Wednesday, October 28, 2009

Klip Sop


Eendag lank gelede het drie soldate, honger en uitgeput van die oorlog, op ’n klein dorpie afgekom. Die dorpie was vêr afgeleë van die beskawing en die oorlog het ook sy merk op die dorpie gelaat.
Die inwoners, wat daardie jaar maar ’n baie swak oes gehad het en baie swaar gekry het vanweë die oorlog, het vinnig die bietjie kos wat hulle nog beskikbaar gehad het, gaan versteek. Hulle het die drie soldate ontmoet op die dorps plein en met vreeslike jammer klagtes hulle lot beklae dat hulle niks het om te eet in die dorp nie.

Die drie soldate het vinnig kajuitraad onder mekaar gehou en die eerste soldaat gaan praat met die oudstes van die dorpie. “Julle uitgeputte en verwoeste landerye het aan julle niks opgelewer om te deel met ander nie, daarom sal ons die bietjie wat ons het met julle deel, die geheim om sop te maak van klippe.

Die inwoners was vreeslik gefassineerd en sommer gou was ’n vuur aan die gang met die dorp se grootste pot op die vuur, gevul met lekker vars fontein water. Terwyl die water stadig begin te koop plaas die tweede soldaat drie gladde klippe in die pot en merk op, “Die gaan ’n baie lekker sop wees, maar ’n knippie sout en bietjie pietersielie sal dit wonderlik maak !”
Skielik spring een van die inwoners op en roep uit, ”Wat ’n geluk, ek onthou nou net dat ons nog so bietjie sout en pietersielie oor het !” en hardloop huis toe. Sy keer terug met haar voorskoot vol pietersielie, hand vol sout en nog ’n raap ook.
Soos wat die water al hoe meer begin te kook, hoe beter raak die geheue van die inwoners en elkeen “onthou” skielik van ’n ietsie wat hy het wat by die sop gevoeg kan word soos gort, wortels, bietjie vleis en room.
Kort voor lank “onthou” iemand van ’n vaatjie wyn wat dalk iewers nog in ’n kelder kan wees en die vaatjie word na die dorps plein gerol en almal neem plaas vir ’n feesmaal.

Hulle het behoorlik geëet, gedans en gesing tot laat in die nagtelike ure, verfris deur die heerlike fees en hul nuut gevonde vriende.
Die volgende oggend terwyl die soldate ontwaak kom al die inwoners van die dorpie na hul aangestap. Voor hulle plaas hulle ’n mandjie gevul met van die dorp se beste brood en kaas.
“Julle het aan ons die grootste geskenk gegee, die geheim om sop te maak van klippe,” sê een van die dorp se oudstes “en ons sal dit nooit vergeet nie.”

Die derde soldaat draai na die inwoners en sê, “Daar is geen geheim nie, maar weet dit, ’n fees is net moontlik wanneer daar met mekaar gedeel word.” en die drie soldate vertrek vêrder op hul reis.

Steek jy ook vandag weg die bietjie wat jy het of deel jy met ander om ’n fees te skep?