Wednesday, January 20, 2010

Die Skrynwerker se Huis


’n Bejaarde skrynwerker het op die punt gestaan om af te tree. Hy het sy werkgewer meegedeel van sy planne om af te tree en die huis bouery heeltemal te laat vaar. Hy wil sy oudag bietjie rustiger vat en dit saam met sy vrou en kinders geniet.

Hy sal die geldjie aan die einde van elke maand mis, maar dit is tyd om af te tree. Hulle sal oorleef van die geldjie wat hy opsy gesit het vir sy oudag. Die werkgewer was baie jammer om te verneem van sy planne om af te tree maar vra hom of hy nie net nog een huis wil bou, as ’n persoonlike guns nie. Die skrynwerker het ingestem, maar dit het gou duidelik geword dat sy hart nie in sy werk was nie. Die vakmanskap was baie swak en hy het van minderwaardige materiaal gebruik gemaak. Dit was ’n ongelukkige laagtepunt om sy loopbaan af te sluit.

Nadat die skrynwerker klaar was met die huis het die bestuurder gekom om na die huis te kyk. Die bestuurder het aan die skrynwerker die sleutel van die voordeur oorhandig. “Dit is jou huis, ons geskenk aan jou vir al die jare diens.” het die bestuurder gesê.

Wat ’n skok ! Wat ’n jammerte ! As hy maar net geweet het dat hy besig was om aan sy eie huis te bou, sou hy alles so anders gedoen het. Nou moet hy in die huis bly wat hy so swak gebou het met minderwaardige boumateriaal.

So is dit ook met ons. Ons bou ons lewens asof ons aandag nie daarby is nie, ons reageer in plaas daarvan om proaktief te wees. In sit alles behalwe ons beste daarin. Wanneer dit die nodigste is dan gee ons nie altyd ons beste nie. Dan met ’n skok kyk ons terug na die situasie wat ons geskep het en besef dat ons nou in die “huis” bly wat ons gebou het. As ons besef het wat die uiteinde gaan wees dan sou ons dit heeltemal anders gedoen het.

Dink aan jouself as die skrynwerker. Dink aan jou huis wat jy bou. Elke dag kap ons ’n spyker in, bou ’n muur, sit ’n dakkap op. Bou met wysheid. Dit is die enigste lewe wat jy ooit sal bou.

Die lewe is ’n doen-dit self projek. Jou lewe môre is die resultaat van jou keuses en optrede vandag.

2 comments:

Irma said...

Ek het 'n variasie van hierdie storie 38jr gelde by die Kinderkrans gehoor. Dit het 'n geweldige indruk op my gemaak, en dink dikwels hieraan. groete Irma

Gelofteboer said...

Altyd wonderlik hoe sekere verhale ons bybly en dat dit vir ons voortdurend 'n les is. Daardie spesiale verhale bly mens by asof die persoon dit gister vir mens vertel het.
Groete
GB