Friday, August 29, 2008

Die Baba


Een middag, terwyl ‘n paartjie oppad was, merk hulle skielik in die vêrte ‘n vrou in die middel van die pad op wat versoek dat hulle moet stop. Die vrou sê aan haar man dat hy moet aanhou ry want dit kan ‘n lokval wees, maar die man besluit toe om stadig verby te ry sodat hy kan sien wat die probleem is en of daar werklik ‘n probleem is van iemand wat dalk seergekry het. Terwyl hulle naderkom merk hulle dat die vrou snye en kneusings in haar gesig en op haar arms het. Hulle besluit om te stop en te kyk wat hulle kan doen om te help.

Die beseerde vrou het by hulle gesmeek om haar te help want hulle was in ‘n motorongeluk en haar man en pasgebore baba was steeds in die motor wat in die diep kloof lê. Sy sê dat haar man reeds dood is maar dit lyk of die baba nog lewe.

Die man besluit toe dat hy in die kloof sal afklim en probeer om die baba te red. Hy vra die vrou om solank in die motor te klim en by sy vrou te bly. Toe hy onder kom merk hy dat daar twee mense in die voorste sitplekke van die motor is maar hy steur hom nie veel aan hulle nie en haal vinnig die baba agter uit die motor om die na sy ma toe te neem.

Toe hy bo uitkom, is die ma nêrens te vinde nie en hy vra sy vrou wat van die ma geword het. Sy sê dat die vrou agter hom aan is toe hy in die kloof af is na die motor toe. Hy besluit toe om maar weer in die kloof af te gaan en te gaan soek na die ma. By die wrak uitgekom sien hy die twee mense voor in die motor was reeds dood, ‘n man en vrou, steeds met hul veiligheidsgordels aan.

Toe hy nader ondersoek instel merk hy dat die oorlede vrou presies dieselfde vrou was wat by hulle gepleit het om te stop vir hulp.

Die baba leef nou by familie en sal leef om eendag die storie te vertel.

Ons het nog so baie om te leer oor die Almag, Grootheid en Goedheid van God en daar is nog baie dinge wat verborge is vir die menslike verstand.


Daarom sal ons Hom loof in heerlikheid vir die wonderwerk wat Hy nog elke dag in ons lewens laat plaasvind.

Thursday, August 28, 2008

Spreuke


Do more than belong: participate.

Do more than care: help.

Do more than believe: practice.

Do more than be fair: be kind.

Do more than forgive: forget.

Do more than dream: work.




There is no better exercise for your heart than reaching down and helping to lift someone up.


Bernard Meltzer

Wednesday, August 27, 2008

Onvoorwaardelike Liefde


Die verhaal word vertel van die soldaat wat uiteindelik huistoe gekom het na ‘n lang en uitgerekte oorlog. Hy het hulle gebel vanaf die stad.

“Ma en Pa, ek kom huistoe, maar ek het ‘n guns om te vra. Ek het ‘n vriend wat ek wil saambring huistoe.”

“Seker,” antwoord hulle, “ons sal hom graag wil ontmoet.”

“Daar is iets wat julle moet weet voordat ek hom saambring,” gaan hy voort, “hy was baie ernstig gewond tydens ‘n skermutseling. Hy het op ‘n landmyn getrap en het sy arm en been verloor. Hy het nêrens anders om heen te gaan nie en ek wil graag hê dat hy by ons moet kom bly.”

“Ek is jammer om dit te hoor, seun. Miskien kan ons hom help om ‘n ander blyplek te kry waar hulle hom beter kan versorg.”

“Nee, Ma en Pa, ek wil hê dat hy by ons bly.”

“Seun,” sê die pa, “jy weet nie wat jy vra nie. Iemand met so ‘n gebrek sal ‘n geweldige las op ons plaas. Ons het ons lewens om te leef en ons kan nie toelaat dat iets soos die inmeng met ons lewens nie. Ek dink jy moet net huistoe kom en vergeet van die vriend. Laat die weermag hom verder versorg. Hy sal wel later op sy eie regkom.”

Op daardie stadium het die seun die telefoon neergesit sonder om te groet. Die ouers het niks weer verder van hom gehoor nie. ‘n Paar dae later ontvang hulle ‘n oproep van die polisie uit die stad waar hul seun was. Hulle is meegedeel dat hul seun dood is nadat hy van ‘n gebou afgeval het. Die polisie vermoed dit was selfmoord gewees. Die bedroefde ouers het na die stad gevlieg en is na die lykshuis geneem om hul seun se liggaam uit te ken.
Hulle het hom herken as hulle seun maar het tot hul skok iets ontdek wat hulle nie geweet het nie, hul seun het net een arm en been gehad.

Die ouers in die verhaal is soos baie van ons. Ons vind dit baie maklik om die lief te hê wat goed lyk en pret is om mee saam te wees, maar ons hou nie van mense wat ons verontrief of ons ongemaklik laat voel nie. Ons sal eerder wegbly van mense wat nie so gesond, mooi of slim soos ons is nie. Gelukkig, is daar Iemand wat ons nie so sal behandel nie. Iemand wat ons onvoorwaardelik lief het en ons verwelkom in Sy Goddelike familie, ongeag hoe opgemors ons is.

Vanaand, voordat jy snoesig in jou bed klim, vra God dat Hy jou die krag sal gee om mense te aanvaar soos hulle is en om ons te help om meer begrip te toon vir hulle wat nie so bevoorreg is soos ons nie.

Monday, August 25, 2008

Wat Sou Jy Doen?


God het ‘n manier om ons toe te laat om op die regte plek op die regte tyd te wees.

Ek het een aand in ‘n swak verligte straatjie gestap toe ek die gedempte gille hoor vanuit ‘n digte klompie bosse langs die sypaadjie. Ek het stadiger gestap om seker te maak dat ek reg gehoor het en het paniekerig geraak toe ek besef dat ek heeltemal reg gehoor het. Dit was die onmiskenbare geluide van ‘n gestoei: swaar asemhaling, verwoede geworstel en materiaal wat skeur. Slegs meters van waar ek staan word ‘n vrou aangerand.

Moet ek betrokke raak? Ek was bevrees vir my eie veiligheid en het myself verwens omdat ek skielik besluit het om met die nuwe roete huistoe te loop. Wat as ek net nog ‘n statistiek word? Moet ek nie eerder na die naaste telefoon toe hardloop en die polisie bel nie?

Alhoewel dit soos ‘n ewigheid gevoel het, het die gedagtes wat so deur my kop gemaal het slegs ‘n paar sekondes geneem, maar alreeds het die vrou se uitroepe al swakker begin word. Ek het geweet dat ek vinnig sal moet optree. Hoe kan ek wegloop van dit wat hier besig is om te gebeur? Nee, het ek finaal besluit, ek kan nie my rug keer op die noodroep van die onbekende vrou nie, al beteken dit dat ek my eie lewe moet waag.

Ek is nie ‘n brawe man nie, nog minder atleties of sterk gebou. Ek weet nie waar ek die innerlike krag en fisiese sterkte vandaan gekry het nie – maar toe ek besluit om die vrou te hulp te snel het ek gevoel of ek op ‘n vreemde wyse verander word. Ek het agter die bosse ingehardloop en die aanvaller van die vrou af weggegryp. Al stoeiende het ons op die grond beland en na ‘n paar minute se onderlinge gekarnuffel het die aanvaller op die vlug geslaan.

Uitasem, het ek vinnig orent gekom en na die vrou geloop, wat gebukkend agter die boom geskuil het terwyl sy huil. In die donkerte kon ek skaars die buitelyne van haar figuur uitmaak, maak ek kon beslis haar bewende skok aanvoel. Om haar nie verder te verskrik nie het ek op ‘n afstand met haar gepraat.

“Dis OK,” sê ek kalmerend. “Die man het weggehardloop. Jy is n ou veilig.” Daar was ‘n lang stilte en toe hoor ek die woorde, geuiter in ongeloof en verwondering.

“Pappa, is dit jy?” en vanuit die bosse stap my jongste dogter, Katherine.

Friday, August 22, 2008

Die Belangrikste Liggaamsdeel


My moeder het my van jongs af gevra wat is die mees belangrikste deel van my liggaam. Deur die jare het ek gereeld ‘n raaiskoot gewaag sodra as wat ek dink ek ken die antwoord.

