Friday, October 2, 2009

Karakter of Reputasie ?


Karakter of reputasie. Wanneer ons die twee woorde bymekaar sien dink ons soms onwillekeurig dat die twee saam hoort, jy kan nie die een hê sonder die ander nie en hulle kan nie van mekaar geskei word nie.

Reputasie in ’n neutedop is wat ander mense rondom ons van ons dink. Dit is in werklikheid die opinie wat ander mense van ons het betreffende wie en wat ons is en die motiewe wat hulle glo ons het om dinge te doen soos ons dit doen.

Ons kan ’n “goeie” reputasie of ’n “swak” reputasie hê. Alhoewel ons moet besef dat beide van dié relatief is en dat ’n “goeie” of “swak” reputasie is slegs die opinie van die beoordelaar.

Baie meer waardevol is ons Karakter. Karakter in ’n neutedop is wie ons is wanneer niemand ons gewaar of sien nie. Dit is nie slegs die gesig in die spieël nie, maar die “gesig agter die gesig”.

’n Persoon wat sy lewe vir Yahweh gegee het en so van Vader se karakter eienskappe ontvang het, is iemand wat vas kan bly staan wanneer die storms van valse aantuigings, insinuasies, naam skending en verkleinering in felheid teen hom aanstorm. Hulle bly rotsvas te midde van al die aanslae en alhoewel hulle die pyn in hul harte ervaar en dit ook baie werklik is vir hulle, gee hulle nie moed op nie en kan die depressies en hartseer hulle nie oorwin nie.

Josef was valslik beskuldig deur Potifar se vrou in die Ou Testament. Josef was gestroop van sy belangrike en hoë posisie in Potifar se paleis en in die gevangenis gewerp. Ons kan sê dat sy “reputasie” vernietig was. Hy het 12 jaar in die gevangenis deurgebring, die “slagoffer” van ongegronde beweringe. Maar te midde van alles het sy karakter sterk gebly!

Selfs in die gevangenis het hy nie toegelaat dat hy wegkwyn in verbittering of planne beraam om wraak te neem op die wat hom kwaad aangedoen het nie. Hy het geweet dat sy dag sal kom, dat geregtigheid sal seëvier. Karakter ken nie tyds beperkinge nie.

Soos jy weet, het Josef se dag wel aangebreek en hy was tweede in bevel van die hele Egipte en kon hy die reddings werk waarvoor hy bestem was vir sy volk volbring deur die voorsiening van voedsel tydens die groot hongersnood.
Karakter laat hom nie pootjie deur die huidige omstandighede nie maar sien die moontlikhede van môre en die dag daarna.

Reputasies kom en gaan. Karakter sal jou staande hou deur die storms.
Ontwikkel karakter en dit sal jou nooit beskaam laat nie.

No comments: