Friday, January 22, 2010

Geheime Agente.


’n Groot gedeelte van die “Christendom” soos ons dit vandag ken, het van “geloofs beroep” verander. Baie was gewone burgers wat vry kon praat en getuig van hul geloof in die Lewende God.
Maar ongelukkig het die wêreld so verander dat gewone “geloofs burgers” nie meer baie welkom is in verskeie plekke, samekomste en vergaderings nie.

Derhalwe het ’n klomp van die gewone “geloofs burgers” besluit dat dit baie beter is vir hul eie heil om geheime agente te word vir die geloof.

Die probleem het ontstaan dat oral in die wêreld het dit onvanpas geraak om te getuig van die Lewende Almagtige God, Yahweh, want die mense moet onthou dat daar nog baie ander gelowe is met hul eie gode (afgode) en dit is baie ongeskik om hulle nie in ag te neem nie. Dit word beskou as ’n onverdraagsaamheid wat met tyd ’n strafbare oortreding sal word. (in sommige lande is dit al.)

Soos gewoonlik het die “Christene” (ek plaas Christene in aanhalings want sommige mense glo dat alle mense wat glo in ’n god ’n christen is. Ek self verkies eerder die beskrywing, kinders van die Almagtige) besluit dat die woord - naasteliefde - ook van pas is vir dié wat afgode dien en dat ons hulle en hul afgode behoort te omhels want dan bewys ons regtig wat naasteliefde is. Ongelukkig is die voorstanders van die “maak- nie-saak-watter-god-jy dien-naasteliefde” juis die wat die leiding behoort te gee aan hul mede broers en susters.
Maar helaas het baie broers en susters besluit om nie meer vir hulself te dink nie (ten opsigte van geloof) en laat die prediker vir hulle dink en besluit.

Ek kon dit nog nooit verstaan hoe dit moontlik is dat mense beheer van hul eie lewe wil hê, hulle wil besluit waar hul bly, werk, gaan vakansie hou en hoe hul wil lewe, maar wanneer dit by hul ewige lewe kom, dan kan hy of sy geen besluite neem, wil nie standpunt inneem nie en laat toe dat ’n prediker vir hom al die besluite neem wat hom of haar van haar ewige lewe kan beroof.

Het die mens se geestelike oë so blind geraak dat hy nie verder kan sien as die materiële nie? Dis asof sy verstand en wese vasgevang is in hierdie wêreld en geen ag slaan op dit wat gebeur na hierdie kort tydelike bestaan nie.

Dit is ook so dat baie van die werkgewers en besighede waar die “Christene” werk nie wil hê dat hulle werknemers moet getuig van hul ware geloof nie, want dit is sleg vir besigheid en verdryf afgode-dienende kliënte of dit gee aanstoot aan ander nie-gelowiges.
Erger nog is die wat besluit hulle sal self teenoor vriende en familie niks getuig nie, want netnou veroorsaak dit ’n getwis wat baie onsmaaklik kan raak en groot vyandskap kan bewerkstellig tussen families. Dit is so belangrik om te onthou dat daar ’n verskil is tussen getuig en oortuig. Ons roeping is om te getuig van die Almagtige wat ons aangeneem het in Sy wonderlike liefde. Die Heilige Gees is die Een wat die oortuig werk doen.

Daar is net twee keuses wat ons kan maak, die een is, kom wat wil, ek sal getuig van die Lewende Almagtige God en die gevolge dra vir my getuienis, hetsy vervolging of verwerping en die ander is om ’n geheime agente te word vir die geloof.

Alhoewel die gevoel bestaan by die mense dat hulle geheime agente vir die Koninkryk is, is hul totaal verkeerd oor hul affiliasie. Hulle is agente vir twee welbekende organisasie naamlik die CIA of FBI. Dit kan soms gebeur dat hulle vir een of beide partye werk.

Wie is die twee sal jy vra? kom ek verduidelik:
Die CIA is Christene in Afdwaling en FBI is False Believers Incorporated.

Daar is geen manier wat enige ware kind van Vader ’n geheime agent vir die Koninkryk kan wees nie. Vader het sy aangesig nog nooit vir Sy kinders verberg en doen nie dinge in die geheim nie. Sy opdrag is dan ook dat ons, ons lig in die wêreld moet laat skyn. Die lig is die lig van Yahweh wat in ons harte brand.

Mat 5:14 Julle is die lig van die wêreld. ‘n Stad wat bo-op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie;
Mat 5:15 en ‘n mens steek ook nie ‘n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is.
Mat 5:16 Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.


Tye sal daar sekerlik kom wanneer ons beproef sal word of ons ware gelowiges is of geheime agente. Waak net dat jy nie so geheime agent is dat wanneer jy die dag vir Vader vra, “Ken U my dan nie? dat Hy nie dalk vir jou sê, “Jy was so geheim dat ek jou glad nie geken het nie.”

No comments: