit nie op daardie stadium nie maar later wanneer die vrugte trossie begin uitswel dan maak dit eers vir ons sin.

Daar is sekere tye wat die wingerd water nodig het om te groei en dan is daar tye wat hulle geen water verlang sodat die vrugte nie beskadig word en bars nie of om die suiker gehalte daarvan te verhoog. Hulle moet vir ’n wyle soms droogte ervaar om die gehalte te verbeter.
Ons ervaar ook tye in ons lewens wanneer dit heerlik reën en alles is te mooi en pragtig maar wanneer die droogte tye ons aangryp dan raak ons maklik mismoedig en radeloos. Ons sien nie die doel van die droogte nie, maar ons het dit nodig om die vrug wat ons dra se gehalte te verbeter om so ’n besonderse wyn te verseker.

Die wynmaker toets gereeld die druiwe om te sien wanneer die vrug net reg is dan word die mense gehuur wat die oes insamel. Die druiwe plukkers word natuurlik gewaarsku om die trosse mooi af te pluk en nie die wingerd te verniel nie, want dit moet volgende jaar weer vrug dra en self beter en meer vrugte as die vorige jaar.
Die gehalte van die druif bepaal hoe goed die wyn gaan wees, want jy kan nie goeie wyn maak van swak druiwe nie.
Die vrug wat ons dra moet van so aard wees dat die Wynmaker baie bly sal wees oor die kwaliteit van die druiwe wat ons voortbring want dit is al wat ’n goeie wyn kan verseker.
Die swak vrugte word aan die wingerd gelos om te verrot of word afgesny en weggegooi want dit sal die goeie wyn bederf.

Laat ons vandag vrugte dra wat van die beste gehalte is sodat dit die Wynmaker van ons lewens bly sal maak oor Sy wingerd.

Wednesday, November 18, 2009

Kan Jy God Sien?


Die jong seuntjie stap na sy ietwat ouer sussie met ’n vraag oor God. “Suzie, kan iemand ooit regtig vir God sien?” vra hy.
Besig met ander dinge antwoord Suzie effe geïrriteerd: “Nee, dommie, natuurlik nie. God is so hoog in die hemel dat niemand Hom kan sien nie.”

Tyd het verbygegaan, maar die vraag het nog bly vassteek in sy agterkop. Hy stap toe na sy ma toe en vra: “Ma, kan iemand ooit regtig vir God sien?” “Nee, nie regtig nie,” antwoord sy saggies, “God is ’n Gees en Hy woon in ons harte, maar ons weet net van Hom maar sien Hom nie regtig nie.”

Ietwat tevrede gestel met die antwoord maar nie honderd persent tevrede nie, het hy maar koers gekies na buite en gaan speel. Nie lank daarna het die seuntjie se oupa, wat ’n baie gelowige man was, hom saamgeneem op ’n hengel uitstappie.

Hulle het ’n wonderlike tyd saam gehad. Die son was besig om te sak en dit was ’n onbeskryflike mooi sonsondergang. Die oupa het in stilte die prag skouspel ingeneem wat besig was om te ontvou soos wat die son se strale kwyn en die prag van God se skepping beklemtoon in skakerings van rooi en oranje.

Toe die seuntjie sy oupa se gesig sien, vol verwondering oor die skouspel met ’n gelaat van volkome vrede, dink die seuntjie vir ’n oomblik na voordat hy huiwerig praat.

“Oupa, ek.... ek..... was nie van plan om nog iemand verder te vra nie, maar ek wonder of Oupa my kan antwoord op ’n vraag waaroor ek nou al ’n lang tyd wonder. Kan enige iemand regtig ooit vir God sien?”

Die ou man het nie eens sy kop gedraai nie. ’n Lang oomblik van stilte het verby gegaan voordat hy uiteindelik antwoord. “Ou seun,” sê hy saggies. “Dit word so, dat ek niks anders kan sien nie.”

Monday, November 16, 2009

Gelykenis van die Roos


’n Sekere man het ’n roos geplant en dit gereeld versorg en water gegee. Voordat dit begin blom het, ondersoek hy die roos en sien ’n roos knoppie wat binnekort moet oopmaak. Hy sien ook die doring en dink by homself, “Hoe is dit moontlik dat ’n pragtige blom deel is van ’n struik wat belas is met soveel skerp dorings?” Baie bedroef deur die gedagte het hy nagelaat om die roos boompie verder te versorg en water te gee en voordat die roosknoppie kon oopgaan het dit gesterf aan die droogte.

So is dit ook met baie mense. Binne elke siel is daar ’n roos. Die “God gegewe” kwaliteite wat by geboorte deel is van ons wat groei midde-in die dorings van ons foute. Baie van ons kyk na onsself en sien slegs die dorings, ons tekortkominge. Ons raak moedeloos, want wat goeds kan daar uit ons voortkom? Ons versuim om die goed binne ons te versorg en water te gee en uiteindelik sterf dit. Ons besef soms nie die werklike potensiaal waartoe ons in staat is nie.

Sommige sien nie die roosknoppe binne hulself raak nie. Dit neem iemand anders om dit aan hulle uit te wys. Een van die grootste gawes wat ’n persoon kan hê is die vermoë om verby die dorings te strek en die roosknop binne ander te vind. Dit is die wonderlikste eienskap van liefde vir ’n ander persoon, om afgesien van hul foute die edelheid in hul siel te herken en hulle steeds te help om te besef dat hulle hul eie gebreke kan oorkom.

As ons aan hulle die roos wys dan is dit makliker om die dorings te oorwin. Slegs dan sal hulle veelvuldig blom. Ons taak in die wêreld is om ander te help deur aan hulle hul rose te wys en nie hul dorings nie. Dit is slegs dan wat ons, ons doel bereik om mekaar onvoorwaardelik lief te hê. Dan sal ons kan blom in ons eie blomtuin.