Wednesday, January 13, 2010

Tyd


’n Begrip waarom alles omtrent draai. “Tyd is kosbaar”, “Tyd is geld”, “Moenie my tyd mors nie”, “Tyd staan vir niemand stil nie”, so kan ons hulle maar opnoem, die een gesegde na die ander en daar is hordes van hulle.

Daar word vertel dat wetenskaplike navorsing bevind het dat tyd relatief tot mens se ouderdom is, met ander woorde hoe ouer jy word hoë vinniger gaan die tyd vir jou verby en hoe jonger hoe stadiger.
Daar is seker ’n mate van waarheid daarin, die van ons wat al so “bietjie ouer” is, sal daarvan kan getuig. Miskien is dit omdat meer as die helfte van ons verwagte leeftyd reeds verby is en daar is nog so baie wat mens graag wil doen.
Die probleem is dat ons seker al verby ons “best before” datum is ! ! !

Miskien is dit meer ’n sielkundige effek as enigiets anders, omdat elkeen wat oor vyftig is onbewustelik besef dat hoe ouer jy hierna word, jy op geleende tyd is. Dis bonus jare. Want wat is ons gemiddelde verwagting, sewentig ... tagtig jaar?
Die Woord antwoord vir ons hierdie vraag in Psalm 90:10 .....
“Die dae van ons jare—daarin is sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig jaar; en die uitnemendste daarvan is moeite en verdriet; want gou gaan dit verby, en ons vlieg daarheen.”
Van 0 tot 50 lyk nog baie vêr maar van 50 na 70 lyk baie kort en is verseker baie kort. Die vooruitsig van baie minder jare wat oorbly as die wat ons reeds geleef het, kan mens soms oorweldig en baie moeg en afgeleef laat voel. Sommige besluit dan ook sommer om maar die handdoek in te gooi en te leef soos hulle voel – oud en afgeleef.

In vandag se terme klink oor die vyftig glad nie so oud nie, veral vir die van ons wat daar is, gaan vra maar vir een van twintig is, hoe oud is vyftig ? Hmmm, moenie verbaas wees nie, die antwoord kan jou dalk bietjie vies maak. (Voel soms lus en wys hulle net hoe hard kan ’n ou toppie van in die vyftig nog klap – hehehe)

Maar soos met elke munt is daar twee kante aan die saak.

Gelukkig is daar ook die wonderlike kant, want vir die ware gelowige is dit nie ’n kwessie van verlore jare en afskeid van die aardse nie maar dis ’n weersiens na die wonderlike wat wag. Daar is ’n afwagting want die tyd raak min wanneer ons, ons “Geliefde” sal ontmoet.

Vir my is die lekkerste van alles .... die geestelike groei in die latere jare is fenominaal in vergeleke met die jonger jare. Daar is ’n dringendheid om ons Geliefde Vader intens te leer ken. Ek wil naby aan Hom wandel. Ek wil doen wat voor Hom welbehaaglik is. Daar is ’n besef dat my lot, my ewigheid, in Yahweh se Hand is en dat ek wil terugkeer na waar ek vandaan kom ....... na my Vader se Huis.

Die ander wonderlike moontlikheid is dat ons nog die koms van ons Geliefde kan sien op die wolke kom. Watter wedervaring sal dit nie wees vir die kind van die Almagtige nie. Ek is net bevrees dat die wat nie vir Vader ken nie sal dit nie ’n blye gesig wees nie.

So, as ek alles teen mekaar moet opweeg, ten spyte van tyd wat vinnig uitloop, is dit ’n baie goeie tyd in die mens se lewe.

Daar is net altyd een ding waaroor ek vandag baie spyt is en dit is dat die liefde en nabyheid wat ek vandag met Vader ervaar ek graag sou wou ervaar van kleintyd af, hoeveel groter sou my liefde en nabyheid aan Vader vandag nie gewees het. Geestelik sou ek al ’n baie groter wasdom bereik het.
Ja, tyd gaan vir my te vinnig verby, want daar is soveel wat ek van Vader wil leer en die tyd is te min om die grote Almag van Vader in hierdie korte aardse bestaan werklik te leer ken.

Ongeag die spyt wat altyd te laat is, is ek bly oor die tyd wat Vader my vergun om Hom te leer ken en elke dag te groei in Sy Liefde.
Hetsy tyd vinnig of stadig gaan vir jou, gebruik elke oomblik om jou te omvou in die liefde van ons Koning want wie van ons weet wanneer môre te laat is.

No comments: