Thursday, October 22, 2009

Sien Jy Straf of Groei ?


Die mens met sy natuurlike geneigdheid na die sonde en die jare lange kondisionering van – “vir elke oortreding is daar straf” - het gemaak dat ons so dikwels ontneem word van die mees ongelooflike geleenthede om te groei in die gees.

Wanneer daar groot probleme en moeilikhede op ons pad kom is ons eerste reaksie gewoonlik – “Wat het ek gesondig dat dit nou met my of ons moes gebeur?”
Ons gaan soek eerste die skuld by God, want die natuurlike reaksie is dat Vader ons nou weer straf vir een of ander iets wat ons verkeerd gedoen of gesondig het. Intense self ondersoek volg hierna om te bepaal watter van my verkeerde optrede het aanleiding gegee tot dit wat nou met my gebeur het.

Ervaar jy dieselfde wanneer die moeilikhede jou tref ?

Die moeilikhede is soms soos ’n enorme groot magneet wat al die geestelike krag wat daar in jou is, met een slag opslurp sodat jy leeg en weerloos voel. Dit voel of jou gebede net tot by die plafon van jou binnekamers strek en nie kan uitkom tot by die ore en hart van Vader nie. Die probleme raak so groot berg dat ons nie daarby verby kan kyk en die Genade van ons Almagtige God kan raaksien of self Sy stem kan hoor nie.

Die ander benadering wanneer die lewens storms teen ons woed is om eerder te konsentreer op die geleentheid wat daardeur geskep word.

Watse geleentheid sal jy miskien vra ?

Die geleentheid om geestelik te groei, om op te hou vra – wat het ek verkeerd gedoen om die straf te verdien ? – maar om eerder te vrae, watter geleenthede skep die probleme om geestelik te groei.

Ons lewe moet nie stagnant bly na ons redding nie maar ons moet groei, ons moet groot word in die geloof. Ons kan nie die hele tyd tevrede wees om soos ’n baba in doeke te bly, om gevoer en skoongemaak te word nie. Ons moet leer om groot te word in die geloof, om te wandel, om te hardloop, om te spring en om die stryd te stry. Indien ons dit nie kan doen nie het ons misrabelik gefaal in die roeping wat Vader aan ons gegee het. Geestelik sal ons armsalige babas in die geloof bly as ons nie geleenthede vir groei en beproewing aangryp nie. Slegs stryders kan die stryd voer, nie babas nie, hulle is nog nie sterk genoeg nie.

Job, bly vir my seker een van die mooiste verhale met een van die mees belangrikste lesse. Te midde van al sy beproewing het hy nooit Vader verwyt nie maar hy het net bly groei in die geloof en sterker geword. Presies die teenoorgestelde wat satan wou vermag het. Hy het aangehou met die wedloop en wanneer hy val het hy weer opgestaan maar nooit sy vertroue in die Almagtige verloën of verloor nie.

Ons Verlosser het klaar vir ons oortredinge betaal, Hy het die straf vir ons oortredinge gedra.

Nou bly daar net een vraag oor vir jou om te antwoord.

Sien jy straf of groei ? ? ? en Wat gryp jy aan ? ? ?

No comments: