Friday, February 29, 2008

Littekens


‘n Paar jaar gelede, op ‘n warm somers dag in Florida, het ‘n klein seuntjie besluit om te gaan swem in die rivier agter die huis. Die rivier het so swempoel daar gevorm. In sy haas om in die koel heerlike water te kom trek hy by die agterdeur uit en jy sien net klere, skoene en kouse trek soos hy uittrek oppad water toe.

Hy duik in die water in en swem na die middel van die swempoel en sonder dat hy dit besef het die kaaiman hom opgemerk en was besig om na hom toe te swem.

Sy ma was in die huis besig gewees en het vinnig deur die venster vir hom geloer. Met die merk sy die kaaiman wat oppad is na die seun toe. Wanhopig hardloop sy so vinnig na die water as wat sy kan en skree aan haar seun om uit die water te kom.

Met die wat hy sy ma se stem hoor besef hy daar is groot fout en hy draai om en swem so al wat hy kan na die wal toe waar sy ma is.Net toe hy sy ma bereik het die kaaiman hom ingehaal. Vanaf die boot landing gryp die ma haar klein seuntjie aan die arms net toe die kaaiman sy bene beetkry. Die was die begin van ‘n geweldige tou trekkery tussen die twee, ma aan die een kant en kaaiman aan die anderkant.

Die kaaiman was baie sterker as die ma, maar die ma was te lief vir haar kind om te los.

‘n Boer het per toeval verby gery toe hy die ma se geskree hoor. Hy het uit sy bakkie gestorm met sy geweer, aangelê en die kaaiman doodgeskiet..
Wonderbaarlik na weke en weke in die hospitaal het die klein seuntjie OORLEEF.
Sy bene het vreeslike litteken oorgehou van die aanval deur die kaaiman. Op sy arms was daar diep krapwonde waar sy moeder se naels in sy vlees ingegrou het in haar poging om vas te hou aan haar geliefde seun.

Die verslaggewer wat met die mannetjie ‘n onderhoud gevoer het, het na die onderhou gevra of hy hom sy litteken sal wys.

Die seuntjie het sy broekspype opgetrek. Maar toe, met grootse trots sê hy aan die verslaggewer, “Maar kyk na my arms. Ek het net sulke groot littekens op my arms ook. Hulle is daar omdat my ma geweier het om my te laat los.

Ek en jy kan identifiseer met die seuntjie.

Ons het ook littekens. Nee, nie van ‘n kaaiman nie, maar van ‘n pynlike verlede. Sommige van die littekens is baie onooglik en het aan ons diepe verdriet besorg. Maar, sommige van die wonde my vriend is omdat God geweier het om ons te los. Regdeur jou stryd was Hy daar en Hy het geweier om te los en jou vasgehou.

Die Skrif leer ons dat God ons liefhet.

Jy is ‘n kind van God. Hy wil jou beskerm en vir jou in alle opsigte voorsien. Maar soms, sal ons blindelings in ‘n gevaarlike situasie instorm sonder om te weet wat vir ons voorlê. Die swempoel van die lewe is vol gevare en ons vergeet dat die vyand wag om ons aan te val.
Dit is wanneer die tou trekkery begin.

As jy die littekens van Sy liefde op jou arms het wees dankbaar, baie, baie, dankbaar. Hy sal jou nooit laat los nie.

Moet nooit ‘n ander persoon se litteken veroordeel nie want jy weet nooit hoe hy dit opgedoen het nie.

Wednesday, February 27, 2008

Die Hout Bordjie


‘n Sieklike en verswakte ou man het gaan woon saam met sy seun, skoondogter en vier jaar oue kleinkind in hul huis.
Die ou man se hande het baie gebewe, sy visie was dof en sy tree baie onvas.
Die familie het gewoonlik by die eetkamer tafel geëet wat pragtig gedek was met ‘n mooi tafeldoek en eetgerei. Maar die bejaarde oupa se bewende hande en swak sig het eet baie moeilik gemaak. Die ertjies rol van sy lepel af op die vloer, die rys beland die helfte op die tafel en die ander op die vloer. Wanneer hy die glas melk neem om te drink stort hy gewoonlik ‘n klompie op die tafeldoek soos hy bewe.

Die seun en skoondogter het baie geïrriteerd geraak deur die gemors wat veroorsaak word wanneer oupa eet, die seun sê toe, “Ons sal moet ‘n plan maak met Oupa. Ek het nou genoeg gehad van die gemorste melk op die tafeldoek, raserige etery en die alewige kos op die vloer.”

Die seun en die dogter het toe vir oupa ‘n tafeltjie in die hoek gedek met net die nodigste op wat nie kon vuil smeer of beskadig nie. Daar het oupa maar alleen gesit en eet terwyl die ander hul maaltyd aan die groot tafel geniet. Omdat oupa al so ‘n bord of twee gebreek het is sy kos vir hom opgeskep in ‘n hout bordjie.

Wanneer die familie vir oupa loer onderdeur die ete het hy so nou en dan trane in die oë daar waar hy so alleen sit en eet. Maar steeds was die enigste woorde net woorde van velle kritiek wanneer hy per ongeluk sy vurk laat val of daar kos op die vloer mors.

Die vier jaar oue seuntjie het dit alles in stilte aanskou sonder om ‘n woord te sê.

Een aand voor aand ete merk die pa op dat die seuntjie op die vloer speel met twee ronde hout plankie en skuurpapier.
Liefdevol vra hy sy seun, “Wat is jy besig om te maak seun?” Net so liefdevol antwoord die seuntjie, “Ah, ek maak twee hout bordjies vir Pappa en Mamma om uit te eet vir wanneer ek groot is.” Die seuntjie glimlag en gaan ongesteurde voort met sy werkie.

Die woorde het die twee ouers stomgeslaan en hulle was sprakeloos terwyl die trane oor hul wange vloei. Alhoewel geen woord gespreek is nie het die twee presies geweet wat gedoen moet word.

Die aand neem die man oupa se hand sagkens en lei hom na die groot familie tafel
Vir die res van sy lewe het hy elke ete saam met die gesin geëet aan tafel en nie man of vrou het regtig omgegee as die vurk val of die ertjies uit die lepel rol of die melk op die tafeldoek mors nie. Dit was nie meer belangrik nie.

Ek het geleer dat afgesien van jou verhouding met jou ouers jy hul altyd sal mis wanneer hulle nie meer daar is nie.

Ek het geleer dat al het ek pyn, hoef ek nie een te wees nie

Tuesday, February 26, 2008

Ek het God Gevra

Ek het God gevra om my slegte gewoontes weg te neem.
God het gesê – Nee.
Dit is nie vir my om dit weg te neem nie, maar vir jou om dit prys te gee.

Ek het God gevra om my gestremde kind heel te maak.
God het gesê – Nee.
Sy gees is heel, sy liggaam is net tydelik.

Ek het God gevra om my geduld te skenk.
God het gesê – Nee.
Geduld is ‘n byproduk van verdrukking;
Dit word nie geskenk nie, maar aangeleer.

Ek het God gevra om my blydskap te gee.
God het gesê – Nee.
Ek gee jou seëninge; Blydskap berus by jou

Ek het God gevra om my pyn te spaar.
God het gesê – Nee.
Lyding neem jou weg van aardse sorge en bring jou nader aan My.

Ek het God gevra om my gees te laat groei.
God het gesê – Nee.
Jou moet by jouself groei!;
Maar Ek sal jou snoei om jou vrugtevol te maak.

Ek het God gevra om my alle dinge te gee sodat ek die lewe kan geniet.
God het gesê – Nee.
Ek sal jou lewe gee sodat jy al die dinge kan geniet.

Ek het God gevra om my te help om ander LIEF te hê soos Hy my lief het.
God het gesê – Ahhhh, uiteindelik begin jy te verstaan.

Wednesday, February 20, 2008

Die Boom


Ek het ‘n loodgieter gehuur om my te help met die herstel van my ou plaashuis. Dit was sy eerste werksdag op die plaas en alles wat verkeer kon gaan het behoorlik verkeerd gegaan; ‘n pap wiel het gemaak dat hy ‘n uur se werk verloor, sy elektriese boor het gebreek en sy antieke een ton trok het eenvoudig geweier om aan die gang te kom. Ek het hom maar huistoe geneem. Terwyl ons ry het hy in ‘n doodse stille verkeer.

By sy huis aangekom het hy my ingenooi om sy gesin te ontmoet. Terwyl ons aanstap na die voordeur het hy vir ‘n oomblik eers stil gestaan by ‘n klein boompie en die punte van die blare aangeraak. Toe hy die voordeur oopmaak was dit asof hy ‘n wonderbaarlike transformasie ondergaan. Sy gesig het gegloei van blydskap en hy het sy twee klein kinders vasgedruk en sy vrou ‘n soen gegee.
Agterna het hy saam met my na my motor gestap. Ons het verby die boompie geloop en ek kon my nuuskierigheid nie meer bedwing nie.
Ek vra hom toe oor dit wat ek gesien het hy vroeër gedoen het.

“Ah, dit is my bekommernis boom,” het hy geantwoord. “Ek weet ek kan nie help om moeilikheid by die werk te ondervind nie, maar een ding is verseker en dit is dat die moeilikhede nie in die huis hoort saam met my vrou en kinders nie.
So, dus hang ek hulle elke aand maar aan die boompie op wanneer ek by die huis kom en vra God om na die probleme om te sien. Dan in die oggend tel ek hulle weer op. Snaakse ding is,” glimlag hy, “is dat wanneer ek in die oggend uitkom om hulle op te tel is daar nie naastenby meer soveel soos wat ek gisteraand opgehang het nie.”

(Luk 8:14) En wat in die dorings geval het—dit is die wat gehoor het, en hulle gaan weg en word verstik deur die sorge en rykdom en genietinge van die lewe en dra geen ryp vrug nie.

Monday, February 18, 2008

Die Hospitaal Venster

Twee mans, beide van hulle ernstig siek het ‘n kamer gedeel in die hospitaal. Die een man kon elke middag vir ‘n uur regop sit in sy bed om die vog op sy longe te dreineer. Sy bed was langs die kamer se enigste venster. Die ander man moes die heeltyd plat op sy rug lê in die bed. Die mans het ure aaneen gesels oor hul vrouens, kinders, familie, hul huise hul werk, hul betrokkenheid in die weermag en waar hulle oral met vakansie was.

Elke middag wanneer die man in die bed by die venster regop kon sit het hy aan sy kamermaat beskryf wat alles kon sien wat buite aangaan.

Die man in die ander bed het begin te leef vir die uurtjie in die middag, want dit was sy kykie in die wêreld daar buite deur die oë van sy kamermaat. Die beskrywing van kleur en aktiwiteite daar buite het sy dag opgehelder.

Die venster het uitgekyk oor ‘n pragtige meer. Swane en eende het op die water gespeel terwyl die kinders hul klein seilbootjies laat vaar op die water. Jong verliefdes stap hand aan hand tussen die pragtige kleure spel van blomme in die park. In die vêrte kon jy die pragtige horison son met die son wat besig is om sy kop te laat sak agter die stads geboue.

Terwyl die man by die venster aan sy kamermaat al die dinge in die fynste detail beskryf het die man aan die anderkant van die kamer sy oë gesluit en in sy verbeelding die prentjies gevorm soos sy maat dit beskryf.

Een warm somermiddag het die man by die venster ‘n parade wat verby beweeg het aan sy maat beskryf.

Alhoewel die ander man nie die orkes kon hoor nie – kon hy dit sien in sy geestesoog soos sy maat dit in besonderse fyn detail beskryf.

Dae en weke het verby gegaan.

Een oggend, terwyl die dag suster water bring om hulle te bad, tref sy die lewelose liggaam van die man by die venster aan. Hy het rustig in sy slaap gesterf. Sy was baie hartseer en het die hospitaal portiere geroep om die liggaam te verwyder.

Toe die geleentheid hom voordoen het die ander man vir die suster gevra of hulle hom kan skuif na die bed by die venster. Die suster was maar te bly om hom te skuif en nadat sy seker gemaak het hy is gerieflik het sy geloop.

Stadig en met groot moeite en pyn het hy homself opgelig en gestut op een elmboog sodat hy weer sy eerste kykie kan kry na die wêreld daar buite.

Met groot inspanning het hy om so kon draai dat hy by die venster kon uitkyk.

Die venster het uitgekyk op ‘n soliede muur. Die man vra toe aan die suster wat sy oorlede vriend kon besiel het om sulke pragtige tonele daarbuite aan hom te kon beskryf terwyl jy niks behalwe die muur kon sien nie.

Die suster antwoord toe dat die man blind was en dat hy nie eens die muur kon sien nie.

Sy sê toe, “Miskien wou hy jou net bemoedig het.”

Les: Een van die mooiste karakter trekke van liefde is om ander te bemoedig en te vertroos terwyl jyself in pyn verkeer.

Friday, February 15, 2008

Die Perfekte Hart

Hierdie een is spesiaal vir my vriend Chris wat gister nie baie wel gevoel het nie - ek hoop dit gaan gou beter, ek glo jy sal die een kan waardeer. In ons gebede is jy opgedra aan Vader.

Eendag was daar ‘n jongman wat in die middel van die dorp gestaan het en aan almal wat daar verby gegaan het verkondig hoe pragtige hart het hy. ‘n Groot skare het om hom vergader en sy hart bewonder want dit was voorwaar perfek gewees. Daar was nie ‘n merkie op of enige gebrek daaraan nie. Ja, almal het saamgestem dit was die mooiste hart wat hulle nog ooit gesien het. Die jongman was baie trots en het net nog meer gespog oor sy pragtige hart.

Skielik, verskyn daar ‘n ou man wat sy pad deur die skare moes forseer om voor by die jongman uit te kom. “Jongman, maar jou hart is nie naastenby so mooi soos myne nie.” Roep die ou man uit. Die skare en die jongman kyk na die ou man se hart. Dit het baie sterk geklop maar was vol littekens, dit het plekke gehad waar stukke verwyder is en ander stukke ingelas is maar hulle het nie perfek gepas in die openinge nie en daar was verskeie rowwe kante. Inteendeel, was daar plekke waar daar diep skeure was waar die stukke skoon weg is.

Die skare staar – hoe kan hy sê sy hart is mooier as die jongman sin, wonder hulle? Die jongman kyk na die ou man se hart en sien die toestand daarvan en bars uit van die lag. “Oubaas, jy maak seker ‘n grap.” sê hy. “Vergelyk jou hart met myne, myne is perfek en joune is vol littekens en skeure, hoe kan jy die twee eens vergelyk met mekaar.”

“Ja,” sê die ou man, “Joune lyk perfek, maar ek sal nooit myne met jou hart verruil nie. Jy sien seun, elke litteken verteenwoordig ‘n persoon vir wie ek my liefde gegee het – ek skeur ‘n stukkie van my hart uit en gee dit aan hulle. Gereeld gee hulle ‘n stukkie van hulle hart aan my wat pas in die opening wat ek uitgeskeur het vir hulle, maar omdat die stukkies nie altyd perfek pas nie is die kante maar soms rof, maar dit vertroetel ek want hulle herinner my aan die liefde wat ons gedeel het. Party keer het ek ‘n stukkie van my hart weggegee maar die ander persoon het nie ‘n stukkie van sy hart teruggegee in ruil nie. Dit is die oop skeure – om liefde te gee is om ‘n kans te waag.

Alhoewel die oop skeure pynlik is, bly hulle oop, om my te herinner aan die liefde wat ek het vir die mense en ek bly steeds hoop dat hulle eendag sal terugkeer om die skeure te vul. Kan jy nou sien wat werklike skoonheid is jongman?”

Die jongman staan baie stil met trane wat afloop oor sy wange. Hy stap na die ou man toe, steek sy hand in sy perfekte pragtige hart en skeur ‘n stuk uit. Hy bied dit aan vir die ou man met bewende hande. Die ou man neem sy aanbieding aan en neem ‘n stuk van sy ou verflenterde hart en plaas dit in die wond van die jongman se hart. Dit pas, maar nie perfek nie omdat daar ‘n paar rowwe kante is. Die jongman kyk na sy hart, nie meer so perfek nie maar baie mooier as ooit tevore aangesien die liefde van die ou man se hart daardeur vloei. Hulle omhels mekaar en stap weg sy aan sy.

Hoe hartseer is dit tog nie om deur die lewe te gaan met ‘n perfekte hart wat nog geensins aangeraak is nie.
(1Kor 13:13) En nou bly geloof, hoop, liefde—hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde

Wednesday, February 13, 2008

Groot Voete en Groot Hart

Dit was ‘n buitengewone warm somersdag gewees. Dit het gelyk of almal verligting soek van die hitte op een of ander manier. Die roomys stalletjie was, in die hitte, die natuurlike stop plek vir ‘n ieder en ‘n elk.

‘n Klein meisietjie, wat haar geldjies styf vashou in haar hand, stap die roomys winkel binne. Voordat sy nog ‘n woord kon uiter jaag die winkel assistant haar uit om die teken buite op die deur te gaan lees en buite te bly totdat sy skoene aan haar voete het. Baie verleë en hartseer het sy stadig die roomys winkel verlaat terwyl ‘n groot man haar agtervolg uit die winkel.

Hy hou haar dop terwyl sy buite die winkel staan en die teken lees: “Geen kaal voete toegelaat nie”. Die traantjies het oor haar wangetjies begin rol terwyl sy wegstap van die winkel af. Dien groot man roep na haar om terug te kom. Terwyl hy op die sypaadjie sit trek hy sy paar no 14 skoene uit en sit hulle voor die meisietjie neer en sê: “Hier, klim in hulle in, ek weet jy sal nie met hulle kan loop nie, maar as jy met hulle so sleep sleep loop kan jy jou roomys gaan koop.”

Met die tel hy die meisietjie op en sit haar voete binne in sy skoene. “Vat jou tyd,” sê hy, “ek raak moeg om die hele tyd met my groot skoene te loop en dit sal lekker wees om net hier te sit en rus terwyl ek my roomys eet.” Niemand kon die meisietjie se glinsterende oë mis terwyl sy met die vreeslike groot skoene die winkel binne skuifel tot by die toonbank en haar roomys bestel nie.

Ja, hy was verseker ‘n groot man. Groot maag, groot skoene maar die meeste van als ‘n groot hart.