Terwyl ek jonger was het ek gedink dat klank baie belangrik vir ons as mense is en ek het geantwoord, “My ore, Mamma.”
Sy het gesê, “Nee, daar is baie mense wat doof is. Maar hou aan om daaraan te dink, ek sal jou binnekort weer vra.”

‘n Paar jaar het verloop voordat sy my weer gevra het. Sedert my eerste probeerslag het ek lank gedink oor die korrekte antwoord.

Die keer vertel ek haar, “Mamma, sig is baie belangrik vir enige iemand, soos daarom moet dit my oë wees.”

Sy het na my gekyk en gesê, “ Jy leer vinnig, maar die antwoord is nie korrek nie want daar is baie mense wat blind is.”

Teleurgesteld het ek maar my soektog voortgesit na kennis om die regte antwoord te kry en deur die jare het Moeder my ‘n paar keer gevra of ek die antwoord ken en gereeld was haar antwoord, “Nee. Maar jy word elke jaar slimmer my kind.”

Verlede jaar, is my oupa oorlede. Almal was hartseer en almal het gehuil, selfs my vader wat ek nog net eenkeer van tevore sien huil het. My Moeder het na my gekyk toe dit ons beurt was om blomme op oupa se kis te plaas.

Sy vra my toe, “Weet jy nou al watter is die mees belangrikste deel van die liggaam my kind?”

Ek was geskok omdat sy my die vraag nou vra. Ek het altyd gedink dit was ‘n soort spel tussen ons.

Sy het die verwarring op my gesig opgemerk en sê, “Dit is ‘n baie belangrike vraag. Dit wys of jy al regtig in jou lewe geleef het. Elke liggaamsdeel wat jy aan my genoem het in die verlede het ek gesê is verkeerd en elke keer ook met ‘n rede, hoekom. Maar vandag is die dag wat dit noodsaaklik is dat jy die belangrike les leer.”

Sy het afgekyk na my op die manier soos net ‘n moeder kan. Ek sien die trane wat opwel in haar oë.

Sy sê, “My kind, die mees belangrike deel van jou liggaam is jou skouer.”

Ek vra, “Is dit omdat dit my kop regop hou?”

Sy antwoord, “Nee, dis omdat dit die kop kan hou van ‘n vriend of ‘n geliefde wanneer hulle huil. Elke mens in die lewe het soms ‘n skouer nodig om op te huil. Ek hoop dat jy genoeg geliefdes en vriende het wat altyd ‘n skouer sal hê vir jou om op te huil wanneer jy dit nodig het.”

Daar en dan het ek geweet dat die mees belangrikste liggaams deel nie ‘n selfsugtige deel is nie. Dit is simpatiek teenoor die pyn van ander.

Wednesday, August 20, 2008

Om Bo die Storm te Vlieg


Het u geweet dat ‘n arend lank voor die tyd reeds weet dat daar ‘n storm in aantog is alvorens dit nog enigsins sigbaar is?

Die arend sal na ‘n hoë piek toe vlieg en daar wag vir die winde van die storm om te kom.

Wanneer die storm aanbreek sal hy sy vlerke sprei sodat die wind hom sal optel en laat uitstyg vêr bokant die storm.

Terwyl die storm homself onder uitwoed sweef die arend met gemak hoog bokant die storm.

Die arend ontvlug nie die storm nie, maar gebruik slegs die storm om dit hoër op te lig.

Dit styg op met die winde wat die storms in sy wêreld inbring.

Wanneer die storms van die lewe teen ons aangerol kom – en ons almal sal dit ervaar – kan ons bokant dit uitstyg deur ons geloof en hoop te vestig op God.

Dit is nie nodig dat die storms ons oorweldig nie.

Ons het die keuse of ons God wil toelaat om ons te laat uitstyg op die winde van die storms wat siekte, pyn, tragedie, mislukking en teleurstelling bring in ons lewens.

As ons Hom toelaat sal Hy ons ook die goeie wys wat daaruit voortspruit.

Ons kan bokant die storms sweef.

Onthou dit is nie die laste van die lewe wat ons onderkry nie maar hoe ons dit hanteer wat saakmaak.
(Jes 40:31) maar die wat op YHWH wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.

Tuesday, August 19, 2008

Spreuke


'n Wyse man verander van opinie, 'n dwaas nooit.


Spaanse Spreuk


Hy wat gee wanneer gevra word het reeds te lank gewag.


Spaanse Spreuk